WAAROM JY ‘N GEESTELIKE JOERNAAL MOET HOU

Is jy lief vir die Psalms? Jy is nie alleen nie. Baie gelowiges se eie harte word diep aangeraak wanneer hulle lees hoe die psalmdigters, soos Dawid, hulle harte oopmaak voor die Here met lofprysing, gebede, worsteling, vrae, en vertroue.

Maar het jy al daaraan gedink dat die mense wat die meeste voordeel getrek het uit die Psalms, juis dié was wat dit geskryf het?

Wanneer jy jou eie gedagtes neerskryf, soos Dawid dikwels gedoen het, help dit jou om dieper te dink, die Here se stem duideliker te hoor, en te groei in jou verhouding met Hom. Dis presies waarom ‘n geestelike joernaal so waardevol is.

Waarom jy 'n geestelike joernaal moet hou

‘n Geestelike joernaal is ‘n plek waar jy jou reis met die Here vasvang. Dis nie ‘n gewone dagboek oor wat jy geëet het of waar jy was nie. Dis eerder ‘n plek waar jy saam met die Here dink, bid, leer, luister, en groei.

So ‘n joernaal is jou persoonlike ruimte om eerlik te wees oor wat jy voel, glo, hoop, verstaan en misverstaan… en dit alles in die konteks van jou verhouding met Hom.

Dis eenvoudig: ‘n notaboek en ‘n pen. Dit hoef nie duur of ‘fancy’ te wees nie. Al wat belangrik is, is dat dit vir jou werk.

Kies ‘n stil plek waar jy nie maklik gesteur sal word nie en ‘n tyd van die dag wat vir jou werk. Jy kan dit in die oggend saam met jou stiltetyd doen, of saans as deel van jou ‘nadink oor die dag’ voor jy gaan slaap.

Skryf altyd die datum. Jy sal later dankbaar wees dat jy kan sien wanneer sekere dinge gebeur of verander het.

Moenie perfek probeer wees nie. Spelling, grammatika en netjiese handskrif is nie belangrik nie. Eerlikheid is.

Wees eerlik. Dis tussen jou en die Here. Onthou, niemand anders gaan dit lees nie, so jy kan regtig jou hart voor die Here uitstort.

Skryf gereeld. Nie noodwendig elke dag nie, maar gereeld genoeg dat jy gewoond raak aan die ritme. Hoe meer jy skryf, hoe meer wil jy skryf.

Hier is ‘n hele lys idees wat jou kan help om te begin en aan die gang te bly:

    As jou gedagtes maklik dwaal wanneer jy bid, probeer om jou gebede neer te skryf. Dis ‘n manier om te fokus én om later te sien hoe die Here geantwoord het.

      Skryf neer watter gedeelte jy gelees het en wat vir jou uitgestaan het. Wat leer jy oor die Here en wat sê dit vir jou persoonlik? Wat het jou geraak?

        Maak ‘n lys van dinge waarvoor jy dankbaar is – groot én klein. Dit verander hoe jy die lewe sien.

          Maak ‘n ‘getuienislys’. Dis nou tye waar jy die Here se hand duidelik gesien het. Hierdie lys sal jou bemoedig op moeilike dae.

            Skryf eerlik oor dit waarmee jy sukkel. Noem dit by die naam. En los plek om later te skryf hoe die Here geantwoord het, of wat Hy jou geleer het.

              Neem jou joernaal saam kerk toe. Skryf neer wat jou tref, vrae wat jy het, of iets wat jy verder wil bestudeer.

                Jy kan ‘n lys maak van mense en situasies waarvoor jy bid. As jy iemand belowe het jy sal bid, skryf dit hier neer sodat jy dit nie vergeet nie.

                  Skryf neer as jy ‘n vraag oor iets het – oor die Here, die Bybel, of die lewe. Soms lei vrae tot kosbare ontdekkings en insig.

                    As jy iets in jou hart dra soos ‘n droom, ‘n roeping, ‘n plan, skryf dit neer. Dit kan die begin van iets groots wees.

                      Wat sê die Here vir jou in ‘n spesifieke seisoen? Waarmee is Hy besig in jou hart? Watter woorde herhaal Hy? Skryf dit alles neer.

                        As jy iets lees of hoor wat jou geloof aanwakker, skryf dit neer. Op dié manier bou jy ‘n ‘skatkis van inspirasie’.

                          Waarin wil jy groei? Hoe wil jy meer soos Jesus word? Skryf dit neer en evalueer jouself elke maand.

                          Om ‘n joernaal te hou gaan nie net oor dit wat jy skryf nie, maar ook oor die ‘teruglees’ daarvan. Wanneer jy jou joernaal ná ‘n ruk weer lees, ontdek jy:

                          Hoe die Here besig was om jou stadig te vorm.
                          Watter gebede Hy geantwoord het.
                          Waar jy gegroei het (en waaraan jy dalk weer moet aandag gee).
                          Dinge wat jy vergeet het, maar nodig het om weer te hoor.

                          Dis soos om ‘n gesprek met jouself én met die Here te hê oor hoe ver julle al saam gestap het.

                          As jy nog nie ‘n geestelike joernaal het nie, is vandag dalk die perfekte dag om een te begin. Begin klein. Skryf een gebed. Een dankie. Een vers wat jou tref. Dis die begin van iets moois wat vir jou van onskatbare waarde kan wees.

                          En laat weet my gerus deur sommer in die kommentaar te antwoord: Hou jy reeds ‘n joernaal? Wat help jou om aan te hou om dit elke dag, of so gereeld as moontlik, te doen? Ek sien uit om van jou te hoor!

                          Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels oor Geestelike Dissiplines:

                          GEESTELIKE DISSIPLINES: GROEI GEBEUR NIE VANSELF NIE

                          MAAK STILTETYD EEN VAN JOU GEESTELIKE DISSIPLINES

                          HOE OM BYBELVERSE TE MEMORISEER

                          SABBATSRUS: HERSTEL GOD SE RITME IN JOU LEWE

                          Leave a Reply

                          Your email address will not be published. Required fields are marked *