ALLEEN SAAM MET DIE HERE

Ons leef in ‘n tyd waar geraas so algemeen geword het, dat baie van ons al amper verslaaf is daaraan. Ons voel ongemaklik wanneer daar stilte is en is vinnig om ons fone te gryp en na ‘n ‘podcast’ of na musiek op Spotify te luister. Of ons sit sommer net die radio of TV aan, net sodat die stilte gebreek kan word.

En as jy nie ‘n introvert is, wat nie ordentlik kan funksioneer sonder gereelde tyd met net jou eie geselskap nie, is alleenwees vir meeste van ons ook nou nie juis iets waarvan ons baie hou nie.

Alleentyd saam met die Here

In 1 Konings 18 lees ons van die dag toe Elia die priesters van Baäl gewys het daar is net een God, en dit is die God van Israel. Gaan lees gerus die storie, as jy dit nie ken nie. Dit was ‘n absolute bergkruin-ervaring wat Elia met God gehad het. Maar dan lees ons in die volgende hoofstuk dat Elia net daarna ‘n totale vallei-ervaring het toe hy hoor Isebel is daarop uit om hom terug te kry vir wat met Baäl en die priesters gebeur het, wanneer sy dreig om hom dood te maak.

Elia vlug vir sy lewe. In die woestyn gaan sit hy onder ‘n besembos en kry homself so jammer, dat hy sommer wens hy kan doodgaan. Die Here ontmoet hom egter daar en gee vir hom die krag om veertig dae en veertig nagte lank te loop tot by die berg van God, die berg Horeb.

Daar ontmoet die Here hom weer en sê vir hom hy moet op die berg voor Hom kom staan, want Hy wil verbygaan.

Eers was daar ‘n baie sterk wind wat die berg stukkend ruk en die rotse breek. Maar die Here was nie in die wind nie.

Volgende is daar ‘n aardbewing. Maar die Here is ook nie in die aardbewing nie.

Dan volg daar ‘n vuur. Maar weereens is die Here ook nie in die vuur nie.

Laastens is daar ‘n fluistering in die windstilte. Toe Elia dit hoor, maak hy sy gesig toe met sy mantel, want hy weet God is daar.

As jy al ooit ‘n stormwind beleef het, sal jy weet dis ‘n lawaaierige storie. Selfs net ‘n effense swaar wind maak al ‘n lawaai.

En as daar al ‘n aardbewing in jou omgewing was, weet jy dit maak ook ‘n geraas. Selfs net ‘n ligte een maak so ‘n geluid dat ‘n mens nie kan mis dat daar iets aan die gebeur is nie.

En wat van ‘n vuur? Dit maak ook ‘n lawaai. Dink maar aan die laaste keer wat jy naby ‘n veldbrand was. Onthou jy die lawaai?

Al hierdie dinge maak ‘n groot lawaai. Val dit jou ook op dat die Here nie in dié dinge was nie?

Maar na al die geraas ophou is daar windstilte. En in die windstilte is ‘n fluistering. God is daar.

Ek het netnou genoem dat ons so gewoond is aan lawaai, dat stilte vir baie van ons ongemaklik is. Maar dis juis in die stilte waar ons vir God moet ontmoet.

Dis wanneer dit stil en rustig rondom ons is, wat ons regtig op God kan fokus in Sy Woord en in gebed en regtig kan hoor wat Hy vir ons wil sê.

So, kom ons gesels oor ‘n paar maniere wat jy kan gebruik om rustig te word, die lawaai rondom jou stil te maak, en kwaliteittyd saam met God te spandeer.

Om elke dag, iewers in jou dag, alleentyd met die Here te spandeer, is die maklikste manier om tyd weg van die geraas saam met Hom deur te bring.

As jy nog nooit regtig ‘n daaglikse stiltetyd met die Here gehad het nie en jy wil graag meer daaroor weet, dan is By Jesus Se Voete, ons stiltetydgids vir beginners, net waarna jy soek.

Dit is in ons aanlyn-winkel beskikbaar, so maak sommer nou ‘n draai daar, kry die gids en begin om elke dag tyd saam met die Here te spandeer.

Nog iets wat jy kan probeer, is om elke nou en dan vir ‘n paar uur of selfs ‘n paar dae weg te breek van jou daaglikse lewe en verantwoordelikhede, en ‘n tyd van afsondering saam met God te geniet. In Engels word hierdie tipe afsondering ‘n ‘retreat’ genoem.

Daar is verskillende maniere hoe jy hierdie tyd van afsondering kan beplan. Jy kan byvoorbeeld, wanneer jou gesin dalk vir ‘n paar uur nie by die huis is nie en jy is alleen, daardie tyd gebruik as ‘n tyd van afsondering. Of jy kan, as daar ‘n park naby jou is waar dit veilig is, jou afsonderingstyd in die park deurbring. Jy kan dit selfs in jou eie tuin doen! Om so in die natuur saam met die Here te wees, is vir meeste mense ‘n groot seën en gee hulle sommer weer moed vir die lewe.

Maar wat nou as jy graag vir ‘n paar dae tyd saam met die Here wil deurbring? Dan kan jy plek in ‘n gastehuis of ‘n hotel bespreek, sodat jy alleen kan wees en rus en stilte hê.

En wat doen jy tydens jou tyd van afsondering? Daar is weereens so baie wat jy kan doen! Hier is ‘n paar idees:

  • Tyd in gebed: Fokus op lofprysing, danksegging, intersessie en om sommer net met die Here te gesels.
  • Tyd in aanbidding: Gebruik musiek of ander kreatiewe dinge soos dans om op die Here te fokus en Hom te aanbid vir wie Hy is en wat Hy doen.
  • Tyd in jou Bybel: Doen ‘n Bybelstudie oor ‘n spesifieke gedeelte, tema of karakter in die Bybel. Of lees sommer net die verhale van verskillende karakters en kyk hoe die Here in hulle lewens werk.
  • Tyd in jou joernaal: Dink na oor wat in jou kop aangaan, hoe jy voel en wat jy beleef en skryf daaroor in jou joernaal. Jy sal verbaas wees om te sien hoe ‘n mens ‘inskakel’ op wat God vir jou probeer sê wanneer jy dinge in jou joernaal oordink.
  • Tyd in stilte: Gebruik van jou afsonderingstyd om sommer net stil by die Here te wees. Moet niks probeer doen nie, wees net en geniet Sy Teenwoordigheid.
  • Tyd in die natuur: Gaan stap ‘n entjie en geniet die Here se handewerk in die natuur. Of sit sommer net in jou tuin en kyk na al die mooi dinge wat jy rondom jou kan sien, wat die Here gemaak het en onderhou.
  • Tyd om te rus: ‘n tyd van afsondering saam met die Here hoef nie net te fokus op die geestelike nie. Onthou, die Here het jou liggaam ook gemaak en jou die behoefte gegee om te rus en te slaap. Maak dus ‘n punt daarvan, as jy vir ‘n dag of ‘n paar dae afsonderingstyd het, om sommer ‘n middagslapie ook te geniet.

Hierdie is net ‘n paar dinge wat jy kan doen in jou afsonderingstyd met die Here. Hou ook hierdie wenke in gedagte:

  • Maak seker die plek wat jy kies vir jou tyd van afsondering is stil, rustig, en gemaklik. Kry verkieslik ‘n plek waar jy nie gepla gaan word nie.
  • Jy kan voor die tyd beplan hoe jy jou tyd gaan spandeer, maar moenie bekommerd wees as jy van die plan afdwaal nie. Onthou, die Here spandeer die tyd saam met jou en Hy kan jou altyd lei om iets anders te doen as wat jy beplan het.
  • Kry alles wat jy gaan nodig hê, voor die tyd gereed en bymekaar. Dis nou dinge soos jou Bybel, joernaal, skryfbehoeftes, Bybelstudie (as jy een gaan nodig hê), peuselhappies en drinkgoed.
  • Los jou foon by die huis, as jy kan. As dit nie moontlik is nie, sit dan ten minste alle notifikasies af sodat jy nie heeltyd gepla word deur die gepieng van jou foon nie.
  • Moenie mik vir perfeksie in jou afsonderingstyd nie. Laat jouself toe om net teenwoordig te wees en die Here se Teenwoordigheid, liefde en genade in te drink. Dit gaan immers oor alleentyd saam met Hom en nie oor hoe perfek jy dit doen nie.

Dit is belangrik om tyd maak om weg te breek van die daaglikse lawaai en verantwoordelikhede, sodat ons doelbewus alleen saam met die Here kan wees. Dis in alleentyd saam met Hom waar ons harte weer vol word van Sy liefde, vrede en wysheid. Dis dan wanneer ons weer agterkom Hy praat met ons, ons het net nie Sy stem gehoor tussen al die gewone lawaai van elke dag nie.

Vandag wil ek jou dan nou ook aanmoediging om nie hierdie uitnodiging van die Here mis te loop nie. Begin met net ‘n daaglikse stiltetyd. Voeg later tyd by waar jy vir ‘n uur of drie tyd met die Here spandeer. En, as jy enigsins kan, voeg dan ook so nou en dan tyd by waar jy vir ‘n paar dae alleen saam met die Here kuier. Jy sal vinnig agterkom daar is niks so kosbaar soos tyd in Sy Teenwoordigheid nie!

GEESTELIKE DISSIPLINES: GROEI GEBEUR NIE VANSELF NIE

MAAK STILTETYD EEN VAN JOU GEESTELIKE DISSIPLINES

HOE OM BYBELVERSE TE MEMORISEER

SABBATSRUS: HERSTEL GOD SE RITME IN JOU LEWE

WAAROM JY ‘N GEESTELIKE JOERNAAL MOET HOU

GEBED AS GEESTELIKE DISSIPLINE: WORD MEER SOOS JESUS

OORDINK DIE WOORD EN VERDIEP JOU STILTETYD

HOE OM JOU DAG SAAM MET GOD TE OORDINK

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *