OM SONDE TE OORWIN

Oorwin sonde met die hulp van die Heilige Gees. Dit is Hy wat jou gewillige en bekwaam maak om God se wil te doen.

Galasiërs 5:16-17: “Maar ek sê: Leef deur die Gees, dan sal julle beslis nie die begeertes van die vlees uitvoer nie. Want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees begeer teen die vlees; die twee opponeer mekaar, sodat julle dit wat julle ook al wil, nie kan doen nie.”

Die storie word vertel van ‘n man wat sy predikant gaan sien het. Hy was baie bekommerd oor die konflik wat hy in sy hart rondgedra het.

Die man was lief vir God en wou graag gehoorsaam wees aan Hom. Maar elke nou en dan het hy agterkom dat hy aan God ongehoorsaam was. Hy het agtergekom dat hy steeds sonde doen, selfs al was hy nou ‘n Christen.

Dit het hom baie gepla.

Hy het die konflik binne hom beskryf as ‘n geveg tussen twee honde. “Dit is asof ek ‘n swart hond en ‘n wit hond binne my het. En dié twee is die hele tyd aan die baklei met mekaar.” Die swart hond, het hy verduidelik, verteenwoordig slegte dinge en ongehoorsaamheid aan God. Die wit hond verteenwoordig gehoorsaamheid aan God en goeie dinge.

Nadat hy sy storie vertel het, het die predikant gevra: “Watter hond is die een wat wen?”

Die man het ‘n rukkie gedink en toe gesê: “Die een wat wen is die een wat ek kos gee.”

oorwin sonde met die hulp van die Heilige Gees

DIE GEES OF DIE VLEES.

‘n Mens is besig om een van twee dinge te doen. Jy is óf besig om jou gees te voed óf jy is besig om jou vlees te voed. Dis die een of die ander.

God het ons geskape met ‘n vrye wil. Ons kan besluit wat ons doen, wanneer ons dit doen en hoe ons dit doen.

Dit beteken ons kan, as gelowiges, besluit of ons gehoorsaam gaan wees aan die leiding van die Heilige Gees. Maar ons kan ook besluit dat ons eerder gehoorsaam gaan wees aan die luste van die vlees.

OM ANDERS TE DINK.

God verwag van ons as Sy kinders om elke keer te kies om gehoorsaam te wees aan die leiding van die Gees. Hy vra dat ons berou het oor ons sonde en ons daarvan bekeer.

Die Griekse woord vir bekering is die woord metanoia. Dit beteken letterlik om anders te begin dink. As jy anders begin dink, gaan jy anders begin optree.

Dis dan ook geen wonder dat Paulus die volgende in Romeine 12:2 skryf nie: “Julle moet nie aan hierdie wêreld gelykvormig wees nie, maar verander word deur die vernuwing van julle denke, sodat julle goed kan onderskei wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is”.

DIE HULP VAN DIE HEILIGE GEES.

Gelukkig hoef ‘n mens dit nie in eie krag te doen nie. Die Here het die Heilige Gees nie net gegee om ons te lei nie, maar ook om ons te help en te versterk.

Filippense 2:12-13 sê: “My geliefdes, julle was altyd gehoorsaam wanneer ek by julle was. Des te meer moet julle gehoorsaam wees nou dat ek nie daar is nie. Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om Sy wil uit te voer” (1983-vertaling).

Wanneer jy kies om ‘ja’ te sê vir die leiding van die Gees, dan help Hy jou om te doen wat Hy sê. As jy dit op ‘n gereelde basis doen, is jy besig om deur die Gees te leef.

SONDE WAARMEE JY SUKKEL.

Dis is nou maar so dat ‘n mens makliker van sommige sondes ontslae raak as van ander.

Hier is ‘n paar praktiese wenke om jou te help met daardie sondes wat moeilik is om op te gee.

IDENTIFISEER DIE SONDE.

‘n Mens kan nie van ‘n sonde in jou lewe ontslae raak as jy nie eens weet dis daar nie!

Maar wat is sonde nou eintlik?

Volgens die Bybel is sonde om God se Wet te oortree. In 1 Johannes 3:4 lees ons: “Elkeen wat sonde doen, oortree die wet van God. Sonde is immers oortreding van die wet van God” (1983-vertaling).

Sonde is ook om nie die regte ding te doen nie. Jakobus skryf só daaroor in sy brief: “As iemand weet wat die regte ding is om te doen en hy doen dit nie, is dit sonde” (Jakobus 4:17, 1983-vertaling).

Dan is sonde ook enige iets wat ‘n mens nie uit geloof doen nie. In Romeine 14:23b staan: “Alles wat jy nie uit geloofsoortuiging doen nie, is sonde“.

As jy dus een van hierdie dinge in jou lewe sien – ongehoorsaamheid aan die Wet, om te weet wat die regte ding is om te doen en dit nie te doen nie, en dinge wat jy nie uit geloofsoortuiging doen nie – dan weet jy dis ‘n sonde in jou lewe. En jy weet dat ook dis iets wat jy met God se hulp moet oorwin.

VERMY DINGE WAT AANLEIDING GEE TOT SONDE.

Een van die beste maniere om sonde te oorwin is om weg te bly van dié dinge wat veroorsaak dat jy sonde doen.

As jy byvoorbeeld weet jy is geneig om te skinder wanneer jy saam met jou vriende kuier, hou op om saam met hulle te kuier.

In 1 Korinthiërs 10:12 waarsku Paulus ons: “Daarom moet hy wat dink hy staan, oppas dat hy nie val nie!” Dit maak nie saak hoe sterk ‘n mens dink jy is nie, enige iemand kan val wanneer jy gereeld aan versoeking blootgestel word.

Daarom moet ons kies om liewer weg te vlug van versoeking (2 Timotheus 2:22; 1 Thessalonisense 5:22).

ONTHOU DIE NEGATIEWE GEVOLGE VAN SONDE.

Sonde het nie altyd onmiddellike gevolge nie en daarom dink ons soms dat daar geen gevolge is wanneer ons sondig nie.

Maar al het ‘n sonde nie ‘n onmiddellike gevolg nie, het dit altyd ‘n gevolg. En dis altyd negatief.

Dis nooit die moeite werd om sonde te doen nie. Daarom is dit altyd beter om in die oomblik ‘nee’ te sê vir die plesier wat sonde beloof.

ONTHOU WAT JESUS BELOWE VIR DIE WAT OORWIN.

In Openbaringe lees ons ‘n hele paar keer van dinge wat Jesus belowe aan dié wat oorwin.

Ons lees byvoorbeeld in Openbaring 2:7b: “Aan wie oorwin, sal Ek te ete gee van die boom van die lewe wat in God se paradys staan.”

En in 3:21 staan daar: “Wie oorwin, sal Ek saam met My op my troon laat sit, net soos wat Ek ook oorwin het, en saam met my Vader op sy troon sit.”

As ‘n mens in gedagte hou wat jy gaan kry wanneer jy oorwin, sal dit jou aanmoedig om elke dag saam met die Heilige Gees te werk om die sonde in jou lewe te oorwin.

WEES GEWILLIG OM SONDE TE OORWIN.

Daar word gesê dat iemand wat aan drank of dwelms verslaaf is, eers gehelp kan word om los te kom van die verslawing wanneer hy graag gehelp wil word.

Dieselfde is waar van die oorwinning van sonde.

Solank jy nie ‘n sonde in jou lewe wil oorwin nie, sal dit nie gebeur nie.

Daarom moet ‘n mens gewillig wees om ontslae te raak van enige sonde wat die Heilige Gees uitwys.

Gelukkig kan ons weereens op God vertrou om ons gewillig te maak om Sy wil te doen, sodat ons van sonde in ons lewens ontslae kan raak (Filippense 2:12-13).

VRA HULP.

Soms is dit nodig om hulp te vra om van sekere sondes ontslae te raak.

Vra hulp by jou predikant of by een van die leiers in jou kerk. Vra hulp by ‘n gelowige wat al lank ‘n pad met die Here stap en wat sigbaar ‘n heilige lewe lei. Jy kan selfs hulp vra by jou man of vrou, of ‘n familielid of vriend.

Enige iemand wat jou goed ken en wat ‘n persoonlike verhouding met die Here het, sal jou raad kan gee en jou help.

VRA GOD SE HULP.

Die belangrikste Persoon by wie jy hulp kan vra, is God.

Onthou dat God die Heilige Gees vir jou gegee het om jou, onder andere, te versterk en te help.

Hy is besig om kragtig in jou te werk en, as jy Hom vra en vertrou, sal Hy jou help wanneer jy kies om ‘nee’ te sê vir sonde. Hy sal versterk en jou in staat stel om jou besluit uit te voer sodat jy aan Hom gehoorsaam kan wees.

MOENIE MOED OPGEE NIE.

Soos ek reeds gesê het, raak ‘n mens nie ewe maklik van alle sondes ontslae nie.

Sommige sondes is nie so diep in jou vasgewortel nie en met die hulp van die Gees oorwin jy dit redelik vinnig.

Ander is dieper in jou vasgewortel en dit is moeiliker om te oorwin.

Maar die belangrike is om nooit moed op te gee nie.

Moet nooit toelaat dat sonde weer ‘n oorhand in jou lewe kry nie. Hou aan om saam met die Heilige Gees te werk om elke sonde in jou lewe te oorwin.

(Alle verse is uit die 2020-vertaling aangehaal, behalwe waar anders aangedui.)

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *