Jy het seker al agtergekom dat ons in ‘n wêreld leef wat nooit tot stilstand kom nie. Ons dra ons besig-wees soos ‘n ‘badge of honour’ en sien rus baie keer as iets waarvoor jy moet ‘werk’ of wat jy eers moet ‘verdien’. Maar van die begin van die wêreld af het die Here ‘n ander ritme vir die mens beplan. Hy het ons nie geskep om onophoudelik te werk nie. Hy het ons geskep vir rus – vir herstel, vir verhouding, vir teenwoordigheid. Daarom is Sabbatsrus nie net ‘n mooi idee nie; dit is ‘n geestelike dissipline wat ons help om nader aan God te leef.

GOD HET EERSTE GERUS.
In Genesis 2:1-2 lees ons: “Die hemel en alles daarin is voltooi… Op die sewende dag was God reeds klaar met die skeppingswerk en het Hy gerus na al die werk wat Hy gedoen het.”
God het ses dae lank geskep en toe gerus, nie omdat Hy moeg was nie, maar omdat Hy klaar was. In vers 3 lees ons Hy het die sewende dag as gereëlde rusdag geheilig. Van die begin af was daar dus ‘n ritme ingebou in skepping: werk en dan rus. Wanneer ons ook kies om te rus, volg ons God se voorbeeld. Ons eer Hom deur te erken: my werk hoef nie aan te hou nie, want U is die Een wat alles onderhou.
RUS AS OPDRAG.
In Eksodus 20 gee God die Tien Gebooie vir die Israeliete. In verse 8–11 lees ons: “Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou. Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie. Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig.”
Om die Sabbatdag heilig te hou was dus nie ‘n voorstel nie, maar ‘n opdrag. Dit was veronderstel om ‘n dag van rus te wees waar die mense ophou werk sodat hulle op God kan fokus en Hom kan onthou.
Sabbatsrus is dus nie net vir ons voordelig nie; dit is gehoorsaamheid. Dis ‘n weeklikse herinnering dat God die Een is wat na ons omsien, vir ons sorg, ons onderhou – dis nié ons werk nie. Dit herinner ons daaraan dat ons identiteit nie in ons prestasies en wat ons alles bereik lê nie, maar in Christus en ons verhouding met Hom.
JESUS: RUS IN DIE VLEES.
In Lukas 4:16 lees ons dat Jesus, soos Sy gewoonte was, op die Sabbatdag na die sinagoge gegaan het. Hy het die rusdag onderhou, hoewel Hy baie dinge gedoen het wat die Fariseërs en skrifgeleerdes nie gedink het mens moet op die Sabbatdag doen nie. Daarom sê Jesus in Markus 2:27 vir hulle: “Die sabbatdag is vir die mens gemaak en nie die mens vir die sabbatdag nie”. Hy onderhou nie die Sabbat op ‘n wettiese wyse nie, maar as deel van Sy verhouding met die Vader. Hy herstel dit tot wat dit veronderstel was om te wees: ‘n dag van rus, herstel en ontmoeting met God.
En meer nog – in Hom vind ons dieper rus. “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee” (Mattheus 11:28). Jesus is ons ewige Sabbatsrus. Wanneer ons Sy voorbeeld volg en Sy teenwoordigheid kies, word Sabbatsrus nie net ‘n dag nie, dit word ‘n lewenswyse.
HOE LYK SABBATSRUS VIR VANDAG SE GELOWIGE?
Ons leef nie meer onder die Ou-Testamentiese wette wat God vir Moses gegee het nie, maar die beginsel van Sabbatsrus geld steeds. Dis ‘n geestelike ritme wat ons help om ons harte na die Here te draai en ons liggame en siele te vernuwe. Sabbatsrus is nie ledigheid of luiheid nie. Dis ‘n doelbewuste keuse om teen die ritme van die wêreld in te leef, en in die ritme van genade te beweeg.
Rus sê: Ek vertrou God met my tyd. Ek glo Hy sorg. Ek mag rus, want Hy is in beheer.
WAT KAN JY OP DIE SABBAT DOEN OM DIE HERE TE EER?
Sabbatsrus gaan nie net oor wat jy nie doen nie, maar ook oor wat jy wel doen om die dag heilig te maak en aan die Here toe te wy. Hier is ‘n paar idees:
TYD SAAM MET GOD.
Gaan kerk toe of kyk na aanlyn na ‘n erediens.
Lees die Bybel sonder om te jaag – net om by God te wees.
Bid rustig en lank, sonder ‘n lys.
Skryf in ‘n joernaal wat jy by Hom hoor.
TYD VIR VERHOUDINGS.
Spandeer tyd saam met jou gesin of vriende in die geloof.
Eet saam – sonder om te jaar.
Gesels oor wat God in julle lewens doen.
TYD VIR HERSTEL.
Vat ‘n middagslapie.
Gaan stap in die natuur en bewonder die Here se skepping.
Lees ‘n inspirerende boek wat jou siel voed.
TYD VIR VERTROUE.
Moenie werk nie. Los e-posse, skoonmaak en al jou administratiewe take vir ‘n ander dag.
Wees teenwoordig in vandag, sonder om jou te bekommer oor môre.
Dank die Here spesifiek vir Sy voorsiening die afgelope week.
ANDER IDEES.
Skakel jou foon vir ‘n paar uur af of probeer om sommer die hele dag nooit daarna te kyk nie.
Doen iets kreatief soos teken, brei, bak, of skryf vir jou eie vreugde.
Luister na musiek wat jou help om op Jesus te fokus.
Wanneer ons begin om weekliks tyd maak vir rus en aanbidding, sien ons hoe dit ons verander:
Jou siel vind vrede.
‘Ons’n mens se liggaam herstel.
Jou verhoudings verdiep.
Jou geloof groei.
En jou fokus skuif van selfgerigtheid na Godgerigtheid.
Sabbatsrus herinner ons dat ons nie die wêreld hoef te dra nie. God doen dit.
SLOTGEDAGTE: RUS IS AANBIDDING.
Die Here roep jou om te rus, om stil te word, om weer te onthou dat Hy genoeg is. So, maak ‘n punt daarvan om elke week een dag opsy te sit en gebruik dit vir Sabbatsrus. Maak dit ‘n dag van alles wat werklik saak maak. Maak dit ‘n dag vir God.
ANDER ARTIKELS IN DIE REEKS.
Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels oor geestelike dissiplines:
GEESTELIKE DISSIPLINES: GROEI GEBEUR NIE VANSELF NIE
