Is een van jou nuwerjaarsvoorneme om nader aan God te kom? Een ding wat hiermee kan help is om elke dag ‘n betekenisvolle stilteyd te hê.
Aan die begin van elke nuwe jaar is mense besig om te dink oor hulle nuwejaarsvoorneme.
Hierdie voorneme sluit gewoonlik dinge in soos om gewig te verloor, meer georganiseerd te wees, geld te spaar, ensovoorts.
En elke jaar is daar gelowiges wat besluit dat hulle daardie jaar nader aan God gaan kom. Een manier om dít te doen, is om ‘n betekenisvolle stiltetyd te hê.
As jy ook beplan om hierdie jaar te begin om stiltetyd te hê, dan gaan hierdie artikel jou baie help.
Ons gaan kyk na ‘n paar redes waarom dit belangrik is om tyd met God te spandeer. Ons gaan ook kyk na wat die doel van ‘n persoonlike stiltetyd is. En laastens gaan ons kyk na hoe ‘n mens nou eintlik te werk gaan om ‘n betekenisvolle stiltetyd te begin en vol te hou.
DIE BELANGRIKHEID VAN STILTETYD.
Daar is sommer baie redes waarom dit belangrik is om tyd met God te spandeer. Kom ons kyk gou na net drie van hierdie redes.
‘N VERHOUDING MET GOD.
Die grootste rede is omdat God ons gemaak het om ‘n verhouding met Hom te hê.
Daar in die begin, in Genesis, het Hy vir Adam en Eva geskep. In Genesis 3 lees ons dat Hy in die middagkoelte tussen die bome van die Tuin rondgestap het. Ek glo dit was Sy gewoonte om elke dag tyd saam met Adam en Eva te spandeer.
Ongelukkig was die twee ongehoorsaam aan God en as gevolg daarvan is die intieme verhouding wat Hy met hulle gehad het, verbreek.
Hulle sonde veroorsaak ook dat geen ander mens in ‘n intieme verhouding met God kan wees nie.
Maar toe kom Jesus. Hy betaal die prys wat ons nie kan betaal nie en deur Sy dood en opstanding word die verhouding met God herstel. Nou kan enige mens wat in Hom glo weer ‘n verhouding met God hê.
Die belangrikste rede waarom jy dus elke dag tyd met God moet spandeer, is omdat Hy jou gemaak het om ‘n verhouding met Hom te hê.
JESUS IS ONS VOORBEELD.
‘n Volgende rede waarom tyd met God belangrik is, is omdat ons sien dis wat Jesus gedoen het. Hy stel vir ons die voorbeeld wanneer ons lees dat Hy gereeld weggeglip het en iewers alleen gaan bid het.
Ons sien ook hoe ander karakters in die Bybel, wat kragtig deur God gebruik is, daagliks tyd met Hom spandeer het. Dink maar aan Abraham, Moses, Dawid en Daniël.
Dan is daar ook mense wat God deur die eeue gebruik het, wat ook hierdie gewoonte gehad het. Hier dink ons aan mense soos John Wesley, Charles Spurgeon en Martin Luther.
‘N GROEIENDE GELOOFSLEWE.
Die derde rede waarom ons ‘n betekenisvolle stiltetyd moet hê is omdat dit deel is van ons geestelike groei. Sonder gereelde tyd met God raak ‘n mens geestelik swak en staan jou groei stil.
Jy sien, tyd met God in Sy Woord is voedsel vir jou gees. Onthou jy Jesus het gesê dat die mens nie net van brood alleen kan leef nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom (Mattheus 4:4)?
Jy sal nie maklik vir ‘n hele week fisies sonder kos bly en net een dag in ‘n week eet nie. Tog is daar baie mense wat nooit in die week hulle Bybels lees nie en dan op ‘n Sondag ‘n vinnige ‘happie’ by die kerk gaan geniet.
Dit mag lyk asof hierdie ‘geestelike dieet’ heeltemal voldoende is, maar dis nie waar nie. Op een of ander stadium gaan iemand wat hierdie ‘dieet’ volg begin agterkom hy is nie geestelik waar hy graag wil wees nie.
DIE DOEL VAN TYD MET GOD.
Ons het nou gesien dat ‘n betekenisvolle stiltetyd baie belangrik is vir ons geestelike lewens. Maar dalk wonder jy nou wat die doel daarvan is? Wat gaan jy daaruit kry as jy elke dag tyd met God spandeer?
Daar is weereens sommer ‘n hele klomp voordele, maar ons gaan net na ‘n paar kyk.
HOE OM ‘N STILTETYD-ROETINE TE BEGIN.
Noudat ons weet hoe belangrik ‘n betekenisvolle stiltetyd is, en ook wat dit vir ons kan beteken, kom ons uiteindelik by die plan van aksie!
KIES ‘N SPESIFIEKE TYD.
Dit is nou maar eenmaal so dat, as jy nie tyd inruim vir iets wat jy wil doen nie, dit nie gaan gebeur nie. Dieselfde is waar van jou stiltetyd.
Die eerste stap om ‘n betekenisvolle stiltetyd te hê is dus om ‘n spesifieke tyd te kies wanneer jy dit gaan doen.
As jy ‘n oggendpersoon is, is vroegoggend, wanneer jou huismense nog slaap, ‘n ideale tyd. Daar gaan min of geen onderbrekings wees en jy kan rustig tyd met God spandeer.
As jy nié ‘n oggendmens is nie, kan laataand, wanneer almal al slaap, dalk vir jou werk.
Of wat van jou etensuur? As jy ‘n kantoor het en jy kan die deur toemaak sodat niemand jou pla nie, kan dit ook ‘n goeie tyd wees.
En as jy nie seker is watter tyd om te kies nie, kies die tyd waar jy op jou wakkerste is en dinge kan inneem.
KIES ‘N SPESIFIEKE PLEK.
Die volgende stap is om ‘n spesifieke plek te kies waar jy jou stiltetyd gaan hou.
Sommige mense het ‘n spesifieke vertrek wat hulle hiervoor gebruik. Ander het ‘n spesifieke stoel waarin hulle sit. Daar is diegene wat verkies om binneshuis te wees terwyl ander verkies om in die natuur te wees.
Dit maak nie regtig saak watter plek jy kies as jou ‘stiltetyd-plek’ nie. Maak net seker dis ‘n plek waar jy gemaklik is en waar daar goeie lig is. Dis ook ‘n goeie idee as jou stiltetyd-plek iewers is waar jy niemand gaan pla as jy hardop bid of lees nie.
En net ‘n waarskuwing: moenie jou bed as plek kies nie! Dis heeltemal te maklik om aan versoeking toe te gee en weer onder die komberse in te kruip!
HOU JOU HULPMIDDELE BYDERHAND.
Die derde stap is om seker te maak jy het alles wat jy gedurende jou stiltetyd gaan gebruik, byderhand. Dis steurend as jy elke nou en dan moet opstaan om iets te gaan haal wat jy vergeet het.
Die belangrikste hulpmiddel is natuurlik jou Bybel. ‘n Notaboek en pen, sodat jy kan neerskryf wat die Here vir jou sê, is ook ‘n goeie idee.
WERK MET ‘N PLAN.
Die vierde stap is om vir jou ‘n plan uit te werk van wat jy gedurende jou stiltetyd gaan doen.
Hier is een manier waarop jy dit kan doen.
Begin met gebed. Word stil by die Here fokus jou gedagtes op Hom. Loof en prys Hom vir wie Hy is en wat Hy in jou lewe doen. Vra Hom om jou te help om te hoor en te verstaan wat Hy vir jou wil sê.
Nadat jy gebid het, is dit tyd om jou Bybel te lees. Jy kan die Bybel van voor tot agter deurlees. Jy kan ook ‘n kronologiese leesplan volg. Dan is daar ook sommer baie leesplanne op die Internet beskikbaar wat jy kan gebruik om oor ‘n spesifieke onderwerp te lees. Dis ‘n goeie plan om ‘n leesplan te volg, sodat jy nie elke oggend hoef te wonder waar jy moet lees nie.
As iets jou opval terwyl jy lees, skryf dit neer. Skryf ook jou gedagtes oor die stuk wat jy lees neer.
Hoe meer jy Bybel lees, hoe meer gaan jy dit leer ken. Die Heilige Gees sal jou dan kan lei na ander gedeeltes in die Bybel wat verband hou met wat jy lees. Op dié manier sal Hy jou ‘n dieper insig gee oor wat jy lees.
Sluit jou stiltetyd af met gebed. Onthou om vir die Here dankie te sê dat Hy met jou gepraat het en vir wat Hy vir jou gesê het.
HOE LANK?
Daar is nie ‘n vers in die Bybel wat vir ons sê hoe lank ons tyd met God moet spandeer nie. Dis ‘n persoonlike keuse hoe lank jy dit wil doen.
As jy nog nooit stiltetyd gehou het nie, dan gaan jy aan die begin dalk so ‘n bietjie sukkel. Maar moenie dat dit jou ontmoedig nie!
Begin met 15 minute. Maak dit algaande meer tot jy soveel tyd spandeer as wat jy wil. Maar moet nooit jou horlosie dophou nie. Dit gaan jou vinnig laat moed opgee as dit lyk of die tyd aan die begin nie verby gaan nie.
STILTETYD IS PERSOONLIK.
Net soos elkeen van ons unieke mense is, is ons tyd met God ook uniek.
Ons kan dalk almal dieselfde plan volg – bid, lees Bybel, oordink die Woord, ensovoorts – maar ons gaan dit op ons eie unieke manier doen.
Moet dus nie probeer om iemand anders se stiltetyd net so na te boots nie. Dis een van die sekerste maniere om te sorg dat jy opgee.
Ja, probeer wat jy hoor ander in hulle stiltetyd doen. Maar gee dit jou eie ‘twist’ en doen dinge soos dit vir jou van waarde is.
Op dié manier gaan jy jou eie, unieke, betekenisvolle stiltetyd ontwikkel en jy gaan uitsien daarna om elke dag tyd met die Here te spandeer.