TYD MET GOD – WAAROM IS DIT BELANGRIK?

Ons begin vandag ‘n reeks oor God en om Hom te ken.

In Johannes 17, waar ons Jesus se gebed vir Sy volgelinge lees, staan daar: “En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en ook Hom wat U gestuur het – Jesus Christus” (vs.3).

Jesus het gesterf sodat ons die ewige lewe kan hê. En, soos ons uit die vers hierbo sien, beteken dit dat ons Hom kan ken.

Vandag gaan ons ‘n bietjie gesels oor hoe belangrik dit is om tyd met God te spandeer, sodat ons Hom kan leer ken.

Die belangrikheid van tyd met God

ONS BELANGRIKSTE PRIORITEIT.

Om die hele dag in kontak met God te wees, is die nommer een prioriteit van elke kind van God. Dis die sleutel wat deure in hierdie lewe en ook in die volgende een, oopmaak.

Baie van ons weet presies wat ons moet doen wanneer dit kom by geloof. Ons weet hoe om dit te kry, hoe om dit vry te stel en ook wat dit alles in ons lewens kan doen.

Sommige weet wat om te doen om genesing te ontvang, of wat om te doen wanneer hulle ‘n behoefte het waarin God moet voorsien.

Ons kan die Bybel van voor tot agter ken, verse memoriseer, ensovoorts. Maar as ons nie tyd met God spandeer en in kontak met Hom bly nie, gaan ons nie geestelik sterk genoeg wees om dit wat die Bybel ons leer, toe te pas nie.

Ongelukkig probeer ons so baie keer dinge in eie krag doen, maar dit werk nie.

MARTHA EN MARIA.

Onthou jy die verhaal van Martha en Maria in Lukas 10?

Jesus het by hulle kom kuier. Martha was die hele tyd besig om rond te hardloop om alles gereed te kry vir ete. Maria was egter nie veel gepla oor kosmaak nie. Sy het by Jesus se voete gesit en na Hom geluister.

Dit was vir Martha net een te veel en sy kom kla by Jesus.

Maar in plaas daarvan om vir Maria te sê sy moet vir Martha help, spreek Jesus vir Martha aan. Hy sê: “Martha, Martha, jy kwel en ontstel jou oor so baie dinge, maar net een ding is noodsaaklik, en Maria het die goeie deel gekies; dit sal nie van haar af weggeneem word nie.”

DIE VOORREG VAN TYD MET GOD.

Uit die verhaal hierbo sien ons dis nie moeilik om ‘n lewende verhouding met God te hê nie. Selfs iemand wat nog nie lank in Jesus glo nie, kan dit doen.

Om in God te bly beteken eenvoudig om tyd met Hom te spandeer. Dis om met Hom te gesels en te luister wat Hy vir jou sê. Dit beteken ‘n mens sit tyd opsy, waar niks en niemand jou pla nie, vir ‘n kuier met God in Sy Woord en in gebed.

Dis ‘n wonderlike voorreg, wat elke kind van God het. Ongelukkig maak nie almal van hierdie voorreg gebruik nie.

OM VERHOUDINGS TE BOU.

Dink so ‘n bietjie aan van die verhoudige wat jy met ander mense het. Jou huwelik, jou vriendskappe, ensovoorts.

Elkeen van hierdie verhoudinge het van jou gevra om tyd met iemand te spandeer.

Jy het tyd met jou meisie of kêrel gespandeer om haar of hom beter te leer ken. Dis eers na julle mekaar regtig goed geken het, wat julle besluit het om te trou. En, noudat julle getroud is, moet julle steeds tyd met mekaar spandeer. As julle dit nié doen nie, gaan die huwelik nie lank hou nie.

Dieselfde is waar van jou vriendskappe. Jy en jou beste vriend of vriendin het gereeld tyd met mekaar gespandeer. Julle het dinge saam gedoen. En toe, op ‘n dag, het julle agtergekom julle is nou beste vriende.

Dit is ook waar van jou verhouding met die Here.

DAAGLIKSE TYD MET GOD.

Ons dink soms dat God net daar is om ons probleme op te los. So ons hardloop net na Hom toe wanneer die lewe ons stief behandel.

Of ons probeer om tyd met Hom iewers in ons besige dag in te pas. Maar dit werk ook nie.

Net soos wat ons tyd met ‘n geliefde of ‘n vriend spandeer het, en nou nog spandeer, moet ons ook tyd met God spandeer.

Ons moet leer om ons dag rondom tyd met Hóm te beplan, in plaas daarvan om Hom iewers in ‘n besige dag te probeer inpas.

Jy sien, God het die antwoord op elke vraag in jou lewe. Hy weet presies wat jy moet doen, wanneer jy dit moet doen en hoe jy dit moet doen. Want Hy het ‘n wonderlike plan vir jou lewe.

En juis daarom is dit bloot net slim om elke dag tyd met God te spandeer.

IN DIE GOEIE TYE.

Dit is nou maar eenmaal so dat ons almal van tyd tot tyd probleme het. God het nooit belowe dat, as jy in Jesus glo, jy nie probleme gaan hê nie.

Maar, as ‘n kind van God, hoef jy nie jou probleme op jou eie aan te durf nie. Jy het vir God by jou en Hy het belowe om jou te help.

Kyk bietjie wat staan in Psalm 91:15: “Hy sal My aanroep, en Ek sal hom antwoord. Ek sal by hom wees in nood; Ek sal hom red en aan hom eer gee.”

Sien jy? God belowe om by jou te wees wanneer jy probleme het. Hy belowe ook om jou te red.

Maar dis belangrik om tyd met God ‘n prioriteit te maak wanneer dit goed gaan in jou lewe.

As jy dít doen, kom jy in die gewoonte om na Hom toe te kom met alles in jou lewe. Jy leer om Hom te vertrou.

Onthou, jy wil nie hê dat slegte omstandighede en probleme jou fokus van God af wegneem nie. Deur elke dag tyd met Hom te spandeer, leer jy jouself om jou oë op Hom gerig te hou.

En wanneer jou oë op Hom gerig is en jy Hom vertrou, dan kan niks jou geloof laat wankel nie.

DINK SO ‘N BIETJIE.

Noudat jy weet waarom gereelde tyd met God belangrik is, dink so ‘n bietjie oor jou eie lewe.

Spandeer jy elke dag tyd met God?

As jy dit nié doen nie, hoe kan jy jou dag beplan sodat tyd met Hom jou eerste prioriteit is?

Volgende week gesels ons verder oor God en om Hom te ken.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *