FOKUSTEMAS VIR ‘N 21-DAE VAS

In dié artikel kyk ons na fokustemas en gebedsidees vir ‘n 21-dae vas, wat jy kan gebruik om die meeste uit jou vas te kry.

Aan die begin van elke jaar is daar baie mense wat die jaar afskop met ‘n 21-dae vas. So ‘n tydperk van vas en gebed sit jou op die regte spoor vir die jaar wat voorlê. Dit help jou om anders te begin dink en kan ‘n honger in jou laat posvat vir God en dié dinge wat vir Hom belangrik is.

‘N FOKUS OF TEMA VIR ELKE DAG.

Om die meeste uit jou 21-dae vas te kry, is dit ‘n goeie idee om vir jou ‘n fokus of tema vir elke dag te kies. Kies ook vir jou ‘n Bybelvers of -verse wat saam met die fokus of tema gaan. Jy kan in hierdie artikel meer lees oor hoe jy die fokustemas vir ‘n 21-dae vas kan gebruik.

As jy nog nooit fokustemas vir ‘n 21-dae vas moes uitdink nie, kan dit nogal oorweldigend raak. Om jou te help het ek 21 idees vir temas en verse vir elke dag in hierdie artikel bymekaar gesit. Ek het ook by elke tema ‘n gebedsidee bygevoeg. Jy kan dié idees gebruik of jy kan jou eie uitdink.

Fokustemas vir 21-dae vas

DAG 1. DIE KRAG VAN GOD.

Tema: Die krag van God is altyd aan die werk in my en in my lewe.

Vers: 2 Petrus 1:3: “Sy goddelike krag het ons immers reeds alles gegee wat ons nodig het vir ‘n godvresende lewe, deur die kennis van Hom wat ons deur sy majesteit en goddelike krag geroep het.”

Gebedsidee: Vra die Here om jou te wys of daar iets in jou lewe is wat Sy krag verhinder om in jou en deur jou te vloei. Vra Hom om jou te help om daarvan ontslae te raak.

DAG 2. GROEI IN MY LEWE.

Tema: Ek vertrou die Here vir groei in elke gebied van my lewe.

Vers: Psalm 115:14-16: “Mag die Here julle meer maak, julle en julle kinders. Mag julle geseën word deur die Here wat hemel en aarde gemaak het. Die hemel is die Here se hemel, maar die aarde het Hy vir mensekinders gegee.”

Gebedsidee: Vra die Here om vir jou wysheid te gee, sodat jy weet wat jy in elke gebied van jou lewe moet doen om te groei en vorentoe te beweeg.

DAG 3. KRAG VAN DIE HERE.

Tema: Ek vertrou God om my versterk en my die krag te gee wat ek nodig het.

Vers: Jesaja 40:31: “Maar wie op die Here wag, herwin hulle krag; hulle kry nuwe vere soos arende. Hulle hardloop, maar raak nie afgemat nie, hulle loop, maar word nie moeg nie.”

Psalm 23:3: “Hy gee my nuwe lewenskrag; Hy lei my op die regte paaie ter wille van sy Naam.”

Gebedsidee: Vra God om jou te vul met die krag van die Heilige Gees.

DAG 4. DIE VOORSIENING VAN GOD.

Tema: Ek vertrou die Here om in al my behoeftes te voorsien.

Vers: Psalm 34:11: “Jong leeus kry swaar en ly honger, maar wie die Here soek, ly geen gebrek aan alles wat goed is nie.”

Gebedsidee: Maak ‘n lys van alles waaraan jy kan dink, wat jy op dié stadium in jou lewe nodig het. Bid dan en lê jou versoeke voor God se voete neer.

DAG 5. DIE LIEFDE VAN GOD.

Tema: Ek weet God het my lief en leef Sy liefde uit teenoor ander.

Vers: 1 Johannes 4:16: “Ons ken en vertrou die liefde wat God vir ons het. God is liefde. En wie in die liefde bly, bly in God, en God bly in hom.”

1 Johannes 4:21: “En dit is die gebod wat ons van Hom ontvang het: Wie God liefhet, moet ook sy broer liefhê.”

Gebedsidee: Gebruik 1 Korinthiërs 13 as ‘n gebed. Sê eers vir die Here dankie dat al die dinge wat jy in verse 4-7 lees, deel is van Sy karakter. Vra Hom dan om dit ook deel te maak van jou karakter.

DAG 6. UITHOU TOT DIE EINDE.

Tema: Ek sal uithou en aanhou. Ek sal nie moed opgee tot ek oorwinning behaal het en al God se beloftes in my lewe vervul is nie.

Vers: Jesaja 54:17: “‘Geen wapen wat teen jou gemaak word, sal suksesvol wees nie. Elke tong wat teen jou getuig in ‘n regsgeding, sal jy skuldig verklaar. Dit is die erfdeel van die Here se diensknegte; dit is hulle geregtigheid van my kant,’ is die uitspraak van die Here.”

Gebedsidee: Bid vir geduld en uithouvermoë. Vra die Here om jou te help om sterk te staan in geloof, veral wanneer dit lyk asof daar nie lig aan die einde van die tonnel is nie.

DAG 7. GOD SE LEIDING.

Tema: Ek vertrou die Woord van God om vir my leiding en rigting in my lewe te gee.

Vers: Spreuke 6:22: “Wanneer jy rondgaan, sal dit jou lei; wanneer jy slaap, sal dit oor jou wag hou; wanneer jy wakker word, sal dít jou besig hou.”

Gebedsidee: Lees Jakobus 1:5-8. Vra dan vir die Here om jou te vul met Sy wysheid en vertrou Hom dat Hy Sy belofte, soos jy dit in Jakobus gelees het, sal nakom.

DAG 8. GOEIE DINGE.

Tema: Ek vertrou die Here vir goeie dinge in my en my familie se lewens.

Vers: Psalm 112:1-3: “Halleluja! Gelukkig is die mens wat ontsag het vir die Here, wat groot vreugde vind in sy gebooie. Sy nageslag sal magtig wees in die land – ‘n geslag opregtes wat geseën word. Oorvloed en rykdom is in sy huis, en sy geregtigheid hou stand vir altyd.”

Gebedsidee: Maak ‘n lysie van al die goeie dinge wat jy die afgelope tyd uit God se hand ontvang het. Sê dan vir Hom dankie vir elkeen daarvan. Sê ook vir Hom dat jy weet alle goeie dinge kom uit Sy hand en dat jy Hom vertrou om in die jaar wat kom, ook net die goeie op jou te laat neerreën.

DAG 9. DIE BELOFTES VAN GOD.

Tema: Elke belofte van God word vervul in my lewe.

Vers: 2 Petrus 1:4: “Hierdeur het Hy sy kosbare en grootse beloftes reeds aan ons gegee, sodat julle deel kan kry aan die goddelike natuur, noudat julle ontvlug het aan die verdorwenheid wat deur begeerte in die wêreld teenwoordig is.”

Gebedsidee: Soek in ‘n konkordansie na van die beloftes wat God in Sy Woord vir ons laat opteken het. Baie Bybels het agterin ‘n konkordansie. Jy kan ook HIER aanlyn een kry. Maak ‘n lys van dié beloftes en begin om dit elke dag oor jou lewe te verklaar. Moet ook nie vergeet om vir die Here dankie te sê dat Hy altyd Sy beloftes nakom en dat jy kan weet Hy sal dit ook vir jou doen nie.

DAG 10. DIE WIL VAN GOD.

Tema: Ek soek God se wil tot ek weet wat dit is. Ek verklaar Sy wil oor my lewe.

Vers: Romeine 8:27: “Hy wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, dat Hy volgens die wil van God vir die heiliges intree.”

Gebedsidee: Sê vir die Here dankie vir Sy Woord en dat Hy daarin vir ons leer wat Sy wil is. Sê ook vir Hom dankie vir die Heilige Gees, wat jou herinner aan alles wat God gesê het en jou help om aan Hom gehoorsaam te wees.

DAG 11. GESONDHEID EN GENESING.

Tema: Ek kies om volgens God se riglyne vir gesondheid te leef. Deur Jesus se wonde is ek genees.

Vers: Jeremia 17:14: “Maak my gesond, Here, en ek sal gesond wees. Verlos my, en ek sal verlos wees, want U is my lof.”

Jesaja 53:4-5: “Nogtans, ons siektes, hy het dit gedra, en ons smarte, hy het dit op hom gelaai. Maar ons het hom beskou as iemand wat gekasty word, geslaan deur God, en verneder. Hy is egter deurboor oor ons oortredings, verbrysel oor ons sondeskuld. Die straf wat ons vrede bewerk, was op hom, en deur sy wonde is daar vir ons genesing.”

Gebedsidee: Bid vir almal wat jy ken, wat genesing nodig het. Dit kan fisiese genesing wees, maar ook emosionele genesing en geestelike genesing. Dit kan selfs dinge wees soos mense wat nodig het dat God hulle huwelike of finansies genees.

DAG 12. GEEN BEKOMMERNIS.

Tema: Ek bekommer my oor niks in my lewe nie. Ek vertrou dat God in beheer is en dat Hy vir my sorg.

Vers: 1 Petrus 5:7: “Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.”

Filippense 4:19: “En my God sal ruimskoots in al julle behoeftes voorsien, in ooreenstemming met sy heerlike rykdom in Christus Jesus.”

Gebedsidee: In 1 Petrus 5:7 hierbo staan dat ons al ons bekommernisse op God moet werp. Skryf al die dinge waaroor jy bekommerd is, op ‘n stuk papier neer. Bid dan oor elkeen en lê dit voor die Here. Na jy gebid het, frommel die stuk papier op en gooi dit letterlik van jou af weg. Sien dit as die manier waarop jy jou bekommernisse op God gewerp het.

DAG 13. DIE GOEIE UIT GOD SE HAND.

Tema: Ek vertrou die Here dat Hy niks wat goed is, ooit van my af weghou nie.

Vers: Psalm 84:11: “Ja, ‘n son en skild is die Here God; genade en eer is wat die Here skenk. Hy hou wat goed is nie terug van hulle wat onberispelik leef nie.”

Gebedsidee: Bely vandag se tema voor die Here. Sê vir Hom dat jy Hom vertrou om nooit iets wat vir jou goed is, van jou af weg te hou nie. Vra Hom ook om jou te help om nie die duiwel se leuens te glo wanneer hy jou probeer wysmaak God is besig om goeie dinge van jou af weg te hou nie.

DAG 14. WOORDE VAN VREDE.

Tema: Ek spreek woorde van vrede in elke probleemsituasie in my lewe.

Vers: Jesaja 26:3: “‘n Standvastige gesindheid sal U in volkome vrede bewaar, omdat daar op U vertrou word.”

Gebedsidee: God se beloftes oor enige situasie in die lewe, is woorde van vrede. Watter probleemsituasies het jy in jou lewe? Soek beloftes in die Bybel wat oor hierdie probleme aanspreek. Begin om dit elke dag oor jou lewe te verklaar.

DAG 15. DIE BEGEERTES VAN MY HART.

Tema: Ek vertrou die Here om Sy begeertes in my hart te plaas. Ek praat met Hom daaroor en vertrou Hom om dit ‘n werklikheid in my lewe te maak.

Vers: Psalm 37:4: “Vind jou vreugde in die Here, dan sal Hy jou gee wat jou hart begeer.”

Gebedsidee: Hierdie vers beteken nie dat God vir jou sal gee wat jou hart ookal begeer nie. Dit beteken wel dat, as jy Hom vra en Hom vertrou, Hy Sy begeertes, drome en ideale in jou hart sal lê sodat jy wil hê wat Hy vir jou wil gee en deur jou wil doen. Vra Hom vandag spesifiek om Sy drome, ideale en begeertes vir jou in jou hart te kom lê. Spandeer dan tyd saam met Hom en skryf neer wat jy graag hierdie jaar in elke area van jou lewe wil bereik. Vertrou die Here dat dít wat jy neerskryf, van Hom af kom.

DAG 16. ‘N DOENER VAN DIE WOORD.

Tema: God se wil is die hoogste prioriteit in my lewe. Ek doen wat Hy vir my sê in Sy Woord.

Vers: Mattheus 7:21: “Nie elkeen wat vir My sê, ‘Here, Here,’ sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar net diegene wat die wil doen van my Vader in die hemele. “

Gebedsidee: Vra die Here om jou te wys hoe om die dinge wat jy uit Sy Woord leer, in jou lewe toe te pas. Vra Hom ook om jou te help om gehoorsaam te wees wanneer Hy jou wys wat om te doen.

DAG 17. MY LIGGAAM VIR GOD.

Tema: Ek kies om my liggaam in diens van God te stel.

Vers: Romeine 12:1-2: Broers, op grond van die barmhartigheid van God roep ek julle dus nou op om julle liggame beskikbaar te stel as ‘n offer wat lewend en heilig is, en vir God aanneemlik. Dit is julle sinvolle godsdiens. Julle moenie aan hierdie wêreld gelykvormig wees nie, maar verander word deur die vernuwing van julle denke, sodat julle goed kan onderskei wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is.

Gebedsidee: Word stil by die Here. Begin by jou kop en sê vir Hom dat jy, byvoorbeeld, jou gedagtes in Sy diens stel. Vra Hom om jou te help om net dinge te dink wat opbouend en mooi is. Sê dan dat jy jou oë in Sy diens stel en vra Hom om jou te help om net te kyk na dinge wat vir jou voordelig is. Noem so elke liggaamsdeel op en sê dat jy dit in Sy diens stel en vra Hom om jou daarmee te help.

DAG 18. GOD SE OOGAPPEL.

Tema: Ek is spesiaal en kosbaar in die oë van God.

Vers: Sagaria 2:8: “Want so sê die Here, Heerser oor alle magte, wat my ter wille van sy heerlikheid gestuur het na die nasies deur wie julle uitgebuit is: ‘Waarlik, wie aan julle vat, vat aan die appel van my oog.'”

Gebedsidee: Spandeer vandag tyd saam met die Here in Psalm 139. Wat sien jy alles daar oor hoe wonderlik God jou gemaak het? Praat met Hom oor wat jy leer.

DAG 19. GOD SE TROUE LIEFDE.

Tema: God se troue liefde omring my en ek juig daaroor.

Vers: Psalm 13:6: “Maar ek – op u troue liefde vertrou ek; my hart wil juig oor u verlossing. Ek wil vir die Here sing, omdat Hy aan my goed gedoen het.”

Gebedsidee: Lees Psalm 136. Praat met die Here oor wat jy daaruit leer oor Sy troue liefde.

DAG 20. VOL MOED VIR GOD.

Tema: Ek is vol moed en staan op vir God en vir Jesus.

Vers: Spreuke 28:1: Die goddelose hardloop weg al jaag niemand hom nie; die regverdiges het die moed van ‘n leeu.

Gebedsidee: In Handelinge 4:23-31 lees ons hoe die gelowiges vir vrymoedigheid gebid het. Lees die gedeelte en gebruik hulle gebed om dieselfde oor jou lewe te bid.

DAG 21. DIE VERLOSSING VAN MY GELIEFDES.

Tema: Ek vertrou God dat almal wat ek liefhet in Jesus sal glo en verlos sal word.

Vers: Jesaja 8:18: Hier is ek en die kinders wat die Here aan my gegee het as tekens en simbole in Israel, afkomstig van die Here, Heerser oor alle magte, wat op die berg Sion woon.

Gebedsidee: Maak ‘n lysie van mense in jou lewe wat nog nie vir Jesus ken nie. Word dan stil by die Here en dra elkeen van hulle by die naam aan Hom op. Vra Hom om deur die Heilige Gees in hulle te werk sodat hulle harte ontvanklik sal wees vir die boodskap van Jesus. Vra Hom ook om die regte persoon op die regte tyd na hulle toe te stuur om oor Jesus te getuig. Bid vir elkeen se verlossing.

JOU EIE FOKUSTEMAS EN GEBEDE.

Hierdie fokustemas vir ‘n 21-dae vas is net ‘n lys van idees. Dis nie ‘n lys wat jy móét gebruik nie. Jy het dalk ander behoeftes of ander probleme wat jy voor God wil bring.

Voor jy dus op ‘n 21-dae vas gaan, sit ‘n tydjie opsy en maak jou eie lys van fokustemas, teksverse en gebedsidees. Gebruik die idees hierbo as riglyne, as jy wil, maar fokus op dié dinge wat in jou lewe vir jou belangrik is.

Ek vertrou dat hierdie reeks oor vas en gebed vir jou van waarde was. As jy dalk van die vorige artikels misgeloop het, hier is die skakels net weer:

GEDAGTES OOR VAS EN GEBED

21-DAE VAS: PRAKTIESE BEPLANNING

JOU VASTYD: PRAKTIESE WENKE

RIGLYNE VIR GEBED