VIER MANIERE OM DIE BYBEL TE LEES

Volgens ‘n 2022-verslag van die Amerikaanse Bybelgenootskap, lees 25% Amerikaners nie hulle Bybels nie omdat hulle ‘nie weet waar om te begin nie.’ Ek weet nie wat die persentasie vir Suid-Afrikaners is wat met dieselfde probleem sit nie, maar ek weet daar is mense wat wel daarmee sukkel.

Om die Bybel vir die eerste keer op te tel en te begin lees, kan nogal ‘n oorweldigende ervaring wees. Daar is immers 66 boeke in die Bybel, so dis te verstane dat mense nie weet waar om te begin nie! Dit is selfs partykeer moeilik vir diegene wat al vir jare hulle Bybels lees!

Gelukkig hoef Bybellees ‘n mens nie te oorweldig nie. Daar is soveel verskillende maniere waarop jy dit kan doen. Hier is vier wat jy kan probeer, as jy ook nie weet waar om te begin nie.

lees die bybel - vier maniere

Die logiese manier om die Bybel te lees, is om dit soos enige ander boek te lees. Begin by Genesis en lees al die pad deur tot jy by Openbaring kom. Dis die beste manier om die Groot Storie van die Bybel te begin verstaan.

Daar is mense wat die Bybel in ‘n jaar se tyd van voor tot agter lees. Ek het dit al twee keer tevore gedoen en dit het baie vir my beteken. Maar ek het ook agtergekom dat ‘n mens nogal ‘n klompie hoofstukke op ‘n dag moet lees en dat ek nie soveel inneem soos wat ek doen wanneer ek minder lees nie. Ek volg nou ‘n leesplan waar ek die Bybel in drie jaar se tyd deurlees. Dit beteken ek lees net een hoofstuk op ‘n dag en kan soveel meer inneem van wat ek lees.

Daar is baie Bybelleesplanne, wat jou help om die Bybel in ‘n jaar of in drie jaar deur te lees, beskikbaar. As jy op soek is na so ‘n leesplan, vul dan jou inligting hieronder in en ek stuur vir jou ‘n gratis leesplan om jou daarmee te help.

Die boeke van die Bybel is nie gerangskik in die volgorde waarin dinge gebeur het nie. Dit kan mense nogal pootjie. Jy kry byvoorbeeld die profetiese boeke hier in die middel van die Bybel, maar baie van die profete het geleef in die tyd van die konings, van wie ‘n mens lees in 1 en 2 Konings en 1 en 2 Kronieke.

Dan is daar natuurlik ook die Evangelies. Al vier handel oor die lewe van Jesus, maar bekyk dieselfde gebeurtenis vanuit verskillende hoeke. Dit is ook waar van 1 en 2 Konings en 1 en 2 Kronieke. Dieselfde stories vanuit ‘n ander hoek.

As die feit dat dinge in die Bybel nie altyd in volgorde gerangskik is nie jou ook deurmekaar maak, dan gaan ‘n kronologiese Bybelleesplan jou baie help. Jy kan weereens net jou inligting in die vorm hierbo invul vir ‘n gratis kronologiese leesplan.

LEES OOK: HOE OM JOU EIE BYBELLEESPLAN SAAM TE STEL

Nog ‘n manier waarop jy die Bybel kan lees, is om dit een boek op ‘n slag te doen. Jy kan so vinnig of so stadig lees soos jy wil. Dalk lees jy een hoofstuk op ‘n dag. Dalk lees jy elke dag net die volgende gedeelte onder die volgende opskrif. Dit maak nie regtig saak hoe jy dit doen nie.

Dit maak ook nie saak in watter volgorde jy dit doen nie. Jy kan byvoorbeeld ‘n boek uit die Ou Testament lees en dan een uit die Nuwe Testament. Jy kan voor in die Bybel met Genesis begin of jy kan agter, met een van Paulus se briewe begin. Kies ‘n boek waaroor jy meer wil weet en begin daarmee.

Dis ook ‘n goeie idee om, voor jy begin lees, net bietjie navorsing oor die boek te doen. Kyk na dinge soos wie die boek geskryf het en vir wie dit geskryf is. Kyk na die historiese en kulturele omgewing van die dag. Hierdie dinge sal jou help om die oorspronklike doel en betekenis van die teks beter te verstaan.

Daar is heelwat webblaaie, waar jy hierdie tipe inligting kan kry. Biblegateway is ‘n goeie een om te probeer.

Nog ‘n metode wat jy kan probeer, is om ‘n leesplan oor ‘n spesifieke onderwerp te gebruik. So ‘n leesplan help jou om te sien wat die Bybel op verskillende plekke oor daardie onderwerp te sê het.

Daar is weereens baie sulke leesplanne op die internet beskikbaar – ook hier op Nader In Eenvoud. As jy so ‘n leesplan gebruik, maak dan net seker jy lees ook die verse voor en na die gedeelte wat op die plan aangedui is. Op dié manier gaan jy nie maklik ‘n vers uit konteks haal en verkeerd verstaan nie.

LEES OOK: LEESPLANNE VIR DIE BYBEL

Daar is nie net een manier waarop ‘n mens die Bybel kan lees nie. En die idees hierbo is ook nie al die maniere wat jy kan probeer nie. Jy kan selfs, as jy nie altyd tyd het om te sit en lees nie, na die oudio-Bybel luister.

Die belangrike ding is dat jy op een of ander manier die Bybel inneem. God wil hê dat ons Hom moet ken en daarom het Hy die Bybel vir ons gegee. Dit is die manier waarop Hy Homself aan ons openbaar.

So, kies vir jou ‘n manier waarop jy die Bybel gaan lees, as jy dit nog nie doen nie. Probeer dit vir ‘n ruk lank en kyk hoe dit gaan. As jy sien dit werk nie vir jou nie, kies dan ‘n ander een om te probeer. Onthou, nie alle maniere werk vir elkeen van ons nie, so hou aan soek tot jy die een kry wat die beste is vir jou.