In verlede week se artikel het ons gesels oor 5 minute gewoontes wat jy kan aanleer, wat jou lewe gaan verander. Die eerste gewoonte waarna ons gekyk het, is om tyd in die Bybel te spandeer.
Vir baie mense is dit ‘n moeilike gewoonte om aan te leer, want die tyd daarvoor is maar min. Maar dis ‘n gewoonte wat regtig jou lewe gaan verander.
Hoekom?
Want wanneer jy besig is met die Bybel, is jy besig om tyd met God te spandeer. Jy sien, deur die Bybel leer ons wie God is. Ons leer Sy karaktertrekke ken. Ons leer waarvan Hy hou en wat Hy wil hê ons moet doen. Dan leer ons ook waarvan Hy nié hou nie en wat Hy nie wil hê ons moet doen nie. In kort, tyd in die Bybel help ons om God beter te leer ken.
Om jou te help om die gewoonte aan te leer om tyd met God in die Bybel te spandeer, het ek ‘n paar van die hulpmiddele op Nader In Eenvoud hier bymekaar gesit. Elkeen van dié hulpmiddele gaan jou iets leer of iets gee wat jy kan doen, om tyd met God in die Bybel te spandeer.
‘N STILTETYDGIDS VIR BEGINNERS.
Jy het seker al gehoor gelowiges sê hulle hou stiltetyd. Dis sommer net ‘n manier om te sê dat hulle tyd met God spandeer.
Dalk het jy nog nooit stitetyd gehou nie. Of dalk het jy iewers langs die pad opgehou daarmee. Hoe dit ookal sy, die stiltetydgids vir beginners is ideaal om jou te help om ‘n stiltetyd-roetine te begin.
MANIERE OM TYD IN DIE BYBEL TE SPANDEER.
Daar is verskillende maniere wat ‘n mens kan gebruik om tyd in die Bybel te spandeer.
Sommige van dié maniere kan jy gebruik wanneer jy nie baie tyd het nie. Ander is weer ideaal wanneer dit stil en rustig is en jy meer tyd in die Bybel kan spandeer.
In hierdie video gesels ons oor 5 maniere wat jy kan gebruik om tyd in die Bybel te spandeer.
GEBRUIK ‘N BYBELLEESPLAN.
‘n Bybelleesplan is ‘n baie handige hulpmiddel om te gebruik wanneer jy tyd in die Bybel wil spandeer.
So ‘n leesplan gaan presies vir jou sê waar in die Bybel jy elke dag moet lees. Jy hoef dus nooit te wonder en rond te blaai om iets te kry om te lees nie.
Daar is verskillende leesplanne beskikbaar.
Sommige gaan oor ‘n spesifieke onderwerp in die Bybel. Dit gee jou ‘n breë oorsig oor wat die Bybel oor die onderwerp sê. Hier by Nader In Eenvoud het ons ‘n hele klomp sulke leesplanne wat jy gratis kan aflaai.
Daar is ook leesplanne wat jou help om kronologies deur die Bybel te lees. Of dit help jou om in ‘n jaar, of selfs drie of vyf jaar, deur die Bybel te lees. Ons het sulke gratis leesplanne ook beskikbaar. As jy graag so ‘n leesplan wil hê, vul dan jou inligting hieronder in en ek stuur dit vir jou.
DOEN BYBELSTUDIE.
Nog ‘n manier om tyd in die Bybel te spandeer, is om dit te studeer. Hiervoor gaan jy natuurlik langer tyd nodig hê, maar dis absoluut die moeite werd.
Baie mense sê hulle weet nie waar om te begin om Bybelstudie te doen nie. Ander sê weer hulle verstaan nie hoe nie. En nog ander sê hulle verstaan nie die Bybel so mooi nie.
Hoewel al hierdie dinge Bybelstudie moeilik kan maak, hoef dit nie regtig ‘n probleem te wees nie.
Een manier om al die probleme op te los, is om ‘n Bybelstudie wat jy gekoop het, te gebruik. So ‘n Bybelstudie gaan jou help om te weet waar om te begin, want die studie lei jou in wat jy moet doen. Sommige studies gaan jou ook leer hoe om self Bybelstudie te doen, deur die stappe wat jy in die studie volg. En dan is daar gewoonlik ook verduidelikings wat jou gaan help om beter te verstaan.
Daar is sommer baie Bybelstudies in boekwinkels en op die internet beskikbaar. By Bybel En Gebed, Nader In Eenvoud se sustersblad, is daar ‘n Bybelstudie oor die gelykenisse van Jesus beskikbaar.
SKRYF DIE WOORD.
Een van my gunsteling maniere om tyd in die Bybel te spandeer, is om dit te skryf. Om die woorde in die Bybel neer te skryf, is ‘n manier waarop jy dit in jou hart bêre. En as jy dieselfde gedeelte ‘n paar dae na mekaar skryf, dan memoriseer jy dit makliker.
Om die Woord te skryf is sommer baie eenvoudig. Kies vir jou ‘n gedeelte uit Bybel en skryf dit woord-vir-woord in ‘n notaboek of joernaal. Jy kan sommer die gedeeltes in een van jou leesplanne ook hiervoor gebruik.
In die Bybel Biblioteek, dis nou die plek hier by Nader In Eenvoud waar jy allerhande gratis hulpmiddele vir jou stiltetyd kan kry, is daar ‘n hele paar ‘Skryf Die Woord’-hulpmiddele. Vul net jou inligting hieronder in, en jy sal toegang tot die Bybel Biblioteek kry.
SLOTSOM.
Dit is moontlik om die gewoonte aan te leer om tyd in die Bybel te spandeer. Elkeen van die hulpmiddele hierbo kan jou daarmee help. So kies een van hulle – of dalk sommer ‘n paar! – en begin om gereeld tyd met God in die Bybel te spandeer.
Dit gaan beslis jou lewe verander!