MAAK STILTETYD DEEL VAN JOU GEESTELIKE DISSIPLINES

Ons het twee weke gelede begin met ‘n reeks geselsies oor geestelike dissiplines. Geestelike dissiplines is eenvoudige gewoontes wat Christene al vir eeue lank gebruik om hulle te help om tyd met die Here te spandeer, Sy stem te hoor en hulle harte oop te maak sodat Hy in hulle kan werk om hulle meer soos Jesus te maak.

Daar is sommer ‘n hele klomp geestelike dissiplines waaruit ‘n mens kan kies. Dink aan dinge soos stiltetyd, gebed, die memorisering van skrifgedeeltes, Bybelstudie, Sabbatsrus en nog baie meer.

Vandag wil ek ‘n bietjie met jou gesels oor die eerste een in daardie lysie: stiltetyd. Dis een van die onderwerpe waaroor ons nogal baie hier by Nader In Eenvoud gesels. Ek het selfs ‘n gids met die naam, By Jesus Se Voete, wat jy kan gebruik om jou te help as jy nog nooit voorheen stiltetyd gehou het nie. Maar kom ons kyk sommer in kort na die geestelike dissipline van stiltetyd en hoe jy dit ‘n daaglikse gewoonte kan maak.

Stiltetyd as geestelike dissipline

Begin deur ‘n spesifieke plek te kies waar jy elke dag alleen en sonder enige onderbrekings, saam met die Here kan wees. Dis nie die plek wat heilig is nie, maar jy sal gou begin voel dat dit ‘n heilige ruimte wórd, net omdat jy die Here daar ontmoet.

Dalk is dit jou kombuistafel, ‘n hoekie in jou kamer, of jou tuinbankie. Kies net ‘n plek waar jy gemaklik is en waar niemand jou gaan pla nie.

Wanneer is jy wakker en gefokus? Oggend, middag, of aand – kies ’n tyd wat regtig vir jóú werk.

Begin met net 10 tot 15 minute per dag. Jy kan altyd later meer tyd bysit. Die geheim is om in die gewoonte te kom om stiltetyd te hou en jy doen dit deur dit elke dag te doen.

Nou wonder jy dalk, wat doen ‘n mens wanneer jy stiltetyd hou? Hier is ‘n eenvoudige 3-stap plan – my gunsteling “toebroodjie”-metode:

Praat met God – Begin met gebed. Loof die Here vir wie Hy is. Bely jou sondes. Vra vir Sy hulp om te hoor wat Hy vandag vir jou wil sê.

Luister na God – Lees ‘ n kort Bybelgedeelte. Vra: Wat sê God hier? Wat leer ek oor Hom – Sy karakter, wil, manier van doen? Wat beteken dit vir my lewe?

Praat weer met God – Sluit af met gebed. Sê dankie. Vra vir leiding om toe te pas wat jy geleer het. Bid vir ander. En deel sommer net jou hart met die Here.

Jy kan ook die VOLG-stiltetyd-metode gebruik. Daar is ‘n gratis PDF beskikbaar wat jy kan gebruik om die verskillende stappe van die metode te onthou.

Dit is nou maar eenmaal so dat ‘n mens die dinge wat jy neerskryf, beter onthou.

So, skryf neer wat jy gelees het, wat vir jou uitgestaan het, en wat jy dink die Here vir jou wil sê. Dit word jou eie geestelike storieboek – iets wat jy later weer kan lees en wat jou opnuut weer kan bemoedig.

Moenie wag om te ‘voel’ jy wil stiltetyd hou voor jy dit doen nie. Doen dit selfs al voel jy die dag nie lus daarvoor nie.

Besluit dat jy dit vir 30 dae aaneen gaan doen, al is dit net vir ‘n paar minute per dag. Jy is besig om ‘n geestelike spier te bou en, soos alle spiere, groei dit en word dit sterker hoe meer jy dit gebruik.

En as jy een dag mis? Moenie moed opgee nie. Begin net weer.

Dis goed om aan die begin, wanneer jy in die gewoonte wil kom om stiltetyd te hou, altyd dieselfde dinge te doen. Maar wanneer jy eers die gewoonte aangeleer het, kan jy van hierdie idees probeer:

Volg ‘n spesifieke Bybelleesplan.
Luister na ‘n geestelike lied of preek.
Skryf jou eie gebede neer.
Skryf ‘n klompie dinge waarvoor jy dankbaar is, neer.
Gebruik ‘n oordenkingsboek.
Memoriseer ‘n vers.
Sit net stil en geniet die Here se Teenwoordigheid.

Onthou, stiltetyd is nie iets wat jy verplig is om te doen nie. Dis ‘n uitnodiging van die Here om tyd saam met Hom te spandeer. Begin dus vandag nog om stiltetyd te hou, as jy dit nie al klaar doen nie. Kry jou spesiale plek. Maak tyd daarvoor. Wees net daar en laat die Here die res doen.

Jy sal verbaas wees hoe Hy jou begin verander, een stiltetyd op ‘n slag.

Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels oor Geestelike Dissiplines:

GEESTELIIKE DISSIPLINES: GROEI GEBEUR NIE VANSELF NIE

HOE OM BYBELVERSE TE MEMORISEER

SABBATSRUS: HERSTEL GOD SE RITME IN JOU LEWE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *