Geestelike dissiplines is eenvoudige gewoontes wat jou help om stil te word voor die Here sodat jy na Hom kan luister en geestelik kan groei.
In ‘n wêreld wat ons aanhoudend aanjaag en elke oomblik van ons aandag probeer steel, gebeur geestelike groei nie sommer net vanself nie. Dis nie iets wat net gebeur omdat jy ‘n Christen is nie. Nee, geestelike groei vra iets van jou. Dit vra jou tyd, jou aandag, jou hart.
Dink aan ‘n tuin. As jy wil hê daar moet blomme of vrugte wees, moet jy dit versorg. Jy moet onkruid uittrek, water gee, snoei en soms wag. Net so is dit met jou verhouding met Jesus. Ons harte het versorging nodig, en dis waar geestelike dissiplines inkom.
Maar kom ons wees eerlik: die woord dissiplines kan klink soos ‘n lys reëls wat jy moet nakom om die Here se liefde te verdien. Gelukkig is dit glad nie wat dit beteken nie. Geestelike dissiplines is nie ‘n manier om God te beïndruk nie. Dis eenvoudige, doelbewuste gewoontes wat jou help om stil te word voor die Here, Sy stem te hoor en in Sy teenwoordigheid te leef. Dis maniere waarop jy jou hart oopmaak vir Sy leiding en liefde.
Hier is ‘n paar geestelike dissiplines wat gelowiges al vir eeue gebruik om nader aan die Here te leef en geestelik te groei.

STILTETYD.
Dis daardie spesiale tyd elke dag waar jy saam met die Here sit, Sy Woord lees, en met Hom praat in gebed.
Dit is waar verhouding begin – nie met iets groots of indrukwekkends nie, maar met eenvoudig stil wees by Jesus.
OORDINK DIE WOORD.
Hierdie is wanneer jy stadig, met aandag, oor ‘n vers of gedeelte nadink. Dis om dit amper te “herkou” sodat jy dit toelaat om jou hart en denke te vorm.
Dit gaan nie oor hoeveel jy lees nie, maar wat jy toelaat om in jou hart wortel te skiet.
SELFONDERSOEK.
Almal van ons moet so van tyd tot tyd selfondersoek doen. Dis nou die gewoonte om eerlik voor God te wees en Hom te vra “Here, wys my of daar iets in my lewe is, wat nie reg is nie.”
Jy kyk na jou motiewe, jou woorde, jou gesindheid, jou dade, jou denke en vra dat die Heilige Gees jou wysheid en insig gee in wat regtig in jou binneste aangaan.
BELYDENIS.
Dié een sluit aan by die vorige een. Wanneer die Here vir jou iets in jou lewe wys wat nie reg is nie, dan bring jy dit voor Hom.
Die idee is nie om met skuldgevoelens te kom nie, maar met ‘n opregte hart wat die regte pad saam met die Here wil stap.
DIENSBAARHEID.
Dit is die keuse om ander lief te hê deur praktiese diens, sonder dat jy iets terug verwag. Jesus het vir ons die voorbeeld gestel van hoe om dit te doen en nou kies ons om daardie voorbeeld van nederigheid en liefde na te volg.
Onthou, diens is ‘n manier van leef wat wys wie jou Meester is.
GEMEENSKAP (FELLOWSHIP).
Ons is nie gemaak om alleen te groei nie. Wanneer jy saam met ander gelowiges tyd spandeer – saam leer, saam bid, saam lag – dan groei jy.
Jy word versterk en jy help ander groei ook.
SABBATSRUS.
Hierdie is die gewoonte om een dag ‘n week opsy te sit om te rus, te aanbid, jou batterye bietjie te herlaai en te onthou dat jou waarde nie in jou werk of prestasies lê nie, maar in jou identiteit in Christus.
Rus is ook ‘n vorm van vertroue, dat die Here die wêreld kan dra, selfs as jy stilsit en tot rus kom.
GEHOORSAAMHEID.
Dit is die eenvoudige, maar kragtige daad om te doen wat die Here sê, al verstaan jy Sy opdragte dalk nie altyd ten volle nie.
Dis wanneer jy gehoorsaamheid dat jy Sy wysheid en getrouheid ontdek, een tree op ‘n slag.
BYBELSTUDIE.
Die goed om jou Bybel te lees, maar jy moet dit ook studeer en regtig soek na die betekenis van dit wat in die Woord staan.
Jy doen dit deur vrae te vra, dieper te delf, en te leer hoe om toe te pas wat jy ontdek. Dis waar waarheid jou vorm en jou laat groei.
VRYGEWIGHEID.
Wanneer jy jou geld, tyd en hulpbronne in die Here se hand plaas, gebruik Hy dit om ander te seën. En in die proses, vorm Hy jou hart ook.
TEN SLOTTE.
Geestelike dissiplines is nie die einddoel nie. Dis uitnodigings tot ‘n dieper, ryker lewe saam met Jesus. Dis klein keuses, dag na dag, wat jou help om Sy stem duideliker te hoor, Sy vrede meer te ervaar, en Sy liefde sigbaar te leef.
As jy meer as net ‘n oppervlakkige geloof wil hê en regtig wil groei in jou verhouding met die Here, dan is hierdie reis vir jou. En jy hoef dit nie alleen te stap nie.
Hierdie artikel is die begin van ‘n reeks artikels waar ons die verskillende geestelike dissiplines van nader gaan bekyk. Ons gaan leer hoe om hulle in ons daaglikse lewens te gebruik om aan ons verhouding met die Here te werk. Dis in Sy Teenwoordigheid waar geestelike groei plaasvind en ons meer soos Jesus word!
ANDER ARTIKELS IN DIE REEKS.
MAAK STILTETYD EEN VAN JOU GEESTELIKE DISSIPLINES
