8 WENKE VIR JOU STILTETYD

Ons weet almal ons moet dit doen. Ons lees dit aanhoudend in boeke en artikels. Oral is daar mense wat ons aanmoedig om dit te doen. Om die waarheid te sê, as jy ‘n gelowige is, het jy ‘n begeerte om dit te doen.

Waarvan praat ek?

Tyd saam met God in die Woord!

Ongelukkig is nie almal seker hoe hulle elke dag tyd saam met God in die Woord kan spandeer nie.

As jý nie seker is nie, dan is hierdie week se artikel vir jou, want ons gaan gesels oor 8 wenke vir jou stiltetyd.

8 Wenke vir jou stiltetyd

MAAK ‘N AFSPRAAK MET GOD.

Om jou stiltetyd as ‘n afspraak met God te beskou is een van die belangrikste dinge wat jy kan doen.

Stiltetyd word maklik eenkant toe geskuif as jy nie ‘n definitiewe besluit neem dat jy elke dag tyd saam met Hom in die Woord gaan spandeer nie.

Skryf die tyd wanneer jy stiltetyd gaan hou in jou dagboek neer. Beskou dit dan soos enige ander afspraak.

Sorg dan dat jy jou ander afsprake rondom jou afspraak met God maak, sodat niks inmeng met jou stiltetyd nie.

Onthou net om ‘n tyd te kies wanneer jy wawyd wakker gaan wees. Dis nutteloos om jou tyd met God te skeduleer vir ‘n tyd wanneer jy half aan die slaap is. Kies dus ‘n tydgleuf wat jou pas, wanneer jy op-en-wakker is en gereed is om te ontvang wat die Heilige Gees jou wil leer.

BID.

Dit is belangrik om jou stiltetyd met gebed te begin.

Vra die Heilige Gees om die Woord vir jou oop te breek.

Sonder Sy hulp gaan jy nie verstaan wat Hy vir jou sê nie. Jy kan ook Sy woorde misinterpreteer en so mislei word.

Vra Hom om jou te help om fyn te luister wat Hy sê. En moenie vergeet om te vra dat Hy jou die wysheid gee om te weet hoe jy, wat jy leer, in jou lewe moet toepas nie.

En dan moet jy Hom vertrou en verwag dat Hy presies gaan doen wat jy Hom gevra het.

MAAK NOTAS.

Dis nie almal wat daarvan hou om te skryf nie. Maar om notas te neem terwyl jy met die Woord besig is, is baie belangrik.

Jy het nie nodig om dinge ingewikkeld te maak nie. Al wat jy nodig het is ‘n pen of potlood en iets om op te skryf.

Jy kan ook ‘n Word dokument op jou rekenaar gebruik of ‘n app, wat spesifiek vir daardie doel gemaak is, gebruik.

Dit maak nie regtig saak wat jy gebruik nie, solank jy net notas maak van die dinge wat jy leer.

Skryf die woorde, frases of verse neer wat vir jou uitstaan.

Skryf ook alles neer wat die Heilige Gees jou daaroor wys.

En, as daar iets is wat jy later in meer diepte wil studeer, skryf dit ook neer sodat jy nie daarvan vergeet nie.

WAAR OM TE BEGIN.

Die Bybel bestaan uit 66 verskillende boeke. Dit kan dus na ‘n moeilike taak lyk om te besluit waar jy nou eintlik moet begin!

Maar dit hoef nie moeilik te wees nie.

Jy kan besluit om eenvoudig in Genesis te begin en te bly lees tot jy met Openbaringe klaarmaak.

Of jy kan met een van die Evangelies begin of met een van Paulus se briewe.

Jy kan selfs kies om ‘n karakter in die Bybel van naderby te leer ken deur sy of haar storie te lees.

Daar is ook verskeie Bybelleesplanne op die Internet beskikbaar. Hierdie planne gee elke dag vir jou ‘n gedeelte om te lees. Dit maak dinge makliker, want jy hoef nie te wonder waar jy volgende moet lees nie.

Hier by Nader In Eenvoud het ons ook leesplanne beskikbaar. Vul net jou inligting hier onder in en ek sal dan vir jou ‘n leesplan stuur.

LEES EN OORDINK.

Nadat jy jou gedeelte vir die dag gelees het, is dit tyd om daaroor na te dink of dit te oordink.

Sommige mense hou daarvan om vrae te vra oor die teks om hulle te help verstaan wat daar staan.

Ander verkies om die teks met verskillende kleure en simbole te merk.

Party skryf die gedeelte wat hulle gelees het in hulle eie handskrif oor. Of hulle skryf dit in hulle eie woorde oor.

Dan is daar ook diegene wat sommer al die metodes gebruik.

Dit maak weereens nie saak presies hoe jy dit doen nie, solank jy net die teks oordink.

LEES OOK: GEESTELIKE DISSIPLINESREEKS: OORDINK DIE WOORD

SKRYF NEER WAT JY LEER.

Aan die begin van jou stiltetyd het jy die Heilige Gees gevra om jou te help verstaan wat jy lees.

Jy het jou Bybel gelees en oor die teks gedink.

Nou is dit tyd om weer neer te skryf wat jy geleer het en watter insigte jy gehad het.

Aan die begin gaan jy dalk nie veel leer of verstaan nie. Maar moenie moed opgee nie.

Hoe meer jy oefen om stil te wees by die Here, hoe beter gaan jy Sy stem hoor. Jy gaan ook makliker begin verstaan wat Hy vir jou deur Sy Woord wil sê.

Moet dus nie handdoek ingooi as jy aan die begin ‘n bietjie sukkel nie!

OORDINK DIE TEKS DEUR DIE DAG.

Soms gebeur dit dat ‘n vers of verse vir ‘n mens uitstaan.

As dít gebeur, skryf die vers of verse op ‘n papier of kaartjie neer, wat jy deur die dag saam met jou kan dra.

Haal die vers elke nou en dan uit en lees dit weer. As dit moontlik is, lees dit ‘n paar keer hardop. Dink dan weer oor die teks. Vra die Here om jou ‘n dieper insig te gee.

Doen dit gereeld deur die dag en vertrou die Here dat Hy jou meer gaan leer.

Laat Hom toe om jou denke te vernuwe terwyl jy oor die teks dink (Romeine 12:2).

WEES ‘N DOENER VAN DIE WOORD.

Die laaste van die 8 wenke vir jou stiltetyd is iets wat ons baie keer nalaat om te doen.

Ons is geneig om nie alles wat ons uit die Woord leer in ons lewens toe te pas nie.

God het egter nie Sy Woord net vir ons gegee sodat ons dit kan lees en hoor nie. Nee, Hy verwag dat ons Sy woorde hoor (lees) en dit dan gehoorsaam.

Vra die Here om jou te wys hoe jy wat jy geleer het in jou lewe moet toepas.

Vra Hom ook om jou te help om dit te doen.

In Jakobus 1:22 word ons gewaarsku om nie net hoorders van die Woord te wees nie, want dan mislei ons onsself. Ons moet doeners van die Woord word en toepas wat God ons geleer het.

BYBEL BIBLIOTEEK.

Ek vertrou dat hierdie 8 wenke vir jou stiltetyd jou sommer baie gaan help met jou tyd in die Woord.

As jy nog hulp nodig het, teken dan in vir ons weeklikse nuusbrief en kry toegang tot die Bybel Biblioteek.

Daar is allerhande hulpmiddele om jou te help met jou stiltetyd.

Vul net jou inligting hieronder in. Hou dan jou e-posbus dop vir die e-pos wat jy gaan kry, en maak sommer dadelik ‘n draai in die Bybel Biblioteek!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *