DIE VYF LIEFDESTALE EN JOU VERHOUDINGS

In hierdie artikel kyk ons na die vyf liefdestale en hoe jy dit in jou verhoudings kan gebruik om vir jou geliefdes te wys jy is lief vir hulle.

Februarie word deur baie mense gesien as die maand van liefde. Die 14de Februarie is Valentynsdag – ‘n dag waarop mense moeite doen om vir ‘n geliefde te wys, “Ek is lief vir jou!”

Maar het jy geweet dat jy vir iemand kan probeer wys jy is lief vir hom of haar, en dat daardie boodskap totaal by die persoon kan verbygaan?

Hoekom?

Want nie almal van ons praat dieselfde liefdestaal nie.

As jy al een van Gary Chapman se boeke oor die verskillende liefdestale gelees het, sal jy weet dat daar 5 primêre liefdestale is. Om iemand te laat verstaan jy is lief vir hom, moet jy sy primêre liefdestaal praat. Anders gaan hy nooit voel dat jy hom liefhet nie.

Die vyf liefdestale  - hande wat hart vorm

DIE VYF LIEFDESTALE.

Dalk het jy nog nooit van die liefdestale gehoor nie, en wonder nou waarvan ek praat.

Net ingeval jy nie weet nie, en om jou geheue te verfris as jy wél weet, hier is die vyf liefdestale:

Opbouende woorde

Kwalitiet tyd

Die gee van geskenke

Dade van diensbaarheid

Fisiese aanraking

Noudat jy weet wat die liefdestale is, kom ons kyk in bietjie meer diepte na elkeen en ook hoe jy dit in jou verhoudings kan ‘praat’.

OPBOUENDE WOORDE.

Iemand wie se primêre liefdestaal opbouende woorde is, voel geliefd wanneer hy gekomplimeteer word of wanneer hy goedkeuring ontvang.

Wanneer jy iemand wil opbou met woorde, kan jy fokus op sy gedrag, persoonlikheid of op sy voorkoms. Jy kan die woorde vir hom sê of dit in ‘n boodskap neerskryf. As jy musikaal is, kan jy selfs vir hom ‘n liedjie skryf en vir hom sing!

Daar is duisende maniere om woorde te gebruik om iemand op te bou. Eenvoudige komplimente is een so ‘n manier. En om dankie te sê vir iets wat die persoon gedoen het, is ‘n ander manier.

Dink aan dinge soos:

Jou hare lyk pragtig.

Die werk wat jy met die projek gedoen het, was uitstekend.

Dankie dat jy die skottelgoed gewas het.

Ek waardeer dit dat jy die snippermandjie leeggemaak het.

Ek is trots op jou omdat jy …. (iets wat die persoon gedoen het).

Dankie vir al jou harde werk elke dag.

Is daar iemand in jou lewe wat floreer op opbouende woorde? Dink dan elke dag aan iets wat jy vir hom kan sê om hom met jou woorde op te bou.

KWALITEIT TYD.

Om kwaliteit tyd met iemand te spandeer beteken dat jy jou onverdeelde aandag aan daardie persoon gee. Dis deesdae maar moeilik vir mense om hulle onverdeelde aandag aan iets of iemand te gee, want daar is soveel dinge wat ons aandag aftrek.

Maar as jy iemand in jou lewe het wie se primêre liefdestaal kwaliteit tyd is, onthou dan dat sy geliefd voel wanneer jy tyd met haar spandeer en jou aandag aan haar gee.

Net soos met opbouende woorde, is daar sommer ‘n hele klomp maniere waarom jy kwaliteit tyd met iemand kan spandeer.

Jy kan met jou kind speel en regtig luister na alles wat hy vertel oor sy dag by die skool.

Jy kan, in plaas daarvan om in die aand televisie te kyk, jou man uitvra oor sy dag by die werk. Of julle kan sommer net sit en gesels oor dinge wat vir julle belangrik is.

Of wat van ‘n laatmiddagstappie, terwyl julle mekaar vertel van alles wat deur die dag gebeur het.

Jy kan jou vriendin nooi vir koek en koffie by die koffiewinkel en gesels oor alles wat in haar lewe aan die gang is.

Of jy kan saam met jou tienerseun gaan visvang en gesels oor hoe sy lewe verskil van joune toe jy sy ouderdom was.

Wat jy saam met die ander persoon doen is nie regtig die belangrike deel nie. Dis die aandag en die tyd wat saam spandeer word wat belangrik is.

Om kwaliteit tyd saam met iemand te spandeer, beteken dat jy iets van jouself vir daardie persoon gee.

DIE GEE VAN GESKENKE.

Die gee van geskenke is wêreldwyd ‘n manier om vir iemand te sê, “Ek dink aan jou.” En mense waardeer gewoonlik ‘n geskenk.

Maar vir diegene wie se primêre liefdestaal die gee van geskenke is, beteken dit soveel meer. Hulle hoor nie net, “Ek dink aan jou” nie, maar voel geliefd wanneer hulle ‘n geskenk ontvang.

‘n Geskenk hoef nie duur te wees nie. Dit kan iets so eenvoudig soos ‘n notaboekie en ‘n pen wees.

My een vriendin het nou die dag vir my ‘n bottel slaaisous gegee wat sy tydens haar vakansie gekoop het. Die slaaisous is nie in die kettingwinkels beskikbaar nie, so dit was vir my iets besonders.

‘n Ander vriendin gaan elke nou en dan Kaap toe vir werk. Daar is ‘n plekkie waar sy sjokolade koop, wat ook nie in kettingwinkels verkoop word nie. En elke keer wat sy Kaap toe gaan, kry ek ‘n plak sjokolade.

Dit gaan weereens nie oor die waarde van die geskenk nie, maar oor die feit dat die ontvanger weet jy het aan hom gedink toe jy dit gekoop het. As die gee van geskenke sy primêre liefdestaal is, sal hy geliefd voel wanneer jy dit geskenk gee.

DADE VAN DIENSBAARHEID.

Daar is ‘n Engelse uitdrukking wat só lui: “Actions speak louder than words”. Hierdie uitdrukking is baie waar, veral wanneer dade van diensbaarheid jou primêre liefdestaal is.

Jy sien, iemand wat hierdie liefdestaal ‘praat’ voel geliefd wanneer ander haar help met take of wanneer ander iets vir haar doen om haar te dien.

Net soos in die geval van die ander tale waaroor ons reeds gepraat het, is daar baie maniere waarop ‘n mens hierdie taal kan ‘praat’ om iemand geliefd te laat voel.

Jy kan die huis help skoonmaak, die skottelgoed was of vanaand die kos maak. Of jy kan die kinders rondry na hulle verskillende aktiwiteite, die hond bad, die gras sny of die kamer, wat sy al lankal geverf wil hê, verf. Jy kan jou kind se fietsketting, wat afgeval het, weer opsit of haar pop se rok, wat geskeur het, heelmaak.

Daar is letterlik ‘n oneindige lang lys van dinge wat jy kan doen om iemand te help en te dien, en haar so geliefd laat voel.

Onthou, vir die persoon wie se liefdestaal dade van diensbaarheid is, gaan woorde maar ‘leeg’ wees as daar nie dade by die woorde gevoeg word nie.

FISIESE AANRAKING.

Fisiese aanraking is ‘n taal wat alle ma’s met hulle babas ‘praat’. Dis vreemd wanneer ‘n ma nooit haar baba optel of druk en soen nie. Dis iets wat alle mense amper instinktief doen wanneer hulle met babas of klein kindertjies te doen het.

Maar al is fisiese aanraking iets wat in sommige gevalle amper instinktief is, beteken dit nie alle mense se primêre liefdestaal is fisiese aanraking is. ‘n Mens moet dus mooi oplet en seker maak jou geliefde se taal is wel fisiese aanraking.

En weereens is daar baie maniere waarop ‘n mens hierdie taal kan ‘praat’. Jy kan, as dit gepas is, ‘n druk of ‘n soen gee. ‘n Hand op die been of arm, die skouer of die rug is ook ‘n manier om iemand aan te raak. Jy kan ‘n kind oor haar kop streel of haar hand vashou. Of jy kan jou seun ‘n klop op die skouer of ‘n ‘high five’ gee na sy rugby-oefening.

ONS PRAAT ELKE DAG ONS PRIMêRE LIEFDESTAAL.

Jy weet nou wat die vyf liefdestale is en ook hoe jy elkeen kan ‘praat’.

Maar hoe weet jy wat ‘n ander persoon se liefdestaal is?

Dis eintlik baie maklik.

Elkeen van ons is elke dag besig om ons primêre liefdestaal te praat.

Iemand wie se taal opbouende woorde is, sal heeltyd ander opbou met woorde.

Iemand wie se taal dade van diensbaarheid is, sal altyd kyk hoe hulle ‘n ander kan help en dien.

En iemand wie se taal fisiese aanraking is, sal heeltyd aan ander vat en dinge doen soos drukkies uitdeel.

Jy hoef dus net te kyk na wat iemand doen en jy sal weet wat sy liefdestaal is.

En wanneer jy weet wat sy taal is, kan jy dit begin ‘praat’.

DIE BELANGRIKHEID VAN DIE REGTE LIEFDESTAAL.

Ons moet onthou dat dit belangrik is om die regte liefdestaal teenoor ander te ‘praat’. Want as jy die verkeerde liefdestaal praat, gaan jou geliefde nie geliefd voel nie.

‘n Man wie se taal opbouende woorde is, se vrou gaan nie geliefd voel as haar taal dade van diensbaarheid is nie.

En ‘n vrou wie se taal die gee van geskenke is, se man gaan nie geliefd voel as sy taal fisiese aanraking is nie.

Ons moet dus leer wat ons geliefdes se liefdestale is en dit dan teenoor hulle ‘praat’. Op dié manier gaan hulle altyd weet ons is lief vir hulle en gaan ons verhoudings verseker verbeter!

Weet jy wat jou liefdestaal is? En weet jy wat jou man of vrou, jou kinders, jou vriende, jou familie, ensovoorts se liefdestale is?

Hoe kan jy elke dag jou geliefdes se liefdestale ‘praat’?

Dink vandag so ‘n bietjie daaroor.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *