HOE OM BYBELVERSE TE MEMORISEER

In Romeine 12:2 lees ons hierdie bekende vers: “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.” Een van die beste dinge wat jy kan doen om saam met die Here te werk om jou denke te vernuwe is om Bybelverse en Bybelgedeeltes te memoriseer. Dit is immers die Woord van God wat ons help om dinge vanuit ‘n ander oogpunt te sien en daarom dan anders te begin dink oor dinge.

Vandag gaan ons gesels oor hierdie geestelike dissipline. In dié artikel gaan jy ‘n eenvoudige gids kry oor hoe om Bybelverse te memoriseer. Dié gids gaan nie net vir jou help nie, maar jou ook wys hoe jy te werk kan gaan om jou kinders of kleinkinders daarmee kan help.

Onthou, jy hoef nie alles waaroor ons gesels dadelik toe te pas nie. Kies net een idee en begin vandag nog.

Memoriseer Bybelverse: 'n Paar Wenke

Begin met ‘n vers wat vir jóú iets beteken – iets wat jou bemoedig, aanspreek of help in ‘n spesifieke area van jou lewe. Dalk wil jy God se beloftes onthou, of dalk ‘n vers wat jou herinner aan Sy getrouheid wanneer jy moedeloos voel.

Skryf dit neer. Filippense 4:13 is altyd ‘n gewilde beginpunt: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.”

Maak ook ‘n lys van verse wat jy graag nog wil memoriseer. ‘n Klein notaboekie werk uitstekend hiervoor. En as jy nie weet waar om te begin nie, gebruik temas soos “God se liefde” of “vertroue op God” en soek verse daarvolgens.

Lees die vers wat jy gekies het hardop, stadig en aandagtig. Jy hoor dit dan met jou ore én jou hart. Hierdie eenvoudige gewoonte help jou om beter te fokus én te onthou.

Wanneer jy dit hardop lees, begin jy ook al daaraan gewoond raak om dit as deel van jou gebede te gebruik.

Dit is bewys dat om dinge neer te skryf, jou help om dit beter te onthou. Skryf dus jou vers wat jy wil memoriseer, neer. Jy kan dit in ‘n joernaal neerskryf, op ‘n indekskaartjie of in ‘n notaboekie. Skryf dit meer as een keer, net soos ons as kinders gedoen het met uitskryfwerk.

En hou dit analoog, met ander woorde, gebruik ‘n pen en papier, nie op jou foon nie. Dis te maklik om af te dwaal van dit waarmee jy eintlik besig is, as jy jou foon gebruik!

“Uit die oog, uit die hart” geld hier. Plak jou vers waar jy dit daagliks sien: op die kombuiskas, badkamer-spieël, yskas, ketel, of gebruik dit as agtergrond op jou foon.

Jy kan ook ‘n houer vol verskaartjies, met verse wat jy al geleer het, op ‘n spesifieke plek hou. Haal elke dag ‘n kaartjie uit en herhaal die vers wat daarop geskryf is.

Musiek is ‘n kragtige hulpmiddel om ‘n mens te help om iets te onthou. Maak ‘n liedjie van jou vers deur ‘n wysie daarvoor uit te dink. Of ‘n bekende wysie waarvan jy hou.

Die verse in Psalms is ideaal hiervoor, maar jy kan enige vers omskep in ‘n eenvoudige rympie of melodie.

Selfs as jy nie kan sing nie, jy sal verbaas wees hoe vinnig jy die vers onthou.

As die vers wat jy wil leer lank is, verdeel dit in kleiner dele. Leer elke deel oor ‘n dag of twee, en voeg stadig die volgende sin of frase by. Sê die hele gedeelte hardop tot jy dit vlot kan opsê.

Wanneer jy ‘n vers memoriseer, maak dit deel van jou gebed. Byvoorbeeld: “Here, U sê ek is tot alles in staat deur U krag. Help my om vandag hieraan vas te hou.”

Dis hoe die vers nie net in jou kop bly nie, maar deel word van jou hart én jou lewe.

Dink na oor die konteks van die vers. Wat sê die verse voor en ná dit? Wat leer jy van God? Oor jou eie lewe? Skryf dit neer.

En wanneer jy ‘n moeilike dag het, sê jou vers hardop vir jouself. Laat God se Woord die laaste sê hê!

Dis ‘n goeie idee om sommer as gesin saam Bybelverse te memoriseer. Sê die vers vir mekaar op tydens ete, in die motor of voor slaaptyd en kyk wie dit die beste onthou.

En as jy wonder hoe jy te werk kan gaan om jou kinders hiermee te help, hier is 5 idees wat jy kan probeer.

  1. Leer een frase op ‘n slag – Laat jou kind die eerste frase van die vers wat hy leer oor en oor herhaal tot hy dit vlot kan sê. Voeg dan die volgende frase van die vers by en herhaal.
  2. Gebruik ‘n swartbord of spieël – Skryf die vers wat jou kind leer op ‘n swartbord of spieël neer. Hou dit waar julle eet of in jou kind se slaapkamer. Op dié manier sien hy dit gereeld.
  3. Maak ‘n speletjie daarvan – Gooi ‘n bal heen en weer terwyl julle die vers wat jou kind leer, opsê. Die een in wie se hande die bal is, sê die volgende woord van die vers.
  4. Gebruik lekkers of belonings – ‘n Beloning verrig wondere om ‘n kind aan te moedig. Gee jou kind ‘n klein beloning wanneer hy die vers onthou.
  5. Doen gebare saam met die woorde – Kinders leer soms makliker wanneer hulle lyfies ook gebruik word. Dink saam met jou kind gebare uit vir die vers wat hy leer en laat hom dan die gebare doen.

Om Bybelverse te memoriseer is nie net ‘n geestelike dissipline nie. Dis ‘n manier om God se Woord letterlik in jou hart te bêre en saam met Hom te werk om jou denke te vernuwe.

So, of jy nou net met een vers begin, of saam met jou kinders leer, die belangrikste is om te begin. Een vers op ‘n slag. Een dag op ‘n slag.

Mag jy (en jou kinders!) groei in genade en waarheid soos julle die Woord van God leer, onthou en leef.

Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels oor Geestelike Dissiplines:

GEESTELIKE DISSIPLINES: GROEI GEBEUR NIE VANSELF NIE

MAAK STILTETYD EEN VAN JOU GEESTELIKE DISSIPLINES

SABBATSRUS: HERSTEL GOD SE RITME IN JOU LEWE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *