WAAROM DIE BYBEL NEERSKRYF?

As jy al ‘n rukkie by ons is, dan het jy seker al gelees ek skryf dis ‘n goeie idee om die Bybel nie net te lees of studeer nie, maar om dit ook te skryf.

Jy kan dit op verskeie maniere doen. Jy kan net die vers of verse wat vir jou uitstaan wanneer jy lees, neerskryf. Maar jy kan ook ‘n hele paragraaf of hoofstuk of selfs boek van die Bybel neerskryf.

Daar is selfs mense wat die Bybel, van Genesis tot Openbaring, neergeskryf het.

As jy mooi daaroor dink, dan besef jy dat dit die manier was hoe die Bybel in die ou tyd, toe daar nog nie ‘n ding soos ‘n drukpers was nie, van generasie na generasie oorgedra is.

Mense het die Bybel met die hand van ‘n bestaande manuskrip af neergeskryf.

Nou wonder jy dalk waarom ‘n mens vandag dele van die Bybel of selfs die hele Bybel sou wou neerskryf? Ons het immers klaar die hele Bybel in gedrukte vorm!

Wel, om die Bybel neer te skryf is beslis nie ‘n mors van tyd nie. Daar is baie voordele daaraan verbonde, maar hier is net vier voordele.

Die Bybel neerskryf

Ek kan baie vinnig lees. Soms is dit ‘n goeie ding, ander kere nie.

Dis veral nie so ‘n goeie ding wanneer ek die Bybel lees nie.

Omdat ek vinnig lees, mis ek maklik van die belangrike inligting in die teks.

Maar wanneer ek die teks skryf, forseer dit my om stadig deur die teks te lees. Dit breek as’t ware my leesspoed!

En wanneer ek stadiger lees, let ek beter op wat in die teks staan en mis ek nie belangrike inligting nie.

As jy ook ‘n vinnige leser is, dan gaan om die teks te skryf verseker ook jou leesspoed breek en jou help om op ‘n dieper manier na die teks te kyk.

‘n Mens besef dit nie altyd nie, maar enige informasie wat jy hoor of sien, het tyd nodig om geprossesseer te word.

As ‘n mens net die Bybel lees, gebeur dit nie altyd nie.

Ek is seker jy het ook al dae beleef waar jy ‘n gedeelte uit die Bybel gelees het, maar later kon jy glad nie onthou wat jy gelees het nie. En jy het dalk ook nie mooi verstaan wat jy gelees het nie.

Jy sien, wanneer ‘n mens net lees, dan dink jy nie regtig oor wat jy lees nie. Maar wanneer jy skryf, begin jy daaroor dink ook. En as jy daaroor dink, dan begin jy die teks beter verstaan ook.

Wanneer ‘n mens lees, lees jy in sinne. Jy let nie altyd op na die individuele woorde wat die sin opmaak nie.

En dit kan ‘n probleem wees, want soms is een woord die sleutel wat jou help om ‘n hele paragraaf of hoofstuk te verstaan.

Wanneer jy die Bybel neerskryf, dan begin jy meer raaksien. Jy sien die individuele woorde.

Jy sien dalk ‘n woord in die gedeelte, wat jy nog nooit voorheen opgelet het nie, wat jou help om die gedeelte beter te verstaan.

Of jy sien ‘n woord wat jy nie verstaan nie. En as jy die betekenis nagaan, help dit jou om die gedeelte beter te verstaan.

Om die teks neer te skryf, help jou dus om nie belangrike inligting te mis nie.

Dit is nou maar eenmaal so dat ‘n mens die dinge wat jy neerskryf, beter onthou.

As jy dus wil onthou wat jy in jou Bybel gelees het, dan is om dit neer te skryf ‘n goeie idee.

Jy gaan dalk nie die hele gedeelte wat jy geskryf het, onthou nie, maar jy gaan beslis sommige dele daarvan onthou.

En hoe meer kere jy ‘n sekere gedeelte skryf, hoe meer gaan jy daarvan onthou.

As hierdie artikel jou inspireer om die Bybel te begin neerskryf, dan het ek vandag vir jou ‘n uitdaging.

Jy kan HIER ‘n gratis PDF aflaai, wat jy kan gebruik om in 30 dae die hele Efesiërs asook Kolossense neer te skryf.

Die idee is dat jy dit in 30 dae se tyd doen, maar jy kan dit ook stadiger doen en elke dag net ‘n vers of vyf neerskryf. Merk dan net op die skryfplan wanneer jy ‘n spesifieke hoofstuk klaar neergeskryf het.

En vertel sommer vir ander mense ook van hierdie artikel en van die uitdaging. ‘n Mens weet nooit wie se lewe jy kan verreik deur dit met hulle te deel nie.