Die Storie

Welkom by Nader In Eenvoud!

Dit is vir my so ‘n voorreg om jou te ontmoet.

En, aangesien dit die eerste keer is wat ons ontmoet, laat ek myself aan jou voorstel.

My naam is Risa (soos Lisa, net met ‘n R). 

Ek dink toe God my gemaak het, het Hy na my gekyk en by Homself gedink, ‘Ek gaan vir hierdie een ‘n liefde vir woorde en boeke gee, en Ek mag dalk selfs vir haar die gawe gee om te kan skryf.’ En dit is presies wat Hy gedoen het.

Jy sien, ek kan net nie genoeg van woorde kry nie. Gee vir my ‘n boek en ‘n plek waar ek dit rustig kan sit en lees, en ek is gelukkig. Of, as jy wil, gee vir my ‘n pen en papier (of ‘n rekenaar!) en ek is nog gelukkiger.

En dan is daar natuurlik my groot liefde vir die Woord van God. Wanneer ek dáármee besig is, is ek op my gelukkigste!

DIE BEGIN VAN NADER IN EENVOUD.

Ek het eenkeer ‘n preek gelees oor Johannes 21, waar Jesus vir Petrus gevra het of hy Hom liefhet. Die eerste keer, nadat Petrus geantwoord het dat hy Jesus liefhet, het Jesus vir hom gesê, “Laat My lammers wei.” (Die preek was in Engels, so daar het gestaan ‘Feed My lambs.’) En die derde keer het Hy gesê, “Laat My skape wei.” (Of in Engels, ‘Feed My sheep.’)

Toe word die vraag gevra: “Wat doen jy om die lammers en skape van Jesus te laat wei?” (Engels: ‘What are you doing to feed the lambs and sheep of Jesus?’)

Aangesien ek nie ‘n idee gehad het wat ek doen om Jesus se lammers en skape laat wei en sodoende te voed nie, het ek die Here gevra om my te wys wat Hy wil hê ek moet doen om hierdie opdrag uit te voer.

Ek het meer as een antwoord gekry, maar die idee om ‘n webblad te begin, was een van hulle.  

Ek beskou myself nog glad nie as ‘n uitmuntende skrywer nie – het nog baie om te leer! – maar aangesien die Heilig Gees alles weet, vra ek Hom elke dag om my te help en my die woorde te gee wat ek vir jou moet skryf.

Noudat ons mekaar so ‘n bietjie beter ken, wil ek jou graag meer van Nader In Eenvoud vertel.

MEER OOR NADER IN EENVOUD

Jesus het nooit gesê ‘n verhouding met die Vader is veronderstel om ingewikkeld te wees nie. Dit is óns wat dinge vir onsself moeilik maak, en ‘n verhouding met God meer ingewikkeld maak as wat dit hoef te wees.

By Nader In Eenvoud is my doel om jou te help om ‘n verhouding met God te bou deur dinge eenvoudig te hou. Ons doen dit op vier maniere:

ONS FOKUS OP JESUS.

Nader in Eenvoud - fokus op Jesus

‘n Vaste geloof en vertroue in Jesus as Seun van God en persoonlike Verlosser is stap een.

Hier gesels ons oor Jesus en leer Hom op ‘n meer intieme manier ken.

Ons leer ook saam hoe om die oë op Jesus gefokus te hou, en tot die Vader te nader deur Hom.

Ook leer ons wie ons in Hom is, en wat ons alles het omdat ons mede-erfgename met Hom is.

ONS FOKUS OP DIE WOORD.

Nader in Eenvoud - fokus op die Woord

‘n Goeie kennis van die Woord is stap twee.

Ons stap saam deur die Bybel en laat God toe om dit te gebruik om ons meer soos Jesus te maak en ons geestelik te laat groei.

Verder word ons stil met Sy Woord sodat Hy ons kan bemoedig en versterk, ons kan teregwys en help wanneer ons op ‘n dwaalspoor is, en ons die waarheid kan leer sodat ons nie vir die leuens van die duiwel val nie.

ONS FOKUS OP PRAKTIESE RAAD.

Nader in Eenvoud - fokus op praktiese raad

Praktiese raad is stap drie.

In Jakobus 2:17 lees ons: “So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood.”

Dit help nie ons sê dat ons vir Jesus as Verlosser ken, of dat ons alles weet wat in die Woord staan, as dit nie oorgaan in dade nie.

Ons moet prakties gaan uitleef wat God ons leer.

Op die blad leer ons ook saam met mekaar hoe om die verskillende dinge wat ons leer, prakties in ons eie lewens uit te voer.

EN NOG MEER.

Dan is daar ook dié dinge waaroor ‘n mens moet praat, maar wat nie altyd in een van die ander kategorieë val nie.

EK WIL GRAAG DIE PAD SAAM MET JOU STAP

Dit sal vir my ‘n voorreg wees om jou te help om jou verhouding met God te bou. Kom ons leer saam meer oor Hom, Sy Woord en hoe ons ‘n verhouding met Hom kan bou deur dit te bou op Jesus en die Woord.

Teken in vir Nader In Eenvoud se weeklikse nuusbrief, en ek stuur dadelik vir jou die wagwoord sodat jy toegang kan kry tot die Bybel Biblioteek. Dit is vol allerhande interessante hulpmiddele is wat jou gaan help wanneer jy die Bybel lees en bestudeer. Daar is middele wat jou kan help in jou gebedslewe en ook dinge wat jou sommer net aan God se nabyheid en liefde sal herinner.

My vertroue is dat Nader In Eenvoud jou nader aan Jesus gaan bring, jou gaan help om Hom beter te ken, en ook om jou die nodige hulp te gee om jou verhouding met Hom te bou, deur dinge eenvoudig te hou.