‘N PLAN VIR JOU STILTETYD

Meeste mense stel vir hulleself doelwitte aan die begin van elke nuwe jaar. ‘Tyd met God’ is dan ook ‘n doelwit wat op meeste gelowiges se lysie gesit word.

Dalk het jy ook jaar na jaar ‘tyd met God’ as ‘n doelwit op jou lysie. Maar dis ‘n gewoonte wat jy nog nooit regtig kon aanleer nie.

En dalk is die rede waarom jy dit nog nooit kon doen nie, omdat jy nog nooit ‘n plan vir jou stiltetyd gehad het nie.

So, kom ons gesels oor die vyf stappe wat jy kan neem om jou stiltetyd te beplan en hierdie jaar uiteindelik die gewoonte aan te leer om tyd met God te spandeer.

'n plan vir jou stiltetyd

Kies ‘n spesifieke plek waar jy elke dag tyd met God gaan spandeer. Maak seker dis iewers waar jy nie maklik gepla gaan word nie. Maak ook seker dis ‘n plek waar jy gemaklik voel. En dis natuurlik belangrik dat dit ‘n plek moet wees waar dit stil is.

Enige plek kan werk. Jy kan stiltetyd hê by die kombuistafel, in jou gunsteling stoel in die sitkamer, op die bed in jou gastekamer, op die mooiste plek in jou tuin.

Dit maak nie regtig saak presies waar jy stiltetyd hou nie. Dit gaan meer oor die feit dat jy naderhand begin om daardie plek te assosieer met jou tyd saam met God.

Die volgende belangrike ding waaraan jy moet dink, is die tyd wanneer jy stiltetyd wil hou.

Dit moet ‘n tyd wees wanneer jy ordentlik wakker is en nog lus is om iets te doen. Moenie die laaste paar minute van jou dag, wanneer jy te moeg is om te konsentreer, kies nie.

Jy kan kies om in die oggend, voor jy werk toe gaan, stiltetyd te hou. Of jy kan dit doen in jou etensuur by die werk. Jy kan dit natuurlik ook in die aand doen, wanneer die res van die gesin al in die bed is.

Soos ek gesê het, maak net seker dis ‘n tyd wanneer jy kan konsentreer. As jy ‘n oggendmens is, is vroegoggend ideaal. As jy meer energie in die aand het, kies dan ‘n tyd net voor jy gaan slaap.

Jou stiltetyd hoef ook nie ‘n uur lank te wees nie. As jy nog nooit voorheen gereeld tyd met God gespandeer het nie, begin dan met 10 of 15 minute. Die idee is dat jy leer om dit op ‘n gereelde basis te doen. Wees dus versigtig om aan die begin die tyd so lank te maak, dat jy dit net ‘n paar dae gaan volhou.

Volgende gaan jy dink aan die struktuur van jou stiltetyd.

Dis ‘n goeie idee om jouself te vra wat jy nou eintlik uit jou tyd met God wil kry.

Jy kan besluit om die grootste deel van jou tyd in die Bybel te spandeer, as jou doel is om God beter te leer ken.

Dalk is jou doel om ‘n intieme verhouding met God te bou deur tyd in gebed. Spandeer dan die meeste van jou tyd in gebed.

Of dalk is jou doel om die Bybel beter te leer ken. Jy kan dan kies om, as deel van jou stiltetyd, ‘n Bybelstudie te doen.

Onthou dat jy nie dieselfde struktuur vir die res van jou lewe hoef te behou nie. Jy kan elke paar maande die struktuur verander. Wat belangrik is, is om te weet wat jy uit jou stiltetyd wil kry en om daarvolgens te beplan.

Noudat jy weet wat jy uit jou tyd met God wil kry, is dit tyd om te beplan wat jy in daardie tyd gaan doen.

Daar is sommer baie dinge wat ‘n mens in jou stiltetyd kan doen.

Jy kan die Bybel lees, daarna luister, of dit studeer.

Jy kan nadink oor wat jy gelees het en neerskryf wat God jou leer.

Dan kan jy ook na geestelike musiek of na ‘n preek luister.

Of jy kan ‘n stukkie uit ‘n geestelike boek lees.

En natuurlik kan jy tyd in gebed spandeer.

As jy nog nooit regtig stiltetyd gehou het nie, kies dan vir eers net twee aktiwiteite. Hoe meer dinge jy wil doen, hoe meer tyd gaan jy nodig hê. En as ‘n mens te veel het wat jy in ‘n kort tydjie wil inpas, kan jy oorweldig raak en moed opgee.

Kies dus die twee dinge wat die beste pas by jou doel vir jou stiltetyd.

Die moeilikste ding omtrent ‘n gereelde stiltetyd, is om te begin om dit gereeld te doen!

Neem dus die besluit dat jy vir ten minste 30 dae elke dag tyd met God gaan spandeer.

Doen dit selfs al is jy nie lus daarvoor nie.

En as iets gebeur en jy kan nie op presies die tyd wat jy gekies het, stiltetyd hou nie, doen dit dan op ‘n ander tyd daardie dag.

Onthou, ‘n mens kom in die gewoonte om iets te doen deur dit elke dag te doen. So moenie toelaat dat die duiwel allerhande dinge gebruik om jou sover te kry om jou stiltetyd op te gee nie.

Hier by Nader In Eenvoud gesels ons gereeld oor stiltetyd. As jy nog hulp nodig het met ‘n plan vir jou stiltetyd, loer dan gerus na hierdie artikels:

BYBELLEESPLANNE VIR JOU STILTETYD

GEBEDSJOERNAAL: GEFOKUSDE TYD MET GOD

HOE OM JOU GEBEDSLEWE TE VERBETER

TYD SAAM MET GOD – UNIEKE MANIERE

STILTETYD – ‘N GIDS VIR BEGINNERS

HOE OM MEER TYD MET GOD TE SPANDEER

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *