Kerfees is ‘n tyd waartydens dié van ons wat gelowiges is, die geboorte van Jesus vier. Ons doen dit omdat Sy geboorte ‘n belangrike deel van die Verlossingsboodskap is. Die beste manier om hierdie boodskap te verstaan en in jou geloof te groei, is om die Bybel te lees. Hier is dus 23 gedeeltes uit die Bybel, wat handel oor Jesus se geboorte.
Sommige van die gedeeltes is profesieë, wat profete jare voor dit in vervulling gegaan het, oor Jesus geprofeteer het. Ander vertel die verhaal van Jesus se geboorte en alles wat daarmee gepaard gegaan het.
Mag hierdie verse jou help om jou hart voor te berei vir die feesseisoen wat voorlê.

MIGA 5:1.
Maar jy, Betlehem-Efrata, jy is klein onder die families in Juda, maar uit jou sal daar iemand kom wat aan My behoort en hy sal in Israel regeer. Sy begin lê ver terug, in die gryse verlede!
JESAJA 7:14.
Die Here sal daarom self vir julle ‘n teken gee: ‘n Jong vrou sal swanger word en ‘n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel noem.
PSALM 72:9-11.
Mag die woestynbewoners voor hom kniel en sy vyande voor hom in die stof kruip. Mag die konings van Tarsis en die kuslande geskenke bring, die konings van Skeba en Seba aan hom belasting betaal.
JEREMIA 31:15.
So sê die Here: ‘n Gekerm word op Rama gehoor, ‘n gehuil vol hartseer: Ragel treur oor haar kinders, sy wil haar nie laat troos nie, want haar kinders is weg.
NUMERI 24:17.
Ek sien hom, maar hy kom nie nou al nie, ek kyk na hom, maar hy is nie naby nie, daar kom ‘n ster uit Jakob, daar staan ‘n heerser in Israel op. Hy verpletter die voorkop van Moab, hy vernietig al die opstandiges.
JESAJA 11:1-2.
‘n Takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai, ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra. Die Gees van die Here sal op hom rus: die Gees wat wysheid en insig gee, die Gees wat raad en sterkte gee, die Gees wat kennis verleen en eerbied vir die Here.
LUKAS 1:26-28.
In die sesde maand van Elisabet se swangerskap het God die engel Gabriël gestuur na ‘n maagd in Nasaret, ‘n dorp in Galilea. Sy was verloof aan Josef, ‘n man uit die geslag van Dawid. Die naam van die maagd was Maria. Toe die engel by haar kom, sê hy: “Ek groet jou, begenadigde! Die Here is by jou.”
LUKAS 1:30-33.
Die engel sê toe vir haar: “Moenie bang wees nie, Maria, want God bewys genade aan jou. Jy sal swanger word en ‘n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee, en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.”
LUKAS 1:35.
Die engel antwoord haar: “Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek. Daarom sal die een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God.”
LUKAS 2:7.
Sy het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in ‘n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.
LUKAS 2:9-12.
Meteens staan daar ‘n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn. Hulle het baie groot geskrik. Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here! En dit is vir julle die teken: julle sal ‘n kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in ‘n krip lê.”
LUKAS 2:13-14.
Skielik was daar saam met die engel ‘n menigte engele uit die hemel wat God prys en sê: “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het!”
LUKAS 2:29-32.
Here, laat u dienaar nou in vrede gaan volgens u woord, omdat my oë u verlossing gesien het wat U gereed gemaak het voor die oë van al die volke: ‘n lig tot verligting van die nasies en tot eer van u volk Israel.
LUKAS 2:34-35.
Simeon het hulle geseën en vir Maria, sy moeder, gesê: “Kyk, hierdie Kindjie is bestem tot ‘n val en ‘n opstanding van baie in Israel en tot ‘n teken wat weerspreek sal word. So sal die gesindheid van baie mense aan die lig kom. En wat jou betref, ‘n swaard sal deur jou siel gaan.”
MATTHEUS 2:1-2.
Jesus is in Betlehem in Judea gebore tydens die regering van koning Herodes. Na Jesus se geboorte het daar sterrekykers uit die ooste in Jerusalem aangekom en gevra: “Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is? Ons het sy ster sien opkom en ons het gekom om aan Hom hulde te bewys.”
MATTHEUS 2:10-11.
Toe hulle die ster sien, was hulle baie bly. Hulle het in die huis ingegaan en die Kindjie saam met Maria, sy moeder, gesien, en hulle het gekniel en aan Hom hulde bewys. Daarna het hulle hulle reissakke oopgemaak en vir Hom geskenke uitgehaal: goud, wierook en mirre.
MATTHEUS 2:16-18.
Toe Herodes agterkom dat die sterrekykers hom in die steek gelaat het, het hy woedend geword. Hy stuur toe soldate en laat in Betlehem en die hele omgewing al die seuntjies van twee jaar en jonger doodmaak, ooreenkomstig die tyd wat hy noukeurig by die sterrekykers uitgevra het. Toe is die woord vervul wat die Here deur die profeet Jeremia gesê het: “‘n Gekerm word op Rama gehoor, ‘n gehuil en groot gejammer: Ragel treur oor haar kinders en wil nie getroos word nie, omdat hulle nie meer daar is nie.”
JOHANNES 1:1.
In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God.
JOHANNES 1:4-5.
In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.
JOHANNES 1:14.
Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.
JOHANNES 1:16-17.
Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang. God het die wet deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.
1 JOHANNES 5:1.
Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is ‘n kind van God; en elkeen wat vir die Vader liefhet, het ook die ander lief wat kinders van die Vader is.
ROMEINE 8:1-3.
Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie. Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood. Wat die wet nie by magte was om te doen nie, omdat dit weens ons sondige natuur te swak was, dit het God gedoen. Hy het met die sonde afgereken deur sy eie Seun in dieselfde gestalte as die sondige mens te stuur; so het Hy die sonde in die sondige bestaan van die mens veroordeel.