Onthou jy die dag toe die skrifgeleerde vir Jesus gevra het wat die grootste gebod in die Wet is? Jesus het geantwoord dat jy die Here moet liefhê met jou hele hart, siel, verstand en al jou krag. Toe voeg Hy by dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself.
Om ‘n mens se naaste lief te hê beteken dat jy uit jou pad gaan om die ander persoon bo jouself te stel. Jy dink nie net aan jou eie belange nie, maar ook aan dié van andere (Filippense 2:3-4). Dit beteken jy is bereid om ander te dien en in hulle behoeftes te voorsien. Dit beteken dat jy andere eerste stel.
Ons is steeds besig om te gesels oor geestelike dissiplines. Soos jy kan raai, is om andere eerste te stel ook ‘n geestelike dissipline wat jy in jou lewe kan gebruik. Voor ek vir jou ‘n paar idees gee wat jy kan gebruik om dié dissipline in jou lewe toe te pas, kom ons gesels eers oor waarom dit belangrik is om andere eerste te stel.

WAAROM ANDER MENSE EERSTE STEL?
In die eerste plek help hierdie geestelike dissipline ‘n mens om die fokus van jouself af te haal en op die mense rondom jou, te plaas.
In die tweede plek help dit jou om ‘n Christus-gesentreerde manier van dink te ontwikkel. Jesus het nooit net aan Homself gedink nie. Hy was altyd besig om te soek na geleenthede om andere op een of ander manier te help. Ook toe Hy vir ons aan die kruis gesterf het, was dit omdat Hy ons bo Homself gestel het. Hy vra dan ook van ons as God se kinders om dieselfde te doen.
Laastens is om andere eerste te stel ‘n geestelike dissipline wat jou help om van selfsug en selfgesentreerdheid ontslae te raak sodat jy geestelik kan groei.
MANIERE OM ANDERE EERSTE TE STEL.
As jy ‘n bietjie daaroor dink, gaan jy agterkom dat daar sommer baie maniere is waarop jy andere eerste kan stel. Hier is net ‘n paar idees:
WEES ‘N DIENAAR.
In Mattheus 20:28 sê Jesus dat Hy nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien. Dit is presies wat ons sienswyse ook moet wees. Maak dus ‘n punt daarvan om op die uitkyk te wees vir geleenthede waar jy andere kan dien.
Dit kan so eenvoudig wees soos om jou bejaarde buurvrou se inkopies vir haar te doen wanneer jy joune gaan doen. Of wat van die enkelma wie se motor stukkend is en nou sukkel sy om haar kinders by die skool te kry? Jy kan aanbied om haar kinders op te laai wanneer jy joune skool toe vat. Dalk ken jy ‘n gesin waar biede ouers werkloos is en regtig sukkel om werk te kry. Jy kan vir hulle bestanddele vir ‘n dag of drie se etes koop en gaan aflaai. Jy kan selfs so nou en dan vir hulle ‘n spesiale ete kook en gaan aflaai.
Sien jy hoe eenvoudig dit is om ander te dien en hulle eerste te stel?

Hê DEERNIS MET ANDERE.
Jy kan ook andere eerste stel deur deernis te hê met diegene wat siek is, iemand aan die dood afgestaan het, ‘n werk verloor het, of deur die samelewing geïgnoreer word, om maar ‘n paar te noem.
Dalk kan jy vir die een wat siek is gaan kuier en vir hom bid en hom moed inpraat.
Jy kan die een wat ‘n geliefde aan die dood afgestaan het, besoek en met haar gesels oor haar geliefde. Mense wil graag praat oor die een wat hulle verloor het, so luister, vra vrae, vertel jou eie stories oor daardie een, as jy hom geken het.
Jy kan aandag gee aan diegene wat deur die samelewing geïgnoreer word. Jy kan by hulle stilstaan, met hulle praat, hulle uitvra oor hulle lewe. En as daar iets is wat jy vir hulle kan doen om die lewe ‘n bietjie makliker te maak, kan jy dit ook doen.
RAAK BETROKKE BY ‘N ORGANISASIE.
Daar is baie mense en groepe mense in hierdie wêreld wat sukkel en nie regtig ‘n stem het nie. Gelukkig is daar gewoonlik ‘n organisasie of twee wat veg vir die regte van dié mense en wat hulle probleer help.
Is daar so ‘n organisasie wat jou na aan die hart lê? Dalk het jy ‘n hart vir kinders wat swaarkry en verwaarloos word. Soek dan ‘n organisasie wat hierdie kinders help. Jy kan aanbied om as vrywilliger op een of ander manier by hulle betrokke te raak. Jy kan hulle ook finansieel ondersteun.
Dalk is enkelma’s ‘n groep wat vir jou belangrik is. Soek dan ‘n organisasie wat sulke vrouens ondersteun en raak daar betrokke.
Dink ‘n bietjie oor watter mense of groepe mense jou na aan die hart lê, wat jy graag wil help, en ondersteun dan op een of ander maniere ‘n organisasie wat sulke mense help. En as jy nie so ‘n organisasie kan kry nie, is die Here se plan dalk dat jy self ‘n organisasie begin om hulle te help!
RAAK BETROKKE BY JOU GEMEENSKAP.
Nog ‘n manier om andere eerste te stel, is om betrokke te raak by jou gemeenskap.
Is daar ‘n Bybelstudiegroep by jou kerk? Sluit by hulle aan. Jy gaan nie net meer leer oor die Here en die Bybel nie, maar gaan ook betrokke raak by die lief en leed van diegene wat saam met jou in die groep is. ‘n Mens weet nooit wie jy in só ‘n groep gaan raakloop, in wie se lewe die Here jou op een of ander manier wil gebruik nie. En wie weet, dalk loop jy iemand raak wat die Here in jóú lewe wil gebruik!
As jy reeds deel is van ‘n Bybelstudiegroep, dink dan ‘n bietjie wyer. Is daar iets anders waarby jy kan aansluit, waar jy mense gaan ontmoet en by hulle lewens betrokke kan raak? Dalk ‘n boekklub, of een of ander sportklub, of ‘n groep wat saam ‘n spesifieke stokperdjie beoefen. Doen navorsing oor die verskillende dinge wat in jou dorp en gemeenskap aangaan en besluit dan waarby jy betrokke kan raak.
DIE EERSTE STAP.
Die idees hierbo is net ‘n paar maniere wat jy kan gebruik om jouself te oefen om andere eerste te stel. Maar voor jy een van dié maniere kies en dit in jou lewe begin toepas, gaan jy eers een belangrike ding moet doen.
Jy gaan ‘n kwaliteit besluit moet neem dat jy van nou af ander mense eerste gaan stel in hoe jy elke dag jou lewe leef. En dan gaan jy by die Here moet stilword en Hom moet vra om jou daarmee te help. Sonder Sy hulp, gaan jy nie ver kom nie, want sonder Hom kan ons niks doen nie.
So, neem die besluit dat jy ander mense eerste wil stel. Vra die Here om jou daarmee te help. En selfs al voel jy nie nou dat jy regtig altyd ander mense eerste stel nie, vertrou Hom dat Hy jou sal help om daardie geloofspier te oefen totdat jy andere bo jouself stel sonder om eers twee keer daaroor te dink!
VORIGE ARTIKELS IN DIE REEKS.
GEESTELIKE DISSIPLINES: GROEI GEBEUR NIE VANSELF NIE
MAAK STILTETYD EEN VAN JOU GEESTELIKE DISSIPLINES
HOE OM BYBELVERSE TE MEMORISEER
SABBATSRUS: HERSTEL GOD SE RITME IN JOU LEWE
WAAROM JY ‘N GEESTELIKE JOERNAAL MOET HOU
GEBED AS GEESTELIKE DISSIPLINE: WORD MEER SOOS JESUS
OORDINK DIE WOORD EN VERDIEP JOU STILTETYD
