GEBEDSGIDS: WAT ELKE GELOWIGE MOET WEET

In hierdie gebedsgids gaan jou vrae oor gebed beantwoord word. Jy gaan leer hoekom en hoe jy moet bid, wat jy moet bid en wanneer en nog baie meer.

Gebed is die belangrikste gesprek van die dag – Anoniem.

In Lukas 11:1 lees ons: “Op ‘n keer het Jesus op ‘n sekere plek gebid, en toe Hy klaar was, het een van sy dissipels vir Hom gesê: ‘Here, leer ons bid, soos ook Johannes sy dissipels geleer het.'”

Jesus het toe begin en vir die dissipels, en vir ons, die model van gebed gegee. Ons noem dit sommer die Onse Vader.

Vandag gaan ons ‘n bietjie kyk na gebed. As jy ‘n nuwe gelowige is, het jy dalk baie vrae oor die onderwerp. Dalk is jy al lank ‘n gelowige, maar sukkel steeds om te bid. My gebed is dat hierdie gebedsgids vir jou van waarde mag wees ongeag waar jy ookal op jou geloofsreis is.

Gebedsgids: Wat elke gelowige moet weet

HOEKOM MOET EK BID?

Hierdie is seker een van die algemeenste vrae wat mense oor gebed vra. Mense dink dat God tog alles weet, waarom moet ‘n mens dan nou nog daaroor bid ook?

Hier is ‘n paar redes:

Gebed is ‘n voorreg wat aan elke kind van God behoort. Dis nie iets wat jy móét doen nie, maar iets wat jy mag en kan doen. Omdat jy God se kind is, kan jy met vrymoedigheid na Sy troon van genade gaan (Hebreërs 4:16).

Gebed is die manier waarop ons met God praat. Dit bou intimiteit omdat ons Hom alles kan vertel wat in ons harte en lewens aangaan. Dit is ook ‘n manier waarop ons na Hom luister.

In die Bybel kry ons meer as een keer die opdrag dat ons moet bid (Romeine 12:12, Efesiërs 6:18 en 1 Thessalonisense 5:17). Een van die redes waarom ons bid is dus om aan God gehoorsaam te wees.

Gebed is deel van die wapenrusting van God (Efesiërs 6). Daarom is dit ‘n manier om teen die duiwel en sy aanslae te veg.

Dan sien ons ook in Jakobus 5:16 dat gebed wat in geloof gebid word, baie krag dra. Daar staan: “Die gebed van ‘n regverdige is baie kragtig in sy uitwerking.”

LEES OOK: BYBELVERSE OOR GEBED

TOT WIE MOET EK BID?

Hierdie is nog ‘n vraag wat sommige mee worstel. Tot wie moet ons nou eintlik bid?

Die eenvoudige antwoord is dat ons tot God bid. Nêrens in die Bybel word ons geleer om tot engele, mense of die dooies te bid nie.

As ons gaan kyk in Lukas 11, waar Jesus die dissipels leer bid, sien ons Hy leer ons om tot die Vader te vra vir die dinge wat ons nodig het. En in die gebede wat Paulus vir die gelowiges bid, sien ons ook dat hy elke keer tot die Vader bid.

Dit is egter nie verkeerd om met Jesus en die Heilige Gees ook te praat nie. Hulle is immers ook deel van die Goddelike Drie-eenheid.

Die punt bly dus dat ons net tot God bid, nie tot engele, mense, sogenaamde heiliges of dooies nie.

WAT MOET EK BID?

Gebed is ‘n persoonlike saak, en daarom is dit altyd goed om jou eie woorde te bid. Net jy weet wat regtig in jou hart en lewe aangaan. Dus kan net jy, in jou eie woorde, jou hart eerlik voor God oopmaak.

Maar dit is ook ‘n goeie idee om die Woord van God te bid.

God se Woord is Sy wil. In 1 Johannes 5:14-15 lees ons: “En dit is die vrymoedigheid wat ons voor Hom het: Dat Hy ons gebede verhoor as ons iets volgens sy wil vra. En as ons weet dat Hy ons verhoor in alles wat ons vra, weet ons dat ons alles ontvang wat ons van Hom vra.”

Hier het ons ‘n belofte dat God ons gebede sal verhoor wanneer ons volgens Sy wil bid. As jy dus Sy Woord bid, bid jy Sy wil en kan jy verseker weet jou gebed sal beantwoord word.

Wanneer ons Sy Woord bid, herinner ons Hom dan ook aan Sy beloftes (Jesaja 43:26) en versterk ons eie geloof in die proses.

Die beste manier om die Woord te bid, is om ‘n vers of verse – verkieslik beloftes – te kry wat verband hou met jou probleem of behoefte. Verander dan daardie verse in gebede wat jy tot God bid.

LEES OOK: HOE OM GOD SE WOORD TE BID EN OM GOD SE BELOFTES TE BID

WANNEER MOET EK BID?

Die eenvoudige antwoord? Altyd!

Gebed is een van die wapens wat deel is van die wapenrusting van God.

Sommige mense dink hulle moet eers self hulle probleme probeer oplos. En, as hulle alles probeer het en niks het gewerk nie, dan is gebed hulle laaste opsie.

Moenie dit doen nie. Maak gebed jou eerste linie van verdediging.

Onthou wat God ons beveel in Filippense 4:6-7. Daar sê Hy dat ons nie bekommerd of angstig moet raak nie, maar om in alles, met gebed en smeking, en met danksegging, ons versoeke aan Hom bekend te maak.

Wat dus ookal in jou lewe aangaan – of dit nou goed of sleg is – praat eerste met God daaroor.

LEES OOK: ONS VERANTWOORDELIKHEID AS GELOWIGES IN ‘N TYD VAN KRISIS

WAAR MOET EK BID?

‘n Mens kan letterlik enige plek bid.

Jy bid tydens jou stiltetyd op die plek wat jy gekies het as jou ontmoetingsplek met God.

Jy kan bid in die motor wanneer jy werk toe ry.

Of jy kan bid by die werk, wanneer jy die Heilige Gees se wysheid en hulp nodig het.

Jy kan selfs bid wanneer jy in die ry by PnP staan.

Dit maak nie saak waar jy jou bevind nie, jy kan net daar bid, as dit nodig is.

Hou egter in gedagte ‘n mens lees baie kere dat Jesus die skare en Sy dissipels agtergelaat, en alleen iewers gaan bid het. Maak dus seker jy maak elke dag tyd in jou dag om iewers, waar jy alleen is en nie gepla kan word nie, tot God te bid.

HOE MOET EK BID?

Kom ons kyk weer na ‘n vers in In Lukas 11, toe die dissipels Jesus gevra om hulle te leer bid.

In vers 2 lees ons: “Wanneer julle bid, moet julle sê….”

Sien jy die woordjie, sê? Dit impliseer dat ons, wanneer ons bid, met ‘n hoorbare stem praat en nie net in ons gedagtes dink nie.

Ek het al agtergekom dat my aandag maklik afgetrek word as ek probeer om net in my gedagtes te bid. Daarom bid ek hard genoeg dat ek my eie stem kan hoor.

Om hardop te bid hou ‘n mens gefokus. Dit is ook met jou woorde, wat hardop gesê word, wat jou geloof vrygestel word.

DIE ONSE VADER MODEL.

In Lukas 11:2-4 en in Mattheus 6:9-13 lees ons die gebed wat Jesus vir die dissipels geleer het.

Hierdie gebed is soos ‘n model wat ons wys aan watter dinge ons in gebed moet aandag gee. En onder elkeen van die afdelings val daar ‘n hele klomp dinge wat daarby aansluit.

Begin jou gebed deur op God te fokus. Loof Hom vir Wie Hy is. Prys Hom en dank Hom vir alles wat Hy vir jou doen.

Bid vir die uitbreiding van die Koninkryk. Hier kan jy byvoorbeeld bid vir almal wat die Woord op een of ander manier uitdra. Jy kan ook bid vir diegene wat nog nie gered is nie.

Vra Hom vir die dinge wat jy nodig het. Tree ook in vir ander mense en bid vir hulle behoeftes en probleme.

Erken teenoor Hom wanneer jy sonde gedoen het en aanvaar die vergifnis wat reeds joune is in Christus Jesus.

Bid vir Sy hulp wanneer die duiwel jou aanval, sodat jy kan staande bly en as oorwinnaar uit die stryd tree.

Eindig dan jou gebed deur nog ‘n slag op God te fokus.

LEES OOK: AANBIDDING, LOFPRYSING EN DANKSEGGING

HULP MET JOU GEBEDE.

Hierdie gebedsgids is nog lank nie die einde van ons gesprekke oor gebed nie. Ons gaan vir die res van April verder oor gebed gesels. Jy kan ook ‘n draai op Nader In Eenvoud se YouTube kanaal maak, waar daar vir die volgende 3 weke elke week ‘n video oor gebed geplaas gaan word.

Soms het ‘n mens hulp nodig met idees om jou te herinner aan dinge waarvoor jy God kan dank of voor kan bid.

Ek het ‘n gratis hulpmiddel saamgestel om jou daarmee te help. Vul net jou inligting hieronder in en laai die 50 Dae Van Gebed Hulpmiddel af.

Elkeen van die 50 dae het twee gebedsgedagtes vir die dag. Die een herinner jou aan dinge waarvoor jy God moet dank. Die ander een is weer ‘n herinnering aan iets waarvoor jy kan vra of oor kan bid.

As hierdie gebedsgids nie al jou vrae beantwoord het nie, laat weet my, sodat ek dit in ‘n volgende artikel kan beantwoord.

Het jy iets nuuts geleer?

NOG ARTIKELS OOR GEBED.

Hier is die skakels na die ander artikels in die reeks oor gebed:

GEBEDSMODEL: DIE ONSE VADER GEBED

GEBEDE OM ELKE DAG TE BID

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *