GEHOORSAAMHEID AAN GOD – ABRAHAM

Gehoorsaamheid aan God is iets wat vir Hom baie belangrik is. Jy hoef maar net die eerste paar hoofstukke in Genesis te lees om te sien dat dit waar is.

Oral in die Bybel lees ons dan ook van mense wat een van twee dinge gedoen het. Daar is diegene wat aan God gehoorsaam was en die vrug daarvan gepluk het. Maar daar is ook ander wat nié gehoorsaam was nie en met die nagevolge gesit het.

In Genesis 22 lees ons van Abraham, wat gehoorsaam was aan God se opdrag om sy seun, Isak, te gaan offer.

Kom ons kyk ‘n bietjie na wat ons alles by hom kan leer oor gehoorsaamheid aan God.

Gehoorsaamheid aan God - Wat Abraham ons leer

GOD SE OPDRAGTE.

God het vir hom gesê: “Vat jou seun, jou enigste seun, Isak wat jy liefhet, en gaan na die landstreek Moria toe en offer jou seun as brandoffer daar op een van die berge wat Ek vir jou sal aanwys” (vs.2).

Soms vra God van ons iets wat nie so moeilik is nie. Dink maar aan die dag toe Jesus water in wyn verander het.

Hy het vir die kelners gesê om die klipkanne vol water te maak. Daarna het Hy vir hulle gesê om daarvan uit te skep en vir die hoofkelner te gaan gee.

Nie een van die opdragte was moeilik nie.

Maar ander kere is God se opdragte nie so maklik nie. Soos die opdrag wat Hy vir Abraham gegee het om Isak te gaan offer.

Dit kon nie ‘n maklike opdrag gewees het nie. Maar Abraham het dit nogtans gehoorsaam.

GEHOORSAAM IN GELOOF.

Soms vra God van my en jou ook dinge wat nie te moeilik is nie. Hy vra dalk dat jy vir jou buurvrou haar gras moet sny. Nie ‘n moeilike opdrag nie. Maar ongelukkig ignoreer ons partykeer die maklike opdragte omdat ons dink dit kan nie God wees wat iets so maklik van ons vra nie.

Ander kere vra God weer iets wat moeilik is – iets wat amper onmoontlik lyk.

Hy doen dit omdat Hy wil hê ons moet ‘n geloofstap neem en Hom gehoorsaam terwyl ons Hom vertrou dat Hy ons sal help om presies te doen wat Hy vir ons gesê het om te doen.

Ongelukkig gebeur dit ook dat ons baie keer die moeilike opdragte ignoreer omdat ons nie regtig vertrou dat God ons sal help om dit uit te voer nie.

Ons moet leer om God altyd soveel te vertrou dat ons Hom gehoorsaam ongeag wat die opdrag is.

Ons moet onthou dat Hy altyd daar is om ons te help. Hy werk in ons en stel ons in staat om te doen presies wat Hy van ons vra.

Al wat ons moet doen, is om in geloof gehoorsaam te wees. Hy sal die res doen.

DOEN DIT DADELIK.

Vroeg die volgende môre het Abraham ‘n donkie opgesaal en hout gekap vir die brandoffer. Hy het twee slawe saamgevat en ook sy seun Isak. Toe het hy vertrek na die plek toe wat God vir hom aangewys het (vs.3).

Abraham het nie gras onder sy voete laat groei nie. Die dag na God hom die opdrag gegee het, en hy dit uitgevoer.

Wanneer God ons ‘n opdrag gee, verwag Hy dat ons dit onmiddellik gehoorsaam.

Ons is nie veronderstel om eers ‘n paar dae daaroor te dink voor ons besluit of ons gaan gehoorsaam of nie.

Onthou, God se tydberekening is perfek. Wanneer Hy vir jou sê om, byvoorbeeld, vir iemand te bid, dan is dit omdat die persoon op daardie oomblik gebed nodig het. Jy sien nie die volle prentjie nie, en weet dalk nie waarom jy dadelik moet bid nie. Maar wees gehoorsaam. Doen wat God vir jou sê en doen dit dadelik.

Hoe langer ‘n mens wag om God te gehoorsaam, hoe groter is die kans dat jy dit op die ou end glad nie gaan doen nie.

‘n Mens weet nie waarom Abraham eers die volgende dag God se opdrag uitgevoer het nie. Dalk het God hom in die aand die opdrag gegee, en hy kon dit nie toe uitvoer nie. Dalk was daar ‘n ander rede daarvoor.

Maar hoe dit ookal sy, ons moet Abraham se voorbeeld volg. Ons moet doen wat God vir ons sê wanneer Hy dit vir ons sê.

GELOOF IN GOD SE MAG.

Toe sê hy vir sy slawe: “Wag hier met die donkie. Ek en die seun gaan daar aanbid, dan kom ons terug na julle toe” (vs.5).

Hoor jy Abraham se geloof?

Hy sê vir sy slawe dat hy en Isak gaan aanbid en dan gaan hulle terugkom. Nie hy alleen nie, maar hulle. Dit wys wat hy omtrent God geglo het.

In Hebreërs 11:19 lees ons wat Abraham geglo het: “Hy was daarvan oortuig dat God by magte is om uit die dood op te wek, waaruit Abraham vir Isak ook, om dit so te stel, terug ontvang het.”

Abraham het geglo God kan. En dis nie die eerste keer wat hy dit geglo het nie.

Ons lees dat hy dieselfde ding geglo het toe God belowe het dat hy en Sara, wat heeltemal te oud was om kinders te kry, ‘n seun sou hê.

In Romeine 4:20-21 lees ons: “Hy [Abraham] het nie in ongeloof begin twyfel aan die belofte van God nie, maar hy is in sy geloof versterk en het aan God die eer gegee. Hy was ook ten volle daarvan oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het.”

God kan. Maak nie saak wat dit is nie, God kan.

Wanneer Hy ‘n belofte maak, is Hy by magte om dit uit te voer, selfs al lyk dit ook hoe onmoontlik.

Daarom kan ek en jy ook doen wat Abraham gedoen het. Ons kan God se beloftes glo en Hom vertrou om dit uit te voer.

ONS GOD WAT VOORSIEN.

Terwyl hulle twee so saamloop, sê Isak vir sy pa: “Pa?” en Abraham antwoord: “Ja, my seun?” Toe vra Isak: “Hier is vuur en hout, maar waar is die lam om te offer?”
Abraham het geantwoord: “My seun, God sal sy eie offerlam voorsien” (vs.7-8a).

Isak het duidelik nie geweet van die opdrag wat God vir Abraham gegee het nie. En toe begin hy wonder.

Hulle het hout en vuur, maar nie ‘n offerlam nie.

Hy vra sy pa daaroor en kry die antwoord dat God Self sal voorsien.

As jy die res van die storie onthou, sal jy weet dis presies wat God gedoen het.

Abraham het vir Isak vasgebind en hom bo-op die hout op die altaar neergesit. Maar net voor hy hom kon slag, keer God hom.

En toe Abraham weer sien, gewaar hy ‘n ram wat aan sy horings in ‘n bos vasgevang is.

Daarna noem hy die plek, Die Here Voorsien. Dis dan ook een van God se Name wat ons in die Bybel kry. In Hebreeus is dit Yahweh Yireh. Of, soos ons dit in Afrikaans skryf, Jehovah Jireh.

GOD VOORSIEN STEEDS.

Net soos God vir Abraham voorsien het, voorsien Hy steeds vir ons.

Deur Jesus het Hy verlossing en die ewige lewe voorsien. Hy het ook die geloof voorsien wat ons nodig gehad het om te glo en verlos te word (Romeine 10:17; Efesiërs 2:8).

Ook het Hy vir ons die Heilige Gees gegee (voorsien) om ons te help om ‘n lewe te leef wat Hom eer en verheerlik.

Dan voorsien Hy elke dag in elke behoefte wat ons het.

Dit, en soveel meer, voorsien God omdat dit is wie Hy is – Yahweh Yireh, die God wat voorsien.

SEëN IN GEHOORSAAMHEID.

In jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën wees, want jy het My gehoorsaam (vs.18).

Nadat Abraham die lam geoffer het, lê God ‘n eed af dat Hy hom sal seën omdat hy gehoorsaam was. Hy belowe om Abraham vrugbaar te maak en dat sy nageslag so baie soos die sterre van die hemel en die sand van die see gaan wees.

En dis presies wat Hy gedoen het.

Die Israeliete en hulle nageslag is almal die fisiese nageslag van Abraham. Maar dis nie al nie. Hy het ook ‘n geestelike nageslag. In Galasiërs 3:6-7 staan daar: “So was dit ook met Abraham: ‘Hy het in God geglo, en God het hom vrygespreek.’ Julle sien dus dat dié wat glo, kinders van Abraham is.” Ek en jy is dus ook deel van Abraham se nageslag (Galasiërs 3:29).

Verder belowe God dat al die nasies van die aarde geseën sal wees omdat Abraham gehoorsaam het.

In Jesus kom Hy daardie belofte na.

Net soos Abraham bereid was om sy seun te offer, was God ook bereid om dit te doen.

Maar, anders as Abraham, voer Hy dit enduit en Jesus word gekruisig vir ons sondes. Hy is die perfekte offerlam van God, wat die sonde van die wêreld wegneem.

SEëN VIR JOU EN MY.

Abraham was geseënd omdat hy gehoorsaam was. Al die nasies van die wêreld is ook geseën as gevolg van sy gehoorsaamheid.

Jy sien, daar is altyd seën in gehoorsaamheid.

Dit maak nie saak watter opdrag God jou gee nie, daar sal altyd een of ander seën daaruit voortkom.

En daardie seën is eintlik nooit net joune nie. Dit kring altyd op een of ander manier uit na ander mense. Onthou hoe het Abraham se seën uitgekring na ons, wat duisende jare na hom eers hier op aarde leef.

En, hoewel ons nooit aan God moet gehoorsaam wees net sodat ons seën kan ontvang nie, moet ons tog ook onthou dat daar altyd seën by betrokke is wanneer ons God gehoorsaam.

GEHOORSAAMHEID AAN GOD.

God gee nooit sommer net vir ons ‘n opdrag nie. Daar is altyd ‘n rede – ‘n baie goeie rede – daarvoor.

En, as ons doen wat Abraham gedoen het en Hom dadelik en in geloof gehoorsaam, gaan ons (en ook andere rondom ons) altyd een of ander seën daaruit kry.

So moenie huiwer wanneer God jou ‘n opdrag gee nie. Vertrou Hom dat Hy jou in staat sal stel om te doen wat Hy gesê en gaan dan en voer Sy opdrag uit.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *