In die artikel gesels ons oor agt geestelike dissiplines wat jy die jaar kan gebruik om in jou geestelike lewe te groei.
Vince Lombardi was jare gelede ‘n bekende Amerikaanse voetbal-afrigter. Daar word vertel dat hy een jaar baie teleurgesteld was met sy span se spel. Aan die begin van een van hulle oefensessies stap hy toe die kleedkamer binne, hou ‘n bal en die lug en sê, “Menere, hierdie is ‘n voetbal.”
Hiermee het hy gewys dat dit belangrik is om van tyd tot tyd terug te gaan na die grondbeginsels. Dis veral belangrik wanneer ‘n mens voel jy het ‘n bietjie van die pad afgedwaal, of wanneer jy voel dinge oorweldig jou of is besig om in chaos te ontaard.
Dis waar van sport en ook van ons geestelike lewens.
Jy sien, wanneer ons in ons geestelike lewens die pad byster raak, is die beste ding wat ons kan doen, om na die grondbeginsels toe terug te kom.
Dis waar geestelike dissiplines inkom.
Vir baie jare het gelowiges verskillende geestelike dissiplines beoefen om hulle te help om geestelik te groei.
Vandag wil ek met jou gesels oor 8 geestelike dissiplines, wat jy in die komende jaar kan gebruik.
DIE BYBEL IN JOU LEWE.
In Hebreërs 4:12 lees ons: “Want die woord van God is lewend en kragtig, en skerper as enige tweesnydende swaard. Dit dring deur tot by die raakpunt tussen siel en gees, tussen gewrig en murg, en beoordeel die hart se voornemens en gedagtes.”
Dié vers leer ons hoe belangrik dit is dat ons God se Woord in ons harte bêre.
Die voordele daaraan verbonde is dat die Woord lewend en kragtig is. Dit leer ons wie God is, wie ons was voor ons Jesus ontmoet het, en wie ons is noudat ons in Hom glo.
Dit leer ons ook wat God se wil vir ons is, sodat ons lewens kan leef wat Hom eer en verheerlik.
Daar is verskeie maniere waarop ‘n mens die Woord in jou hart kan kry.
Jy kan die Bybel lees of daarna luister. Jy kan Bybelstudie doen, ‘n preek luister, ‘n geestelike boek of artikel lees, ensovoorts.
IDEE OM MEE TE BEGIN: Laai die oudio-Bybel op jou foon af en luister daarna terwyl jy in die oggend regmaak vir die dag.
GEBED.
Filippense 4:6-7 leer ons die belangrikheid van gebed. Daar staan: “Moet oor niks bekommerd wees nie, maar maak in alles julle versoeke deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend. En die vrede van God, wat alle begrip oortref, sal in Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak.”
Gebed is bloot om met God te praat.
In gebed verheerlik ons God vir wie Hy is en ons sê vir Hom dankie vir alles wat Hy vir ons gee en doen.
Ons bid vir onsself en vir ander mense vir dié dinge wat ons en hulle nodig het.
Dit sluit ook in dat ons ons sondes voor God bely en Hom vra om ons te help om heilige lewens te leef.
En laastens moet ons ook stil word en net na God luister, sodat ons kan hoor wat Hy deur die Gees vir ons wil sê.
Daar is sommer baie voordele aan gebed verbond.
Wanneer ons bid, hoor God ons. Hy gee ons vrede en Hy waak oor ons harte en gedagtes. En op die regte tyd, antwoord Hy dan ook ons gebede.
IDEE OM MEE TE BEGIN: Maak ‘n lys van mense en dinge waarvoor jy wil bid. Bid elke dag tydens jou stiltetyd vir ten minste drie van die dinge op jou lysie.
OM TE VAS.
Baie mense begin hulle nuwe jaar met ‘n 21-dae vas.
Om te vas beteken dat jy vir ‘n tyd lank doelbewus glad nie eet nie, of ‘n beperkte dieet volg – soos die Daniëlsvas.
Gedurende die tyd spandeer jy meer tyd met God in Sy Woord en in gebed. Jy herinner jouself daaraan dat Hy die bron is van alles wat jy in die lewe nodig het.
In Mattheus 6:16-18 sê Jesus die volgende oor vas: “Wanneer julle vas, moenie soos die skynheiliges met hulle lang gesigte wees nie, want hulle trek hulle gesigte, sodat die mense kan sien dat hulle vas. Amen, Ek sê vir julle: Hulle het reeds hulle volle beloning ontvang. Maar wanneer jy vas, salf jou kop met olie en was jou gesig, sodat jy nie die mense nie, maar net jou Vader, wat in die verborgenheid is, laat sien dat jy vas. En jou Vader, wat in die verborgenheid sien, sal jou beloon.”
‘n Mens vas nooit om ander te probeer beïndruk nie, maar eerder om ‘n dieper verhouding met God te bou.
En, soos jy uit die verse hierbo kan sien, is daar ‘n beloning daarby betrokke. Hierdie beloning is wat God ookal in Sy groot genade vir jou wil gee.
IDEE OM MEE TE BEGIN: Vas vir die volgende vyf dae een maaltyd ‘n dag. Spandeer die tyd wanneer jy sou eet saam met God in Sy Woord en in gebed.
OM ‘N JOERNAAL TE HOU.
‘n Mens kan ‘n joernaal op verskeie maniere hou.
Jy kan ‘n dankbaarheidsjoernaal begin, waarin jy elke dag ‘n klompie dinge neerskryf waarvoor jy dankbaar is.
Dan kan jy ook joernaal hou oor alles wat God vir jou uit Sy Woord leer.
Of jy kan joernaal hou oor dit wat God in jou lewe doen en wat Hy vir jou sê wanneer jy stil is voor Hom.
Jy kan selfs jou gebede neerskryf voor jy dit tot God bid.
En natuurlik kan jy ook sommer al die idees hierbo gebruik en dit alles saam in een joernaal neerskryf.
Hoekom is dit ‘n goeie idee om joernaal te hou?
Joernaal-hou is ‘n manier waarop jy nadink oor God. Maar dis nie al nie.
In Psalm 102:18 lees ons: “Laat dit opgeteken word vir die geslag wat kom, sodat die nuut geskape volk die Here kan loof.”
Ons hou dus nie net joernaal vir onsself nie. Ons hou ook joernaal sodat diegene wat na ons kom, dit kan lees en God beter leer ken en Hom loof.
IDEE OM MEE TE BEGIN: Kry vir jou notaboek of joernaal, of gebruik sommer die ‘Notes app’ op jou foon, en skryf neer hoe jy elke dag die hand van die Here in jou lewe raaksien.
AANBIDDING.
Aanbidding is meer as om net liedere tot God te sing.
Dis ook om Hom in gebed te loof vir wie Hy is. En dis om altyd daarna te streef om alles wat ons doen, tot Sy eer te doen.
Hebreërs 13:15-16 leer ons: “Laat ons dan deur Hom voortdurend ‘n lofoffer aan God bring – dit is die vrug van lippe wat sy Naam saam bely. En moenie versuim om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want God het behae in sodanige offers.”
Uit hierdie verse sien ons dat dit God behaag wanneer ons lofoffers aan Hom bring en goed doen en mededeelsaam is. Dit is dan ook die beloning wat ons daaruit kry – om God te behaag!
IDEE OM MEE TE BEGIN: In Romeine 11:36 lees ons: “Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom kom die heerlikheid vir ewig toe! Amen.” Dink ‘n bietjie na oor wat jy lees en wat dit vir jou beteken. Laat dit toe om aanbidding en lofprysing in jou hart aan te wakker.
GASVRYHEID.
In Hebreërs 13:2 staan: “Moenie versuim om gasvry te wees nie, want hierdeur het sommige, sonder dat hulle dit weet, engele as gaste ontvang.”
Om gasvry te wees beteken jy maak jou hart oop vir ander mense.
Dit kan beteken dat jy jou huis oopmaak en byvoorbeeld vir iemand wat julle gemeente besoek, slaapplek gee.
Dit kan ook beteken dat jy aanbied om die volgende Bybelstudie-byeenkoms of biduur by jou huis te hou.
Of dit kan wees dat jy aanbied om die verversings vir die volgende kerkraadsvergadering te voorsien.
Net soos met die vorige dissiplines, is daar ‘n beloning aan die dissipline van gasvryheid gekoppel. Wanneer jy gasvry is, seën jy nie net ander nie, maar jy word ook in die proses geseën.
IDEE OM MEE TE BEGIN: Kies drie mense in jou gemeente wat jy graag beter wil leer ken of wat jy wil bemoedig. Nooi hulle een vir een om by jou te kom koffie drink.
STILTE.
Meeste mense is nie baie gemaklik met stilte nie. ‘n Groot rede daarvoor kan wees omdat daar eintlik maar min kere is wanneer dit regtig stil is om ons.
As die TV of radio nie aangeskakel is nie, is daar kinders of ander mense wie se stemme jy in die agtergrond kan hoor.
Mens raak dus so gewoond aan ‘n agtergrond-geraas, dat stilte nie net ongemaklik is nie, maar amper oorverdowend.
Maar in Markus 1:35 lees ons dat Jesus vroeg in die oggend, terwyl dit nog donker was, na ‘n stil en verlate plek gegaan het, sodat Hy daar kon bid.
Hierdeur wys Hy vir ons dat dit voordelig is vir ‘n mens om van tyd tot tyd ‘n bietjie stilte om jou te hê.
Wanneer jy die geestelike dissipline van stilte beoefen, onttrek jy jou van ander mense. Jy sorg dat jy heeltemal alleen is en dat dit regtig stil en rustig om jou is. Jy raak ook vir daardie tydjie ontslae van enige iets wat jou aandag kan aftrek. Dit sluit jou selfoon in!
Gebruik hierdie tyd om stil te wees by God en Sy Teenwoordigheid te ervaar. Moenie bid of jou Bybel lees nie. Sit net stil en laat God toe om met jou met Sy liefde te omvou.
Die beloning of voordeel wat jy hieruit gaan kry, is dat jy Jesus se voorbeeld volg en tyd saam met God spandeer.
IDEE OM MEE TE BEGIN: Kies ‘n dag die volgende week en beplan om vir ‘n uur lank tyd saam met God te spandeer. Skryf dit in jou dagboek en hanteer dit soos enige afspraak – daag op! Onthou ook om jou selfoon af te skakel vir daardie uur of om dit iewers te los sodat dit nie jou aandag kan aftrek nie.
EVANGELISASIE.
Die laaste dissipline waarna ons gaan kyk, is die dissipline van evangelisasie.
In Mattheus 28 het Jesus ons die opdrag gegee om uit te gaan en vir ander van Hom te vertel. Om in Hom te glo as Verlosser is die enigste manier waarop iemand gered kan word. Maar as hulle nooit van Hom hoor nie, hoe sal hulle kan glo?
Dit is dus nie net ons plig nie, maar ook ons voorreg om vir ander van Jesus te vertel, sodat hulle ook gered kan word.
IDEE OM MEE TE BEGIN: Skryf jou persoonlike getuienis neer, sodat jy weet wat jy wil sê wanneer jy met iemand oor Jesus gesels. Begin met jou lewe voor jy Jesus ontmoet het. Skryf ook neer hoe jy tot bekering gekom het. Eindig jou getuienis met hoe jou lewe verander het nadat jy Jesus ontmoet het.
DOEN DIT SAAM MET IEMAND.
Ons het nou gesels oor 8 geestelike dissiplines wat jy kan gebruik om geestelik te groei.
Ongelukkig is dit so dat dit nie so maklik is om met die dissiplines te begin nie.
Ons weet almal ons moet hierdie dinge doen, dat dit goed is vir ons, maar ons sukkel daarmee om dit in ons lewens te begin toepas.
As jy sukkel om met ‘n nuwe geestelike dissipline te begin, oorweeg dit om dit saam met iemand anders te doen.
Kom bymekaar en lees saam die Bybel of bid saam. Of julle kan saam vas en mekaar bemoedig en aanmoedig om julle ‘etenstyd’ saam met God te spandeer.
Dan kan julle ook ‘n groep bymekaar kry wat aanbied om elke keer wat daar ‘n funksie by die kerk is, verversings te voorsien en so die dissipline van gasvryheid beoefen.
Dis altyd makliker om so ‘n geestelike dissipline saam met iemand anders te doen, sodat julle mekaar kan aanmoedig en verantwoordbaar hou. En, as jy nie iemand het saam met wie jy dit kan doen nie, vra die Here om jou daarmee te help. Vra Hom om vir jou iemand in jou lewe te bring, saam met wie jy een van dié geestelike dissiplines kan beoefen.