STILTETYD: ‘N GIDS VIR BEGINNERS

Stiltetyd beteken eenvoudig om tyd met God te spandeer. Hier is ‘n paar idees hoe om dit te doen as jy nog ‘n beginner is.

Het jy al mense hoor sê dat Christenskap nie ‘n godsdiens is nie, maar ‘n verhouding?

Dit beteken ons word nie regverdig verklaar voor God omdat ons die regte dinge doen nie. Nee, ons word regverdig verklaar omdat ons in Jesus glo. Deur Hom kan ons in ‘n verhouding met God staan.

Wanneer mens in ‘n verhouding met iemand is, spandeer jy graag tyd saam met daardie persoon.

Dis dan ook waarom ons stiltetyd hou. Dis ‘n tyd waar ons die wêreld en alles daarin eenkant toe skuif, sodat ons net op Jesus kan fokus. Ons gebruik dinge soos Bybellees of Bybelstudie en gebed om tyd met Hom te spandeer.

Om gereeld stiltetyd te hou sodat jy dit van jou ‘doen-lysie’ kan afmerk is egter nie die punt nie. Die punt is om stiltetyd te gebruik om ‘n nouer verbintenis met Jesus te vorm.

In Johannes 15 leer ons dat Jesus die Wingerstok is. Ons is die lote wat in Hom moet bly sodat ons kan vrug dra, want sonder Hom kan ons dit nie doen nie.

Deur ons verbintenis met Jesus, deur in Hom te bly, word ons verander en begin ons om vrug te dra.

Stiltetyd: 'n gids vir beginners

DIE VOORDELE VAN STILTETYD.

Ons het nou gesien dat ‘n daaglikse stiltetyd ons help om ‘n nouer verbintenis met Jesus te vorm.

Maar dis nie al voordeel wat ons kry uit ‘n daaglikse stiltetyd nie. Hier is nog ‘n paar.

DIT LEER JOU SELFDISSIPLINE.

As jy vroegoggend gym toe gaan, sal jy weet dis nie altyd maklik om uit die bed te klim en te gaan oefen nie. Soms wil ‘n mens liewer onder die warm komberse bly en nog ‘n bietjie slaap. Maar as jy gedissiplineerd is, staan jy op en gaan gym, selfs al voel jy nie lus nie.

Dieselfde is waar van ‘n daaglikse stiltetyd.

Maak tyd met God jou grootste prioriteit vir die dag. Moenie toelaat dat al die dinge wat jou aandag kan aftrek en jou tyd kan steel, dit doen nie. Kom jou ‘afspraak’ met God na, maak nie saak wat die dag jou kant toe gooi nie.

Deur dít te doen oefen jy jouself om selfdissipline toe te pas.

En selfdissipline is iets wat jy oral in jou lewe kan gebruik.

‘N RITME VIR JOU LEWE.

Toe God die heelal geskep het, het Hy sekere patrone en ritmes daar gestel.

Elke keer wat die son om die aarde gaan, is ‘n jaar verby. ‘n Jaar bestaan weer uit seisoene. En dan is daar dae, wat bestaan uit tyd wanneer die son skyn en tyd wanneer dit donker is.

God het ook vir die Israeliete ‘n sekere patroon gegee waarvolgens hulle moes leef. Ses dae moes hulle werk, maar die sewende dag moes hulle rus en Hom aanbid. Hulle het ook verskeie feeste en ander heilige dae gehad.

‘n Daaglikse stiltetyd help ons om ritme of patroon ons lewens te hê. Ons gaan nie nou net op Sondag kerk toe om saam met ander gelowiges vir God te aanbid nie. Nee, ons werk elke dag aan ons persoonlike verhouding met Jesus deur tyd met Hom te spandeer.

BEWUS VAN GOD SE TEENWOORDIGHEID.

Daaglikse tyd met God help ons ook om meer bewus te wees van Sy Teenwoordigheid in ons lewens.

Dis maklik om deur die dag so besig te raak, dat ons eintlik so ‘n bietjie van God vergeet. Ons vergeet dat Hy altyd by ons is, maak nie saak waar ons is en wat ons doen nie.

Maar dit raak makliker om gedurige te onthou dat God by jou is wanneer jy elke dag tyd met Hom in jou stiltetyd spandeer.

‘N STILTETYD-ROETINE.

As jy nog nie ‘n daaglikse stiltetyd-roetine het nie, moenie kommer nie. Dis sommer baie maklik om met een te begin.

DIE BESTE TYD VAN DIE DAG.

Wanneer jy wil begin om stiltetyd te hou, is dit belangrik om ‘n tyd van die dag te kies wat vir jou gaan werk.

Ek hou vroegoggend, voor my man opstaan, my stiltetyd. Dis vir my die beste tyd. Alles is stil en rustig en ek weet niemand gaan my pla nie. As ek dit later in die dag probeer doen, val daar altyd iets voor wat veroorsaak dat ek nie daarby uitkom nie. Daarom is vroegoggend my beste tyd.

Maar dis dalk nie jóú beste tyd nie. Jy verkies dalk om dit in die aand te doen. Of dalk is jou etensuur by die werk die beste tyd.

Dit maak nie saak watter tyd van die dag jy kies nie, sorg net dat dit ‘n tyd is waar jy nie gepla gaan word nie en waar jy in stilte tyd met God kan spandeer.

Skryf jou tyd met God in jou dagboek neer en hanteer dit soos enige ander afspraak en kom dit na!

DIE BESTE PLEK.

Nie elke plek in ‘n mens se huis is ‘n goeie plek om stiltetyd te hou nie.

Jou bed is byvoorbeeld nie so ‘n goeie idee nie. Dis te maklik om toe te gee aan versoeking en weer onder die kombers in te kruip en verder te slaap.

Voor jou rekenaar is dalk ook nie so ‘n goeie idee nie. Jou aandag kan te maklik afgetrek word deur dinge wat jy aan dink om te doen terwyl jy voor die rekenaar sit.

Kies dus ‘n plek waar jy rustig kan wees, waar niks en niemand jou aandag kan aftrek nie.

HOEVEEL TYD EN WATTER DISSIPLINES.

Volgende moet jy besluit hoeveel tyd jy vir jou stiltetyd gaan gebruik.

Jy hoef nie ‘n uur lank stiltetyd te hou om regtig met God tyd te spandeer nie. As jy nie soveel tyd het nie, is dit ook goed so.

Maar dis belangrik om te weet naastenby hoeveel tyd jy met God gaan spandeer.

Dan is dit ook goed om ‘n idee te hê van wat jy gedurende jou stiltetyd gaan doen. En onthou, as jy ‘n dissipline of twee gekies het om mee te begin, beteken dit nie jy moet altyd net daardie dissiplines doen nie. Jy kan enige tyd die struktuur van jou stiltetyd verander om dit nuut en vars te hou.

WAT OM TYDENS JOU STILTETYD TE DOEN.

Daar is sommer heelwat dinge wat jy gedurende jou stiltetyd kan doen.

Hier is ‘n paar idees.

LEES JOU BYBEL.

Dis natuurlik logies dat jy iewers in jou stiltetyd darem jou Bybel moet lees.

Jy kan die hele Bybel deurlees deur eenvoudig voor te begin en elke dag ‘n hoofstuk te lees tot jy deur die Bybel is.

Of jy kan ‘n Bybelleesplan gebruik en oor ‘n spesifieke onderwerp lees. Hier by Nader In Eenvoud is daar sommer ‘n hele klomp planne waaruit jy kan kies.

Terwyl jy lees, dink oor hierdie vrae:

Is daar iets waarvoor ek God kan loof en prys of voor kan dankie sê, wat ek in die teks gelees het?
Is daar ‘n voorbeeld in die teks wat ek moet volg (of dalk nié volg nie!) of ‘n opdrag wat ek moet gehoorsaam?
Het die teks my oortuig van ‘n sonde in my lewe wat ek voor God moet bely?
Is daar ‘n belofte in die teks wat ek moet glo en myne maak?

DINK NA OOR DIE TEKS.

Die vrae wat ek hierbo gegee het, gaan jou help om meer uit die teks te kry as wat jy sou kry as jy net gelees het.

As jy egter nóg meer uit die teks wil kry, kan jy ‘n bietjie tyd opsy sit sodat jy daaroor kan nadink.

Wanneer jy oor die teks nadink, fokus jy op die Woord en bekyk dit van alle kante. Vra die Heilige Gees om jou te help om dinge in die teks raak te sien, wat jy dalk andersins sou gemis het.

Dis ‘n goeie idee om ‘n notaboek of joernaal byderhand te hou, sodat jy kan neerskryf wat jy leer. Dan kan jy agterna – self jare later – weer lees wat God jou daardie dag geleer het.

BID.

Net soos dit logies is dat jy jou Bybel lees, is dit ook logies dat jy gaan bid gedurende jou stiltetyd.

Party mense sê hulle sukkel met gebed, maar hoe meer jy dit doen, hoe makliker gaan dit word.

Onthou, gebed is eenvoudig om met God te praat.

Jy kan enige iets vir Hom vertel, so moenie bang wees om jou hart met Hom te deel nie.

Begin deur God te loof en prys vir wie Hy is. Sê vir Hom dankie vir al die dinge wat Hy vir jou doen en vir jou gee.

As die Heilige Gees jou oortuig dat daar iets is wat jy moet bely, maak dan so tydens gebed. Aanvaar ook God se vergifnis vir jou sonde.

Nadat jy hierdie dinge gedoen het, is dit tyd om God te vra vir dit wat jy, en andere, nodig het.

Sien jy hoe ons eers op God fokus voor ons by ons behoeftes uitkom?

LEES UIT ‘N DAGSTUKKIE-BOEK.

Jy kan ook besluit om ‘n dagstukkie-boek aan te skaf wat jy saam met jou Bybel lees.

Hierdie tipe boeke fokus gewoonlik op een of twee verse. Dis ‘n goeie idee om die hoofstuk waaruit die verse kom in jou Bybel te lees. Dan het jy ‘n idee van die konteks van die verse.

As jy nie ‘n dagstukkie-boek wil aanskaf nie, kan jy altyd die ‘YouVersion app’ op jou foon aflaai en dit gebruik. Elke dag is daar ‘n vers vir die dag, ‘n video oor die vers, ‘n dagstukkie om te lees, vraag om te antwoord en ‘n gebed om te bid. Dis ‘n oulike ‘app’ om te gebruik om jou te help om met ‘n daaglikse stiltetyd te begin.

TYD MET GOD.

Hierdie is maar net ‘n paar idees van dinge wat jy gedurende jou stiltetyd kan doen.

Onthou, jy hou nie ‘n daaglikse stiltetyd net sodat jy dit van jou ‘doen-lysie’ kan afmerk nie. Jy doen dit om ‘n nouer verbintenis met God te vorm en aan jou verhouding met Hom te werk.

Deur tyd opsy te sit om net op God te fokus, werk jy ook saam met Hom om jou te verander, sodat jy meer soos Jesus word.

En om meer soos Jesus te word, moet elkeen van ons se doel in die lewe wees!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *