Dit is moontlik om tyd met God te spandeer selfs al is jy baie besig. Gebruik hierdie twee stappe om jou daarmee te help.
Om tyd met God te spandeer, is een van die belangrikste dinge wat ek en jy as gelowiges kan doen. Dis in ons tyd saam met Hom wat ons Hom beter leer ken. Dis daar waar ons ons harte voor Hom kan oopmaak, waar ons krag, bemoediging, wysheid, ensovoorts kan ontvang.
Ongelukkig is meeste van ons so besig dat ons maar min tyd met God spandeer. As ons doenlysies vir die dag te lank raak, dan is tyd met God die eerste ding wat ons van die lys afhaal, om dit bietjie korter te maak.
Maar het jy geweet dat jy ‘n besige lewe kan hê en steeds tyd maak vir God en aan jou verhouding met Hom werk?
‘n Mens doen dit deur net twee stappe te volg.
Die eerste stap is om te kyk waar jy tyd mors, want almal van ons mors op een of ander manier tyd deur die dag.
Die tweede stap is om ons prioriteite reg te kry, want as God nie ons eerste prioriteit is nie, gaan ons altyd ons tyd met Hom afskeep.
Hierdie twee stappe kan jou enige plek in jou lewe help, maar dit is veral waardevol wanneer dit kom by jou verhouding met God en die tyd wat jy met Hom wil spandeer.

WAAR MORS JY TYD?
Almal van ons het tyd nodig om net so ‘n bietjie te rus en weer tot verhaal te kom. Dan wil ons ook graag tyd met ons gesin en met ons vriende spandeer.
Maar as jy eerlik is met jouself, sal jy erken dat daar tyd in jou dag is wat jy eintlik besig is om goed te doen wat maar kon gebly het.
Dink aan sosiale media. Ek doen nie veel op Facebook of Instagram nie, maar YouTube kan my vir ure lank besig hou as ek nie versigtig is nie.
Bekyk dus jou dag. Waar is jy besig om tyd te mors met dinge wat onnodig is? Hoe kan jy daardie tyd gebruik om liewer tyd met God te spandeer?
WIE SLURP JOU TYD OP?
God vra van ons om ons naaste lief te hê en om goeie ouers, vriende, bure, familielede, ensovoorts te wees.
Maar dit beteken nie dat ons tyd heeltyd deur ander opgeslurp moet word nie!
Onthou jy die storie van Martha en Maria?
Jesus en Sy dissipels het vir hulle kom kuier. Maria het gekies om tyd saam met Jesus te spandeer. Martha het gekies om ‘n goeie gasvrou te wees en Jesus en Sy dissipels op daardie manier te dien.
Dit wat sy gekies het om te doen, was nie verkeerd nie. Maar sy kon haar tyd beter benut het.
Toe sy by Jesus kom kla oor Maria haar nie help nie, het Hy haar daarop gewys dat Maria die beter deel gekies het.
Elkeen van ons is met tye besig om soos Martha op te tree.
Ons laat toe dat ander mense, en dit wat ons vir hulle moet doen of wat hulle van ons verwag, ons tyd opslurp.
En hoewel dit nie verkeerd is om dinge vir ander te doen nie, moet ons onthou dat God en tyd met Hom die heel belangrikste is.
Waar is jy besig om dinge vir andere te doen, wat hulle eintlik vir hulleself kan en moet doen?
Sê jy gereeld ‘ja’ vir dinge waarvoor jy eintlik ‘nee’ moet sê?
Dis tyd om jou prioriteite te bekyk en dalk ‘n paar moeilike besluite daaroor te neem. Dis tyd om soms ‘nee’ te sê sodat jy tyd in jou skedule kan inruim om tyd met God te spandeer.
WERK JY TE VEEL?
‘n Mens moet werk. Om die waarheid te sê, dis iets wat God van ons verwag.
En ‘n mens moet die werk wat jy doen, goed doen.
Maar soms gaan ons heeltemal oorboord en spandeer hopeloos te veel tyd aan werk.
Kyk ‘n bietjie na jou werksskedule en werksure.
Werk jy meer ure as wat nodig is? Trek jy vyfuur die kantoor se deur agter jou toe net om nog ‘n paar uur by die huis ook aan jou werk te spandeer?
Hoe kan jy die ekstra tyd wat jy aan werk spandeer minder maak, sodat jy ten minste ‘n deel daarvan kan gebruik om elke dag tyd met God kan spandeer?
WAT HOU JOU TERUG?
Soms is ‘n mens nie regtig te besig om tyd met God te spandeer nie.
Daar is tye wat ‘n mens kiés om dit nie te doen nie.
Daar kan verskeie redes daarvoor wees.
Dalk kies jy om nie tyd met God te spandeer nie, omdat jy skaam is oor iets wat jy gedoen het. Maar dit hoef nie ‘n probleem te wees nie. Jy kan eenvoudig by God stil word en erken wat jy gedoen het. Onthou, Hy weet in elk geval. Dan kan jy die vergifnis van sonde, wat Hy in Jesus na jou toe uit hou, in geloof aanvaar. Nou hoef jy Hom nie meer te vermy omdat jy skuldig voel nie.
Of dalk spandeer jy nie tyd met Hom nie omdat jy dink Hy wil nie tyd met jou spandeer nie. Dis egter nie waar nie. Die Vader het Jesus gestuur om die pad vir ons oop te maak sodat ons weer ‘n verhouding met Hom kan hê. Natuurlik wil Hy tyd met jou spandeer! Jy is, in Christus, Sy geliefde kind. Jy kan dus met groot vrymoedigheid na Hom toe kom en verseker weet Hy wag om tyd met jou te spandeer.
Miskien spandeer jy nie tyd met Hom nie omdat jou geloof op die stadium so ‘n bietjie wankelrig is. Moenie toelaat dat dit jou verhoed om tyd met Hom te spandeer nie. Dis juis wanneer jy tyd met God spandeer, wat jou wankelrige geloof opgebou word sodat dit weer sterk kan wees.
Net jy weet waarom jy kies om nie tyd met God te spandeer nie. Bring dit na Hom toe en sê vir Hom hoe jy voel. Vra Hom ook om jou te help om deur dit te werk sodat jy dit agter jou kan sit.
TYD MET GOD GEDURENDE DIE DAG.
Die ideaal is om stil en rustig te wees wanneer jy tyd met God te spandeer. Om al jou aandag te gee aan dit waarmee jy besig is sonder allerhande onderbrekings.
Maar dis ongelukkig vir meeste van ons nie moontlik nie.
Daarom is dit ‘n goeie idee om tyd met God te spandeer sommer so terwyl jy besig is met ander dinge.
Hoe doen ‘n mens dit?
Hier is ‘n paar idees.
DIE TYD WAT JY IN DIE MOTOR SPANDEER.
Almal van ons spandeer op enige gegewe dag tyd in die motor. Dit kan wees wanneer jy werk toe ry, die kinders skool toe neem of dalk gaan inkopies doen.
Hierdie is ideale stukkies tyd wat ‘n mens kan gebruik om tyd met God te spandeer.
Jy kan na geestelike musiek luister, saamsing en so vir God loof en prys.
Of jy kan na ‘n preek of na die oudio-Bybel luister.
Jy kan na ‘n Christelike potgooi (podcast) luister of vir jou ‘n geestelike oudio-boek kry en daarna luister.
Jy sal verbaas wees wat dit vir jou verhouding met God kan beteken as jy elke keer wat jy in die motor ry, op een of ander manier tyd met Hom spandeer.
GEDURENDE JOU ETE-BREEK.
‘n Mens se tee- of ete-breek by die werk is ook ‘n ideale geleentheid om tyd met God te spandeer.
As jy alleen in ‘n kantoor werk, trek die deur toe, lees jou Bybel en bid.
Het julle kantoorgebou ‘n tuin? Gaan stap daar rond en bid vir enige iets wat die Here op jou hart lê.
Of sit iewers waar dit rustig is en skryf jou gebed in jou joernaal neer. Vir baie mense is dit ‘n makliker manier om tyd in gebed te spandeer wanneer hulle by die werk is. Jou kollegas sal dink jy is besig met werk en jou dalk nie so maklik pla nie.
Jy kan ook in jou motor gaan sit en jou Bybel, ‘n geestelike boek of ‘n dagstukkieboek lees.
Daar is sommer heelwat dinge wat jy in jou tee- of ete-breek kan doen om tyd met God te spandeer.
NOG IDEES OM TE GEBRUIK.
Hier is nog ‘n paar idees wat jy kan gebruik om tyd met God te spandeer, selfs al is jy besig.
- Luister na ‘n geestelike boodskap terwyl jy regmaak vir die dag.
- Praat met God wanneer jy wakker word in die nag. Dis ‘n baie beter gebruik van jou tyd as om te lê en jou bekommer oor allerhande dinge!
- Sluit jou dag af deur te bid en die Here te dank vir alles wat Hy daardie dag vir jou gedoen en gegee het.
- Luister na ‘n preek, die oudio-Bybel of ‘n Christelike potgooi terwyl jy kosmaak, die wasgoed was, die skottelgoed was.
- Bid deur die dag vir mense wat jou pad kruis.
- Laai die YouVersion Bible app op jou foon af. Gebruik dit iewers in jou dag wanneer jy gewoonlik tyd op sosiale media sou spandeer.
- Vra die Here deur die dag om jou te help met die werk wat jy moet doen.
- As jy ‘n tuisbly-ma is, bid terwyl jy besig is om die huis skoon te maak. Jy kan vir elke kind by die naam bid terwyl jy in hulle kamers besig is.
HET JY NOG IDEES?
Hierdie is maar net ‘n paar idees wat jy kan gebruik om tyd met God te spandeer, selfs wanneer jy besig is.
Maar dis verseker nie die enigste dinge wat jy kan doen nie!
Is daar iets wat jy doen, waaraan ek nie gedink het nie?
Vertel vir ons in die kommentaar hieronder. ‘n Mens weet nooit of jou idee presies is wat iemand anders gaan help wat ook sukkel om tyd met God te spandeer nie.
In very hectic days, I will whenever I go to the bathroom as well, just sit and pray. i am not sure if this is a good place but it is a place where all of us go to for several times each day.