Gebruik die Gebedsjoernaal om jou in jou stiltetyd te help om God te ontmoet en meer gefokus te wees. Laai die gratis Gebedsjoernaal PDF sommer nou af!
Jy het seker al mense hoor praat van ‘n Gebedsjoernaal.
As jy lief is vir skryf, het jy dalk al een!
Maar dalk het jy nie ‘n idee waarvan ek nou praat nie. As dít die geval is, dan wil ek jou vandag vertel wat ‘n Gebedsjoernaal is. En, ek wil sommer vir jou ‘n gratis een gee, sodat jy dit vandag nog in jou stiltetyd kan begin gebruik. Jy sal sien, dit gaan ‘n groot verskil maak!
WAT IS ‘N GEBEDSJOERNAAL?
‘n Gebedsjoernaal, of ‘Prayer Journal’ soos dit in Engels genoem word, is ‘n joernaal wat jy in jou stiltetyd gebruik om jou tyd met God meer struktuur te gee.
Al word dit ‘n gebedsjoernaal genoem, kan dit vir meer dinge as net gebed gebruik word.
Jy kan dit gebruik om die gedeelte wat jy vir die dag lees, te oordink.
Dit kan gebruik word om die Woord te skryf, sodat jy dit makliker in jou hart en gedagtes kan bêre.
Jy kan dit gebruik om jou gebede neer te skryf en aan te teken wanneer en hoe die Here die gebede beantwoord het.
Dit kan dien as plek waar jy lyste maak van mense en dinge waarvoor jy wil bid, wat jy gewoonlik van vergeet.
Jy kan beloftes van God, wat jy in die Woord raakloop, neerskryf. Jy kan ook aanteken watter verse jy dalk wil memoriseer.
In kort, ‘n gebedsjoernaal kan gebruik word vir enige ding waaraan jy kan dink, wat jy in jou stiltetyd wil doen.
HOEKOM EEN GEBRUIK?
Nou wonder jy dalk waarom dit ‘n goeie idee is om ‘n gebedsjoernaal te gebruik.
Daar is sommer baie redes daarvoor, maar kom ons kyk net na ‘n paar.
Soos ek reeds hierbo genoem het, help ‘n gebedsjoernaal jou om meer struktuur in jou stiltetyd te hê. Jy gaan nie sit en wonder wat jy nou eintlik moet doen, en so ‘n klomp kosbare tyd mors nie, want jy het reeds ‘n plan in jou joernaal.
‘n Gebedsjoernaal is ‘n manier om God te ontmoet. Dit help jou om dieper te gaan en fyner na Hom te luister.
Jou joenaal is ook ‘n manier om jou geloofsreis te dokumenteer. Wanneer jy neerskryf wat God in jou lewe doen, versterk dit jou geloof. Dit laat jou Sy Hand in jou lewe raaksien, sodat jy dit ook met ander kan deel.
‘n Gebedsjoernaal kan ook ‘n Herinneringsaltaar wees. Onthou jy dat die mense in die Ou Testament baie keer ‘n altaar opgerig om dinge wat God belowe en gedoen het, te onthou? Jou gebedsjoernaal dien ook hierdie doel. Jy kan jou joernaal altyd weer deurlees om jouself te herinner aan God se goedheid en dat Hy gebede antwoord.
En laastens help ‘n gebedsjoernaal ‘n mens om te onthou om te bid vir diegene wat jy belowe het om voor te bid!
JOU GRATIS GEBEDSJOERNAAL
Dit is nie moeilik om jou eie gebedsjoernaal te begin nie. Enige notaboek kan daarvoor gebruik word.
Maar, om dinge vir jou makliker te maak en jou te help om te begin, het ek ‘n gratis gebedsjoernaal opgestel wat jy kan aflaai.
In die joernaal is daar plek om die Woord te skryf. Daar is ook plek om die Woord te oordink. (As jy op soek is na ‘n Leesplan om te gebruik, laai een van ons gratis Bybelleesplanne af!)
Daar is bladsye wat jy kan gebruik om jou gebede neer te skryf.
En daar is ook plek om lysies te maak van mense en dinge waarvoor jy wil bid.
Maar dis nie al nie!
Die joernaal is propvol bladsye wat jou gaan help in jou tyd met die Here.
HOE DIE JOERNAAL JOU KAN HELP.
Miskien is jy nog nie oortuig nie. Jy kan nie sien hoe so ‘n joernaal jou nou eintlik gaan help nie.
As jy nog wonder, hier is ‘n paar voorbeelde van wat jy in die gebedsjoernaal gaan kry en hoe dit jou kan help.
WANNEER JY MET DIE WOORD BESIG IS.
Ek het reeds genoem dat daar plek is in die gebedsjoernaal om die Woord te oordink.
Die bladsye in die joernaal wat jy daarvoor kan gebruik, het vrae om jou daarmee te help.
Begin jou oordenking deur eers die skrifgedeelte vir die dag te skryf. Jy sal verbaas wees om te sien hoeveel dinge die Here daardeur onder jou aandag bring. Wanneer jy skryf, word jy geforseer om regtig te lees wat daar staan. ‘n Mens gaan ook stadiger deur die teks wanneer jy skryf.
Na jy die skrifgedeelte geskryf het, is daar vrae om jou te help om die teks te oordink. Hierdie vrae lei jou deur ‘n waarnemingsproses. Soms gaan jy dalk nie al die vrae kan beantwoord nie, maar moenie daaroor bekommerd wees nie. Antwoord dan net die vrae wat van toepassing is op die deel wat jy gelees het.
Dan is daar vrae om jou te help om ‘n toepassing te vind. In Jakobus lees ons dat ons nie net die Woord moet hoor nie, maar dit ook moet doen. Onthou om die Heilige Gees te vra om jou te help om die toepassing vir jou lewe raak te sien!
Laastens is daar plek waar jy jou gebed vir die dag kan neerskryf. As jy die skrifgedeelte wat jy gelees het in ‘n gebed kan verander, maak so. Bid dit dan terug tot God. Skryf ook neer wat die Here dalk vir jou sê terwyl jy bid.
As jy egter die dag voel dat jy nie ‘n klomp vrae wil antwoord nie, en net wil skryf wat die Here op jou hart lê, dan is daar ‘n bladsye wat jy daarvoor ook kan gebruik.
WANNEER JY BID.
Daar is natuurlik ook plek in die gratis gebedsjoernaal om langer gebede neer te skryf. Sommige mense vind dit help om hulle gebede te skryf, want dan dwaal hulle gedagtes nie so maklik nie.
Jy kan ook, as jy nie ‘n hele gebed wil uitskryf nie, net die hoofpunt skryf van waarvoor jy vir elke mens bid.
Onthou ook om later terug te gaan en neer te skryf wanneer en wat God se antwoord op jou gebede was.
HOE OM DIE JOERNAAL TE GEBRUIK.
Die Gebedsjoernaal het ‘n klomp verskillende bladsye wat vir verskillende dinge gebruik kan word. Druk die hele joernaal en onthou om meer bladsye te druk van dié wat jy elke dag gaan gebruik.
Dalk wil jy nie al die bladsye wat in die joernaal voorsien word, gebruik nie. Druk dan net dié wat jy wel wil gebruik. Druk soveel as wat jy nodig het.
Jy kan ook die joernaal aflaai en dit glad nie druk nie, maar net gebruik om jou ‘n idee te gee van hoe jy jou eie joernaal in ‘n notaboek kan opstel.
Ek hoop egter dat jy die gratis Gebedsjoernaal gaan aflaai en uitdruk.
En ek bid dat dit vir jou baie gaan beteken in jou stiltetyd.
Mag die Here dit gebruik om jou te help om nader aan Hom te kom, en om Sy goedheid in jou lewe raak te sien.