HOE OM JOU DAG SAAM MET GOD TE OORDINK

Ek weet nie van jou nie, maar ek wil graag heeltyd deur die dag bewus wees daarvan dat die Here by my is. Ek wil aan Hom dink en met Hom gesels. Hy moenie net die Een wees na wie toe ek hardloop wanneer ek ‘n probleem het, wat ek nie self kan oplos nie. Nee, ek wil hê Hy moet so baie in my gedagtes wees, dat ek nie anders kan as om heeltyd van Hom bewus te wees nie. Ongelukkig kry ek dit nog nie so lekker reg nie. Soms, as ek besig is, vergeet ek van Hom. Ek is seker ek is nie die enigste gelowige wat hiermee sukkel nie!

Dit is waarom die geestelike dissipline wat ek vandag met jou wil deel, soveel waarde het. Dis ‘n dissipline wat jy gebruik om jou te help om op te let waar in jou dag jy die Here se Teenwoordigheid, Sy hand en Sy werk in jou lewe kan raaksien.

In Engels staan hierdie dissipline bekend as die “Daily Examen”. Ek is nie seker of daar ‘n bestaande Afrikaanse term daarvoor is nie, so ons noem dit sommer ‘Oordink Jou Dag Saam Met God’.

oordink jou dag saam met God

Daar is verskillende maniere om jou dag saam met God te oordink, maar die vyf basiese stappe bly altyd dieselfde.

Soek vir jou ‘n stil plek, waar niemand jou gaan pla nie. Sit jou selfoon af of los dit in ‘n ander vertrek, sodat dit nie jou aandag kan aftrek nie. Word nou stil en fokus in jou gedagtes op die Teenwoordigheid van die Here.

Sommige mense voel dit help hulle om Jesus se Naam oor en oor in hulle gedagtes te herhaal, tot hulle voel hulle is rustig en bewus van Hom by hulle. Ander sê weer ‘n eenvoudige asemgebed help hulle hiermee. Jy kan natuurlik ook vir Jesus vra om jou rustig te maak en jou te help om bewus te wees daarvan dat Hy by jou is.

Dit maak nie regtig saak watter manier jy gebruik om stil te word en op die Here te fokus nie, so kies iets wat vir jou werk.

Jou volgende stap is om saam met die Here te dink oor alles wat gedurende die dag gebeur het. Wat het jy gedoen? Wat se emosies het jy ervaar? Met watter mense was jy in aanraking?

Kyk veral ook waar in jou dag jy die Here raaksien. Het Hy jou gehelp in ‘n moeilike situasie? Het Hy in ‘n behoefte voorsien? Dalk het Hy jou beskerm toe jy dit nodig gehad het of jou bemoedig deur iemand wat jy raakgeloop het. Waar in jou dag sien jy Sy Teenwoodigheid of Sy hand aan die werk in jou lewe?

Sê vir Hom dankie vir alles wat jy beleef het en vir hoe Hy in jou lewe gewerk het.

Die volgende stap is om dieper na te dink oor die emosies wat jy gedurende die dag ervaar het. Dit sluit die positiewe sowel as die negatiewe emosies in.

Is daar iets wat jy dink die Here vir jou deur daardie emosies wou sê? Die Bybel sê byvoorbeeld dat Jesus by meer as een geleentheid mense innig jammer gekry het en hulle gehelp het deur siekes gesond te maak, hulle te leer, te voed, ensovoorts. Het jy gedurende die dag ‘n emosie ervaar wat God gebruik het om jou te lei om iets vir iemand te doen? Wóú Hy daardie emosie gebruik, maar jy het dit geïgnoreer?

Dink ook na of die Here dalk vir jou iets wil sê oor van die emosies wat jy ervaar het. Jy het dalk iewers deur die dag geïrriteerd geraak met iemand. Wys die Here jou dalk daarop dat jy nie in daardie geval liefde uitgeleef het nie?

‘n Mens dink nie saam met God na oor jou dag sonder om bewus te raak van die kere waar jy liefdeloos opgetree het teenoor Hom of teenoor die mense wat jou pad gekruis het nie. Jy raak ook bewus van al die kere wat jy, deur die dag, ongehoorsaam was aan Hom en sonde gedoen het.

Jou volgende stap is om al hierdie dinge voor die Here te bely en Hom om vergifnis te vra.

Die laaste stap is om te dink oor die volgende dag en al die dinge wat dan op jou wag. Neem sommer nou al die besluit om dié dag jou lewe vir die Here te leef. Vra Hom om jou deur die dag te lei, om jou te help om bewus te bly van Sy Teenwoordigheid, om in jou te werk en jou te help om jou lewe vir Hom te leef. En sien dan met verwagting uit na die volgende dag en na alles wat jy en Hy saam gaan doen.

Daar is drie verskillende maniere hoe ‘n mens hierdie geestelike dissipline kan gebruik.

Jy kan dit aan die einde van die dag gebruik en saam met die Here oor jou hele dag nadink.

Of jy kan dit so teen middagete se kant gebruik om na te dink oor die oggend wat verby is.

Jy kan dit ook gebruik om oor die laaste drie ure van jou dag na te dink.

Nie een van die maniere is beter as ‘n ander een nie. Gebruik die dissipline dus soos dit vir jou die beste gaan werk.

Hier is nog ‘n klompie wenke en idees wat jy kan gebruik wanneer jy saam met die Here nadink oor jou dag:

As jy lief is vir skryf, kan jy alles wat jou opval terwyl jy jou dag oordink, in ‘n joernaal of notaboek neerskryf. Jy kan ook jou gebede daarin skryf. Dis nie iets wat jy móét doen nie, maar dit kan jou help om meer uit die dissipline te kry en om gefokus te bly.

‘n Asemgebed is ‘n kort, eenvoudige gebed wat jy ‘n paar keer stadig bid op die ritme van jou asemhaling om jou hart en gedagtes op God te fokus. Dit kan iets wees soos:

Inasem: Here Jesus Christus.
Uitasem: ontferm U oor my.

Of:

Inasem: U is my vrede.
Uitasem: Ek vertrou op U.

Jy kan enige frase en ook Bybelverse gebruik as ‘n asemgebed. Maak net seker dis kort, dit beteken iets vir jou en dat dit Die sleutel is dat dit maklik is om op jou asem se ritme te bid.

As jy ‘n vreeslike besige dag gehad het, kan dit onmoontlik voel om oor jou hele dag na te dink. In só ‘n geval is dit ‘n goeie idee om een of ‘n paar spesifieke gebeurtenisse van die dag te kies en daaroor na te dink.

Ons besef dit nie altyd nie, maar die Here kan ‘n mens se emosies gebruik om met jou te praat. Maak dus ‘n punt daarvan om na te dink oor die emosies wat jy gedurende die dag ervaar het en vra die Here wat Hy vir jou deur hulle wil sê.

‘n Mens is geneig om te dink die Here is teenwoordig in dit wat skouspelagtig is. Maar die lewe bestaan meestal uit alledaagse oomblikke met net so hier en daar iets wat dalk skouspelagtig is. Wees dus op die uitkyk vir die Here se Teenwoordigheid in die alledaagse oomblikke en details van jou dag. Jy sal verbaas wees hoeveel keer jy Hom raaksien as jy hierop begin fokus.

Wanneer ons elke dag saam met die Here oordink, leer ons om Hom raak te sien in die gewone en om sensitief te wees vir Sy stem en leiding. Hierdie eenvoudige dissipline help ons om stadig maar seker te groei in ‘n lewe wat bewustelik saam met God geleef word — nie net in die groot oomblikke nie, maar ook in die alledaagse. En is dit nie juis daar waar ons Hom die nodigste het nie?

GEESTELIKE DISSIPLINES: GROEI GEBEUR NIE VANSELF NIE

MAAK STILTETYD EEN VAN JOU GEESTELIKE DISSIPLINES

HOE OM BYBELVERSE TE MEMORISEER

SABBATASRUS: HERSTEL GOD SE RITME IN JOU LEWE

WAAROM JY ‘N GEESTELIKE JOERNAAL MOET HOU

GEBED AS GEESTELIKE DISSIPLINE: WORD MEER SOOS JESUS

OORDINK DIE WOORD EN VERDIEP JOU STILTETYD

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *