HOE OM DIE GEVEG IN JOU GEDAGTES TE WEN.

Die duiwel is daagliks besig om aanvalle in jou gedagtes te loods. Maar God het jou die wapens gegee sodat jy die geveg kan wen.

Hoe om die geveg in jou gedagtes te wen.

Dit het begin kort na ek tot bekering gekom het.

Die aakligste gedagtes oor Jesus het skielik in my kop gekom en ek kon nie daarvan ontslae raak nie.

Einde ten laaste het ek ons predikantsvrou gaan sien.

Ek was by haar in Bybelstudie, en ek het geweet, as daar een mens is wat my sou kon raad gee, was dit sy.

DIE VYAND SE AANVAL.

Na ek vir haar vertel het, het sy my verseker dat dit net die duiwel was wat my aanva.

Sy het gesê die oplossing was om te bid daaroor en vir die Here te vra om dit weg te neem.

Ek het gedoen wat sy voorgestel het, en daaroor gebid.

Ek het ook, elke keer wat die gedagtes in my kop opgekom het, dit probeer vervang met ander gedagtes wat die Here eer.

Dit het nie dadelik weggegaan nie, maar op ‘n dag het ek agtergekom dat dit minder gebeur tot dit uiteindelik heeltema weg was.

Dit is nou jare later, en vandag weet ek soveel beter hoe om so iets te hanteer.

Ek dank die Here dat Hy my gebede beantwoord het en my gehelp het, maar vandag weet ek dat daar baie meer was wat ek self kon doen om die probleem te oorkom.

JOU GEDAGTES, DIE SLAGVELD.

Die predikantsvrou was reg toe sy gesê het dit is die duiwel wat my aanval.

Ons gedagtes is die een plek waar hy gereeld sy aanvalle loods en waar hy baie keer verwoesting saai.

En hy is so slinks dat ‘n mens nie altyd besef dit is nou weer hy nie tot dit te laat is.

En juis daarom moet ons baie meer bedag wees op sy aanvalle.

SY AANVALSTAKTIEK.

Hy kan kom met ‘n klein gedagtetjie, wat heel onskuldig lyk.

Maar as jy dit onwetend by hom vat en daaroor begin dink, word dit groter en gevaarliker.

En lei dit dikwels tot een of ander daad wat jy agterna baie berou.

Soms voer hy jou ‘n halwe waarheid; ander kere ‘n volslae leuen.

Hy kan jou herinner aan die sondes van die verlede.

Hy kan jou ook aankla van dinge wat jy weet waar is, maar ook van dinge wat jy net dink die waarheid is.

‘N VOORBEELD UIT MY LEWE.

Kom ek gee jou ‘n voorbeeld.

Dit maak nie saak wat ek op ‘n dag doen of hoeveel ek vermag nie, ek sit gereeld in die aand met gedagtes dat ek nie genoeg gedoen het nie.

En dit laat my skuldig voel.

Dit gebeur veral wat my werk by die bediening betref.

Ek probeer dan die volgende dag harder, maar dit help gewoonlik nie – die gedagtes kom maar weer.

Nou een dag was dit weer die geval.

Ek het al baie met die Here daaroor gepraat, en doen dit toe weer.

En die woord ‘accuser’ kom by my op.

In Openbaring 12:10 word die duiwel die aanklaer van die gelowiges of ‘the accuser of the brethren’ genoem.

Toe ek die woord hoor, verstaan ek presies wat die Here vir my wil sê.

Die gedagtes wat my by opkom, dat ek nie genoeg gedoen het nie en verseker meer en beter kan doen, is die duiwel wat my aankla.

Hy wil hê ek moet dinge begin doen wat die Here nooit gesê het ek moet doen nie, net sodat ek beter kan voel oor myself en oor wat ek elke dag doen.

En as ek dit doen, gaan hy my weer aankla en vertel dat ek nou my eie kop gevolg het, en nie gedoen het wat die Here wou hê ek moes doen nie.

Sien jy die bose kringloop?

WAPENS VIR OORWINNING.

Ons as God se kinders hoef egter nie te val vir hierdie aanvalle van die duiwel nie.

God het ons alles gegee wat ons nodig het om hom teen te staan en te oorwin.

Hy het vir ons die Woord gegee, wat ons as swaard moet gebruik om die aanvalle van die duiwel af te weer.

Onthou jy ek het aan die begin gesê dat ek probeer het om die lelike en oneerbiedige gedagtes oor Jesus te vervang met gedagtes wat Hom eer?

Hoewel ek die regte ding probeer doen het, was my metode verkeerd.

‘n Mens kan nie ‘n gedagte met ‘n gedagte vervang nie.

Jy kan wel jou gedagtes met jou woorde onderbreek, en jou gedagtes met woorde vul.

Wat ek móés gedoen het, en wat jy ook moet doen wanneer die duiwel jou in jou gedagtes aanval, is om die waarheid uit God se Woord by jou mond te laat uitkom.

Met ander woorde, onderbreek die gedagtevloei deur woorde van waarheid te spreek.

Onderbreek die aanval in jou gedagtes deur die Woord van waarheid te spreek.

Dit vra van jou om te weet wat in die Woord staan.

So dit is baie belangrik om elke dag tyd in die Woord te spandeer sodat jy jou arsenaal kan opbou.

Wanneer die duiwel jou dan aanval, sal die Heilige Gees jou herinner aan die waarheid in die Woord.

Dit sal die presiese Woord wees wat jy in daardie oomblik nodig het.

En dan is dit jou verantwoordelikheid om dit hardop uit te spreek.

Só gebruik jy die swaard van die Gees om die aanvalle van die duiwel af te weer.

LEES OOK: 5 REDES WAAROM TYD IN DIE WOORD BELANGRIK IS

MEET DIT AAN DIE WOORD.

Elke negatiewe gedagte wat by jou opkom is nie noodwendig ‘n aanval van die duiwel nie, maar dit is goed om elke gedagte te meet aan die Woord van God.

As dit strook met die Woord, goed so!

Dink dan daaroor.

Paulus sê juis vir ons dat ons moet dink aan dinge wat waar, edel, reg en rein is.

Ons moet ons gedagtes rig op alles wat mooi en prysenswaardig is en op alle lofwaardige sake (Filippense 4:8).

Maar is die gedagte nié in lyn is met wat die Woord sê nie, moet jy dit dadelik teenstaan en vervang met die waarheid uit God se Woord.

Ek is steeds baie dankbaar vir die raad wat die predikantsvrou jare gelede vir my gegee het.

Maar vandag weet ek dat ek God se Woord, met die hulp van die Heilige Gees, as swaard moes gebruik om die aanvalle af te weer.

Is die duiwel vandag besig om ‘n aanval teen jou in jou gedagtes te loods?

Moenie sy leuens en aanklagte aanvaar nie.

Staan hom teen en weer sy aanval af met die swaard van die Gees, die Woord van God.

Spreek die waarheid oor jou situasie en onderbreek so die vloei van gedagtes.

Hou aan om dit te doen totdat hy die aftog blaas.

Die Here belowe ons in Sy Woord dat die duiwel van ons sál wegvlug as ons hom teëstaan (Jakobus 4:7).

2 thoughts on “HOE OM DIE GEVEG IN JOU GEDAGTES TE WEN.

  1. johann Nel

    Dit is “n fantastiese boodskappie.

  2. CHRISTIAAN VAN ROOYEN

    DANKIE VIR DIE INHOUD VAN DIE WER GAWE. EK HET NOG BAIE OM TE LEER MAAR IS OP DIE REGTE PAD. BID VIR MY

    DANKIE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *