‘N MAKLIKE BYBELSTUDIE-METODE VIR BEGINNERS

Ons almal weet Bybelstudie is iets wat ons moet doen, maar meeste van ons doen dit nie, omdat ons nie weet hoe nie.

Daar is sommer ‘n hele klomp verskillende maniere of metodes wat jy kan gebruik. Sommige is lekker maklik en jy het nie ‘n lang tyd nodig om iets uit die Bybel te leer nie. Dis metodes soos die SOAP-metode, die APPLE-metode of die BAAT-metode. Elkeen van die metodes is ‘n akroniem waar elke letter staan vir ‘n stap wat jy volg.

Dan is daaroor metodes wat ‘n bietjie meer om die lyf en ook langer vat om te doen. Sulke studies sluit dinge soos ‘n karakterstudie, ‘n agtergrondstudie, of ‘n temastudie in.

Vandag gaan ons gesels oor ‘een van die ‘n maklike Bybelstudie-metode vir beginners. Dis ideaal om te probeer as jy nog nooit voorheen Bybelstudie gedoen het nie en dit graag wil probeer.

Vir hierdie metode gaan jy jou Bybel, ‘n notaboek of joernaal en ‘n pen nodig hê. Nadat jy alles bymekaar gekry het, gaan jy die volgende sewe stappe volg.

Maklike Bybelstudie-metode vir beginners

As jy nog nie voorheen Bybelstudie gedoen het nie, is dit ‘n goeie idee om ‘n Bybelstorie te kies om te studeer.

Of jy kan ‘n gedeelte uit een van die briewe in die Nuwe Testament kies. Maak net seker die gedeelte is nie te lank nie.

‘n Mens begin nooit ‘n Bybelstudie sonder om eers vir die Here te vra om jou te help nie. Jy het Sy hulp nodig om te verstaan wat in die Bybel staan en hoe verskillende gedeeltes met mekaar verband hou. So, word eers stil en vra die Here om jou tyd in Sy Woord te seën en om jou te help om die waarhede wat jy vandag moet raaksien, raak te sien.

Lees dan die gedeelte wat jy wil studeer ‘n paar keer deur.

Moenie te vinnig lees nie. Dis veral maklik om te vinnig deur ‘n gedeelte wat ‘n mens goed ken, te lees. So lees die gedeelte dus stadig deur.

Jou volgende stap is om in jou eie woorde te verduidelik waaroor die gedeelte gaan. Moenie probeer verduidelik wat die gedeelte beteken nie. Skryf net neer wat in die gedeelte gebeur of som die boodskap van die gedeelte in jou eie woorde op.

Die Bybel is, anders as wat meeste van ons dink, nie ‘n boek oor ons nie. Dis ‘n boek oor God. Die volgende stap is dan om te kyk wat die gedeelte oor God leer.

As jy tyd het, kan jy kan hierdie stap ‘n bietjie verder vat. Jy kan kyk na hoe dit wat jy in die gedeelte oor God geleer het, inpas by die groter prentjie van die Bybel.

Onthou om alles wat jy leer, in jou notaboek neer te skryf.

Hoewel die Bybel nie regtig oor die mens gaan nie, is daar tog baie wat ons oor die mens daaruit leer. Ons leer byvoorbeeld wat God se plan met die verlossing van die mens is. Ons leer ook hoe God wil hê ons as mense moet optree en nié optree nie, om maar ‘n paar dinge te noem.

Die volgende stap is om te kyk wat die gedeelte jou oor die mens leer. Jy kan hier ook dieselfde doen as in die vorige stap. Hoe pas dit wat jy nou oor die mens geleer het, in by die groter storie van die Bybel?

Moenie vergeet om dit neer te skryf nie.

Bybelstudie help nie veel as ‘n mens nie dit wat jy geleer het, in jou lewe begin toepas nie. Die volgende stap is dus om te vra hoe jy dit in jou lewe kan toepas.

Hier is ‘n paar vrae om jou daarmee te help:

Hoe moet jou lewe verander as gevolg van wat jy geleer het? Moet jy iets glo, wat jy tot dusver nie geglo het nie? Moet jy anders begin dink of optree?

Wat is die belangrikste ding wat jy uit die gedeelte geleer het? Verander dit hoe jy God sien? Of dalk hoe jy jouself of ander sien?

Skryf neer hoe jy dit wat jy geleer het, kan toepas. Soms gaan jy dadelik weet hoe jy dit wat jy geleer het, kan toepas. Ander kere gaan dit dalk nie so maklik wees nie. Maak dus ook hier ‘n punt daarvan om die Here te vra om jou te help om die regte toepassing raak te sien.

‘n Mens onthou dinge wat jy leer beter wanneer jy dit neerskryf. Jy onthou dit nog beter wanneer jy dit met iemand anders deel. Kies dus iemand vir wie jy gaan vertel wat jy geleer het en deel dit so gou as moontlik met hom of haar.

Dis nog ‘n beter idee om sommer met ‘n hele paar mense te praat oor wat jy geleer het. ‘n Mens weet nooit wie ook die boodskap, wat jy in jou Bybelstudietyd gekry het, moet hoor nie!

Hierdie sewe stappe gaan jou help om te begin om Bybelstudie te doen. Jy kan altyd later meer stappe byvoeg om jou te help om meer te leer. Maar begin vir eers net met hierdie stappe sodat jy in die gewoonte kan kom om op ‘n gereelde basis Bybelstudie te doen.

En moenie moed verloor as jy nie dadelik alles wat jy lees en studeer, verstaan nie. Hou maar net aan om gereeld Bybelstudie te doen. Onthou ook om elke keer die Here se hulp, leiding en wysheid te vra.

Hoe meer jy tyd saam met Hom in die Woord spandeer – of dit nou in jou stiltetyd of Bybelstudietyd is – hoe meer gaan jy agterkom dat dit jou lewe verander en jou verhouding met Hom verdiep. En is dit nie wat elkeen van ons graag wil hê nie?

GEESTELIKE DISSIPLINES: GROEI GEBEUR NIE VANSELF NIE

MAAK STILTETYD EEN VAN JOU GEESTELIKE DISSIPLINES

HOE OM BYBELVERSE TE MEMORISEER

SABBATSRUS: HERSTEL GOD SE RITME IN JOU LEWE

WAAROM JY ‘N GEESTELIKE JOERNAAL MOET HOU

GEBED AS GEESTELIKE DISSIPLINE: WORD MEER SOOS JESUS

OORDINK DIE WOORD EN VERDIEP JOU STILTETYD

HOE OM JOU DAG SAAM MET GOD TE OORDINK

ALLEEN SAAM MET DIE HERE

HOE OM ANDER EERSTE TE STEL

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *