OORDINK DIE WOORD EN VERDIEP JOU STILTETYD

As jy voel jy weet nie waar om te begin om die Bybel te probeer verstaan nie, is jy nie alleen nie. Baie van ons voel onseker of ons die Bybel “reg” verstaan, en ons verkies dit om eerder te lees wat ander daaroor sê. Maar die Here wil hê jy moet self Sy Woord lees en studeer en Hy het jou Sy Gees gegee om jou te help (Johannes 14:26).

Daarom wil ek jou aanmoedig om die volgende vier metodes te probeer om tyd in die Woord te spandeer en dit nie net te lees nie, maar te oordink. Dit gaan jou help om waarhede in die Woord te ontdek, om die Bybel te begin verstaan, om God met jou te hoor praat, en om dit wat jy leer, in jou lewe toe te pas.

Die metodes oorvleuel so ‘n bietjie met mekaar, maar elkeen is tog kosbaar in eie reg. Ek stel voor jy probeer elke metode vir ‘n maand lank. Besluit dan van watter een jy die meeste hou en maak dit jou metode wat jy gebruik wanneer jy die Woord wil oordink. Jy kan selfs die metodes afwissel en elke week of so ‘n ander een gebruik.

Kom ons kyk dan nou na die vier verskillende metodes.

Oordink die Woord en verdiep stiltetyd

Die VOLG-metode ‘n eenvoudige manier om self deur ‘n boek van die Bybel te werk, ‘n paar verse op ‘n slag. Elke letter in VOLG staan vir ‘n stap wat jy volg:

V – Vra God Se Leiding: Begin altyd met gebed. Vra die Here om met jou te praat en jou te leer wat jy moet weet.

O – Ondersoek Die Teks: Skryf die verse wat jy lees of studeer, neer. Dit help jou om stadiger te lees en meer raak te sien. Skryf ook in jou eie woorde neer wat gebeur – wie doen wat en waarom?

L – Let Op Die Lesse: Wat leer jy van God? Wat leer jy oor hoe ‘n mens behoort te leef? Is daar beloftes, opdragte, sondes om te vermy, of voorbeelde om te volg?

G – Gaan En Wees ‘n Doener Van Die Woord: Vra jouself: Hoe kan ek vandag toepas wat ek geleer het? Skryf ‘n konkrete plan neer en vra die Here se hulp om dit uit te leef.

Dis ‘n praktiese, stap-vir-stap manier om nie net die Woord te lees nie, maar dit te ontdek, verstaan, en toepas. Daar is ‘n gratis e-boekie met die stappe van dié metode beskikbaar. Vul net jou inligting in die vorm hieronder in, dan stuur ek dit vir jou.

Die volgende drie metodes gebruik stappe wat met dieselfde letter begin, sodat dit maklik in jou kop vassteek.

Plaas – Lees die gedeelte vir die dag in konteks. Waar staan dit in die Bybel? Wat gebeur voor en na die gedeelte?

Persoon – Wie praat en met wie praat hy/sy? Watter persone word in die gedeelte genoem?

Punt – Wat wil God in die gedeelte sê? Wat is die kernboodskap?

Prakties – Wat leer ek uit die gedeelte? Hoe kan ek dit wat ek geleer het, in my lewe toepas?

Praat – Skryf ‘n kort gebed oor dit wat jy geleer het en bid dit dan tot die Here.

Raak Stil – Lees die gedeelte vir die dag ‘n paar keer stadig deur. As jy kan, lees elke keer in ‘n ander vertaling. Jy kan selfs ‘n Engelse vertaling of twee gebruik. Wees ontvanklik vir wat die Here wil sê.

Raak Opmerkend – Wat is die sleutelwoorde in die gedeelte? Merk hulle. Merk ook enige belangrike waarhede. Skryf in jou joernaal of notaboek alles neer wat jy leer oor God, Sy karakter, opdragte of beloftes.

Raak Bewus – Sit vir ‘n rukkie en dink rustig na oor die betekenis van die teks. Wat sê die Here vir jou deur die gedeelte? Hoe is dit op jou lewe van toepassing?

Reageer – Dis belangrik om toe te pas wat jy geleer het, so hoe kan jy in geloof en gehoorsaamheid reageer op dit wat jy geleer het? Vra die Here om jou te help om in gehoorsaamheid aan Sy Woord te leef.

Stilword – Kry vir jou ‘n stil plekkie waar niks jou aandag gaan aftrek nie. Word stil voor die Here en berei jou hart voor om na Hom te luister.

Studeer – Lees die gedeelte ‘n paar keer deur, verkieslik in verskillende vertalings. Wat verstaan jy uit die gedeelte? Skryf dit neer.

Sien Die Waarheid – Wat leer jy oor God, Sy karakter, Sy wil? Is daar enige geestelike beginsels of ander waarhede in die gedeelte? Skryf dit neer.

Soek Toepassing – Vra jouself die volgende vrae: Wat sê God vir my persoonlik? Hoe raak dit my lewe of denke?

Stel ‘n Plan Op – Besluit wat jy gaan doen met wat die Here jou geleer het. Skryf ‘n aksieplan neer wat jy so gou as moontlik in jou lewe kan uitvoer.

Dis goed en waardevol om geestelik te groei deur wat ander vir jou leer. Maar daar is niks soos om self in die Woord te delf nie.

Jy hoef nie te weet hoe alles werk voor jy begin nie – jy leer juis terwyl jy met God se Woord besig is. En Hy is met jou om jou te leer en jou te help verstaan.

So, kies vandag nog watter een van die vier metodes jy gaan probeer om nie net die Woord te lees nie, maar daaroor na te dink.

GEESTELIKE DISSIPLINES: GROEI GEBEUR NIE VANSELF NIE

MAAK STILTETYD EEN VAN JOU GEESTELIKE DISSIPLINES

HOE OM BYBELVERSE TE MEMORISEER

SABBATASRUS: HERSTEL GOD SE RITME IN JOU LEWE

WAAROM JY ‘N GEESTELIKE JOERNAAL MOET HOU

GEBED AS GEESTELIKE DISSIPLINE: WORD MEER SOOS JESUS

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *