Meeste van ons dink gebed is iets wat ons doen wanneer ons iets van God nodig het. Maar gebed is veel meer as ‘n lys van dinge wat ons vra. Dit is een van die belangrikste geestelike dissiplines wat die Here gebruik om ons te vorm — om ons harte te verander, ons denke te vernuwe, en ons te vorm sodat ons meer soos Jesus lyk.
Jesus self het vir ons gewys hoe belangrik gebed is in die lewe van ‘n gelowige. Hy het nie net vir ander gebid nie; Hy het self gereeld gebid: in eensame plekke, in moeilike tye, en in oomblikke van oorwinning (sien Markus 1:35; Mattheus 14:23; Lukas 5:16). As Jesus, die Seun van God, gebid het, hoeveel te meer het óns nie gebed nodig nie?

GEBED: ‘N VORMENDE DISSIPLINE.
Geestelike dissiplines soos gebed, Bybelstudie, vas, en selfondersoek is nie doelwitte op hulle eie nie. Hulle is gewoontes wat God gebruik om ons in ons innerlike mens te verander en ons meer soos Jesus te maak.
Wanneer jy bid, gee jy die Here die geleentheid om aan jou hart te werk. Jy leer om Sy stem te hoor, Sy wil te soek, en jou eie wil aan Hom te onderwerp. Jy leer om op Hom te vertrou, eerder as op jouself. En jy leer hoe om met liefde, genade en waarheid te leef — net soos Jesus.
GEBED HELP ONS OM TE LEEF SOOS JESUS.
Jesus het gereeld op ‘n eensame plek, waar niemand Hom kon pla nie, gebid voordat Hy belangrike besluite geneem het (Lukas 6:12), Ons sien Hy het gebid voordat Hy wonderwerke gedoen het (Johannes 11:41-42). Hy het ook in Getsemane gebid voordat Hy vir ons aan die kruis gesterf het (Mattheus 26:36-44).
Ons sien dus dat gebed nie net ‘n voorbereiding was nie, dit was Jesus se manier van leef. Dit was Sy band met die Vader wat Hom in staat gestel het om Sy roeping met liefde en krag te vervul.
Net so vorm gebed óns om met nederigheid, gehoorsaamheid en liefde te leef. Elke keer wat jy bid, word jou eie wil ‘n bietjie meer onderworpe aan God s’n. Jou denke word vernuwe, en jou karakter gevorm. Jy leer wat dit beteken om nie jou eie koninkryk te bou nie, maar om in diens van God se koninkryk te leef.
GEBED VERANDER ONS HARTE EN GEDAGTES.
Dalk het jy dit al ervaar: Jy begin jou gebed en voel ‘n klomp emosies, onsekerhede en jy het allerhande vrae. Maak wanneer jy klaar gebid het, besef jy jy het nou vrede, perspektief, en dikwels ‘n hart wat sagter is. Dis omdat gebed nie net ons fokus na God verskuif nie, maar ook ons harte verander.
Filippense 4:6-7 sê dit mooi: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”
Gebed herinner jou aan wie God is. Aan Sy krag. Sy liefde. Sy genade. En aan wie jy is in Hom. Hierdie herinneringe is vormend; hulle help jou om in geloof en vertroue te leef, net soos Jesus.
GEBED LEER ONS OM ANDER LIEF TE Hê.
Jesus het dikwels vir ander gebid. Selfs aan die kruis het Hy gebid: “Vader, vergeef hulle…” (Lukas 23:34).
Wanneer jy gereeld bid, nie net vir jouself nie, maar vir ook ander, begin jy met nuwe oë na mense kyk. Jou hart word sagter teenoor hulle. Jy kry medelye. Jy word meer bewus van hulle nood en begin bid dat God in húlle lewens sal werk.
Dít is die hart van Jesus: om ander te dien, te dra, en voor die Vader te bring.
GEBED VERSTERK JOU GEESTLIKE UITHOUVERMOë.
Gebed is ook ‘n plek van geestelike oefening. Jy leer hoe om vas te byt wanneer jy nie dadelik antwoorde kry nie. Jy leer hoe om die Here te vertrou wanneer dinge nie sin maak nie. En jy leer hoe om stil te bly voor Hom en te wag — soos Jesus gewag het op die Vader se perfekte tyd.
Net soos ‘n spier sterker word deur herhaaldelik te gebruik, word jou geloof versterk deur die dissipline van volgehoue gebed.
LEER OM TE BID, SOOS JESUS GELEER HET.
Die dissipels het vir Jesus gevra: “Here, leer ons om te bid.” En Hy het hulle gewys. Jy hoef nie perfek te bid nie. Jy hoef nie eers altyd te weet wat om te sê nie. Vra eenvoudig vir Jesus: “Leer my om te bid soos U gebid het.”
Begin waar jy is. Bid eerlik. Kom soos ‘n kind. Moenie jou gebedslewe met iemand anders s’n vergelyk nie. Elkeen se pad is uniek, en die Here weet wat jy nodig het op jóú pad van groei.
Gebed is nie ‘n prestasie nie, dis ‘n proses van vorming, liefde, en nabyheid.
SLOTGEDAGTE: BID OM TE WORD SOOS JESUS.
Onthou, gebed is nie ‘n geestelike “opsie” nie. Dis ‘n noodsaaklikheid as jy regtig wil groei in jou geloof. Dis die dissipline wat jou help om weg te draai van jouself, en jou fokus op Jesus te plaas. En dis in daardie daaglikse ontmoeting met Hom waar jou lewe begin verander.
So, moenie wag tot jy voel jy is “geestelik genoeg” voor jy bid nie. Begin vandag. Sit tyd opsy en begin bou aan die gewoonte om elke dag te bid. Dis in daardie stilte — daardie plek van gebed — waar jy die Here beter leer ken en waar jy stadig maar seker verander… om meer en meer soos Jesus te word.
HULP VIR JOU GEBEDSLEWE.
As jy graag meer oor gebed wil leer of hulp nodig het in jou gebedslewe, dan is Hart Tot Hart, die gebedsgids wat in ons aanlyn-winkel beskikbaar is, dalk net waarna jy op soek is.

Hart Tot Hart is geskryf om jou te help om meer gemaklik en vertroud te raak met gebed. Ons bespreek die vrae wat baie van ons het oor gebed, leer by Jesus se voorbeeld en ontdek hoe om die Bybel as gids vir ons gebede te gebruik. Jy sal ook ‘n eenvoudige gebedsmetode aanleer wat jy dadelik in jou stiltetyd sal kan begin gebruik.
ARTIKELS IN DIE REEKS.
Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels oor Geestelike Dissiplines:
GEESTELIKE DISSIPLINES: GROEI GEBEUR NIE VANSELF NIE
MAAK STILTETYD EEN VAN JOU GEESTELIKE DISSIPLINES
HOE OM BYBELVERSE TE MEMORISEER
