KOM NADER AAN GOD: 10 MANIERE

Aan die begin van elke nuwe jaar maak meeste mense nuwejaarsvoorneme. Een van dié voorneme vir Christene is gewoonlik om nader aan God te kom.

Dis ‘n wonderlike doel, want in Jakobus 4:8 lees ons: “Nader tot God, dan sal Hy tot julle nader.” God wil dus hê dat ons tot Hom nader. Hy wil hê ons moet heeltyd groei sodat ons Hom beter leer ken en heeltyd nader aan Hom beweeg.

Maar om nader aan God te kom gaan van jou vra dat jy bietjie moeite doen met jou verhouding met Hom.

Gelukkig is daar sommer heelwat gewoontes wat jy kan aanleer, wat jou daarmee gaan help.

Hier is 10 maniere wat jy kan gebruik om nader aan die Here te kom.

Kom nader aan God: 10 maniere

DAAGLIKSE TYD MET GOD.

Die beste manier om iemand beter te leer ken, is om tyd met hom te spandeer.

Dis dan ook wat jy moet doen wanneer jy God beter wil leer ken.

Kom dus in die gewoonte om elke dag tyd met God te spandeer. Kies vir jou ‘n tyd wanneer niemand jou gaan pla nie. Kies ook ‘n plek waar jy stil en rustig kan wees.

Skryf sommer hierdie tyd in jou dagboek neer en sien dit as ‘n afspraak met God wat nie gebreek kan word nie.

LEES ELKE DAG JOU BYBEL.

God se Woord vertel vir ons so baie dinge oor Hom. Dit leer ons wie Hy is en hoe Hy optree. Dit leer ons waarvan Hy hou en waarvan nie. Verder leer dit ons wat Sy wil is, ensovoorts

Dus is die beste manier om God beter te leer ken deur tyd in Sy Woord te spandeer.

Gebruik jou daaglikse tyd met God om, onder andere, jou Bybel te lees. Jy kan een hoofstuk op ‘n dag lees. Of jy kan ‘n paar lees. Jy kan selfs net ‘n paar verse lees.

Dit maak nie regtig saak hoeveel verse jy lees nie, solank jy net lees.

Onthou, die Bybel is voedsel vir jou gees – en jy wil darem nie geestelik honger ly nie!

BID ELKE DAG.

Daar word gesê dat gebed is soos om asem te haal. Dit moet natuurlik en aanhoudend gebeur.

Dit is dan ook ‘n manier waarop jy nader aan God kan kom.

Gebed is eenvoudig om met God te praat. En hoe meer jy met iemand praat, hoe beter gaan jy hom leer ken.

Maak dus ‘n punt daarvan om in jou daaglikse tyd met God met Hom te praat. Maar moenie daar ophou nie!

Bid ook gereeld deur die dag.

Bid wanneer jy hulp nodig het.

En bid wanneer jy iemand anders sien wat hulp nodig het.

Om die waarheid te sê, bid sommer enige tyd en oor enige iets.

LOOF EN PRYS GOD.

Om God te loof en prys is nog ‘n manier om nader aan Hom te kom.

Dit help jou om jou fokus te skuif van jouself en die dinge rondom jou, na die Een wat in beheer is en vir wie niks onmoontlik is nie.

Daar is meer as een manier om God te loof en prys.

Loof en prys Hom wanneer jy bid. Fokus op Sy karaktereienskappe en loof en dank Hom daarvoor. Jy kan dit hardop of in jou gedagtes doen.

Jy kan God ook loof en prys deur musiek te gebruik.

Wanneer ons Hom loof en prys maak dit Hom grote in ons oë en die probleme in die wêreld lyk dan baie kleiner!

HOU ‘N GEESTELIKE JOERNAAL.

Dis ‘n goeie idee om al jou sintuie te gebruik wanneer jy nader aan God wil kom.

Hoe meer van jou sintuie jy gebruik, hoe groter is die kans ook dat jy die waarhede wat God jou leer, gaan onthou.

Begin dus om ‘n geestelike joernaal te hou.

In dié joernaal kan jy Bybelverse skryf wat vir jou uitstaan wanneer jy jou Bybel lees. Jy kan neerskryf wat God jou daaroor leer. Jy kan jou gebede neerskryf.

Dis ook die ideale plek om ‘n lysie te maak van mense vir wie jy bid.

En natuurlik kan jy dit ook gebruik om spesifieke gebedsversoeke neer te skryf. Dan kan jy agterna skryf hoe en wanneer God daardie versoeke geantwoord het.

OORDINK DIE BYBEL.

As jy nader aan God wil kom, moet jy weet wat Hy van jou verwag.

Om Sy Woord te oordink gaan jou help om Hom op ‘n dieper en intiemer wyse te leer ken. Dit gaan jou ook help om die Bybel en die waarhede daarin, beter te verstaan.

Om die Woord te oordink is nie moeilik nie. Dit beteken eenvoudig dat jy diep nadink oor iets wat jy in die Bybel gelees het. Jy bekyk dit van verskillende kante. Jy vra vrae daaroor. En jy skryf neer wat die Here jou daaroor leer.

DINK WAAROOR JY DINK.

As ons eerlik is, moet ons erken dat ons gedagtes nie altyd Bybels is en God eer nie.

In Romeine 12:2 staan daar: “Julle moenie aan hierdie wêreld gelykvormig wees nie, maar verander word deur die vernuwing van julle denke, sodat julle goed kan onderskei wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is.”

Maar as ons nader aan God wil kom, moet ons leer om te dink waaroor ons dink.

Ons moet, in die eerste plek, weet wat in die Bybel staan, sodat ons weet wanneer dit wat in ons koppe aangaan, nie Bybels is nie.

Dan moet ons daardie gedagtes stop. Die maklikste manier om dit te doen, is om jou gedagtes te onderbreek deur hardop te praat.

Sê vir jouself, “Nee, dis nie hoe ek moet dink nie.” Maak dan soos Jesus en herhaal ‘n waarheid uit die Woord, wat die teenoorgestelde is van die gedagtes wat jy gedink het (Mattheus 4).

Dit gaan aan die begin nie maklik wees nie, maar hoe meer jy dit doen, hoe makliker gaan dit word.

VAS.

Om te vas is ‘n baie goeie manier om nader aan God te kom.

Dis asof ‘n mens meer ingesteld raak op die geestelike wanneer jy vas.

Jy kan net een maaltyd vas of jy kan ‘n halwe of ‘n hele dag lank vas.

Jy kan selfs ‘n paar dae vas, as dit is hoe die Here jou lei.

Onthou net om daardie tyd, wat jy sou gebruik het om te eet, te gebruik om tyd met God te spandeer. Dit help nie om maar net nie te eet nie. Jy moet iets in daardie tyd doen om op God te fokus.

GOD SE WOORD ORAL OM JOU.

Dit is nou maar eenmaal so dat dit wat ‘n mens sien en hoor – veral wat jy gereeld sien en hoor – ‘n groot invloed op jou lewe het.

As jy nader aan God wil kom, is dit ‘n goeie idee om ontslae te raak van dié dinge wat jy sien en hoor, wat ‘n negatiewe invloed op jou het.

Een manier om te sorg dat jy goeie dinge sien, wat ‘n goeie invloed het, is om Bybelverse oral in jou huis op te plak.

Plak dit op plekke waar jy dit gaan sien en dit kan lees.

Jy kan ook Bybelverse gebruik vir jou selfoon en rekenaar se agtergrond.

En die beste manier om te sorg dat jy goeie dinge hoor, is om te luister na preke en ander geestelike materiaal.

Onthou, geloof word in jou hart gewek wanneer jy God se Woord hoor. So maak seker jy hoor dit sommer elke dag.

PRAAT OOR JESUS.

‘n Mens is geneig om graag te praat oor dié mense wat vir jou kosbaar is.

As Jesus jou beste Vriend is en jy is baie na aan Hom, gaan jy graag oor Hom wil praat.

Jy gaan ander wil vertel wie Hy is en wat Hy in jou lewe vir jou gedoen het. Jy gaan wil praat oor julle tye saam en oor al die dinge wat Hy jou leer.

Op dié manier gaan jy oor Hom getuig en gaan jy ander, wat Hom dalk nie ken nie (of nog nie goed ken nie) nuuskierig maak.

Maak dus ‘n punt daarvan om iewers in jou gesprekke iets oor Jesus te sê en Hom te verheerlik deur oor Hom te praat.

ELKE DAG NADER AAN GOD.

Dié tien gewoontes waaroor ons gesels het, is goeie gewoontes om aan te leer as jy nader aan God wil kom.

Onthou, die skatte wat ons op aarde het, is skatte wat gaan vergaan. Maar elke tree wat ons nader aan God gee, gaan ewigheidswaarde hê.

Neem net een tree op ‘n slag (gebruik hierdie tien gewoontes om jou te help) en jy sal gou baie nader aan die Here wees as wat jy gedink het moontlik is.

One thought on “KOM NADER AAN GOD: 10 MANIERE

  1. Frans Bruwer

    Kom nader aan God vinnig gelees.Daar het twee gedagtes opgekom,vra dus:

    1.Sal ons dit nie paradys op aarde maak as ons weet en besef ons stap saam met Hom nie?Hy is mos inwonend in alle mense,maar hulle hoor dit nie.As ek saam met my ma in die tuin geloop het,het ek nie die blomme verniel nie.???

    2. Kan jy dalk help om Lied 334 “God is liefde” in power point te sit en saam met gebaretaal af te rond?
    Shalom
    Frans

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *