Daar is verskeie dinge wat ons kan doen om God te eer. In hierdie artikel kyk ons na vier van die dinge wat jy kan doen sodat jy vir God eer.
Ons lees oral in die Bybel dat ons God moet eer. Dink maar aan Romeine 12:1, waar daar staan: “Broers, op grond van die barmhartigheid van God roep ek julle dus nou op om julle liggame beskikbaar te stel as ‘n offer wat lewend en heilig is, en vir God aanneemlik. Dit is julle sinvolle godsdiens.”
Dit beteken eenvoudig dat ons veronderstel is om lewens te leef wat God eer.
Maar hoe doen ons dit?
Hier is vier maniere waarop ons God kan eer.

EER GOD – EER SY WOORD.
In 1 Timotheus 1:17 lees ons: “Aan Hom wat vir ewig Koning is, die onverganklike, onsienlike, enigste God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.”
Volgens die HAT is die definisie van eer: “Agting, aansien wat ‘n persoon geniet. Hoë waarde aan iets heg.”
God word vereer wanneer jy Sy Woord eer en dit beskou as jou daaglikse brood. Dawid het selfs ‘n hele Psalm geskryf oor eer en respek vir God se Woord. Gaan lees bietjie Psalm 119. Dit is ‘n hele 176 versies lank, maar sal jou ‘n idee gee van hoe jy God se Woord moet hanteer.
Die ander kant is natuurlik ook waar. Wanneer jy redes soek waarom sekere dinge in die Woord nie op jou van toepassing is nie, eer jy nie vir God nie.
Hoe jy teenoor die Woord optree en hoe jy daaroor voel, weerspieël ook hoe jy in jou hart teenoor God voel. As jy nie ‘n honger daarna nie, het jy ook nie ‘n honger na God nie. As jy egter ‘n honger het daarna, nie genoeg daarvan kan kry nie en alles gehoorsaam wat daarin staan, wys dit wat jou verhouding met God is en hoe jy oor Hom voel.
Moet jy ‘n belangrike besluit nie? Gaan na die Woord.
Het jy krag nodig? Gaan kry dit in die Woord.
Kort jy wysheid? Gaan soek dit in die Woord.
Eer God deur Sy Woord ‘n belangrike plek in jou lewe te gee.
EER GOD – LOFPRYSING EN AANBIDDING.
In Mattheus 15:8 staan: “Hierdie volk eer My met hulle mond, maar hulle hart is ver van My af.”
God word vereer deur lofprysing en aanbidding.
In Openbaring 4:8-11 word daar vir ons ‘n beeld gegee van hoe dit in die hemel is. Daar is vier lewende wesens wat dag en nag, sonder om te rus, God eer deur te sê: “Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, Hy wat was en wat is en wat kom” (vs. 8). Dan is daar ook vier-en-twintig ouderlinge wat, elke keer wanneer die wesens God eer, kniel en Hom aanbid. Dit doen hulle sonder ophou.
Hoeveel van ons kan sê dat ons dag en nag, sonder ophou, besig is om God te eer? Ons eer Hom nie altyd met ons woorde nie. Ons eer Hom nie met ons dade nie. Om die waarheid te sê, ons eer Hom nie eens altyd in die kerk nie, want baie mense gaan deur die aksies sonder om hulle harte daarin te hê. Wanneer jy byvoorbeeld tot eer van die Here sing, moet jy dit dus met jou hele hart bedoel. Anders is dit net geestelike musiek en dien dit geen ander doel as om jou stem te oefen nie.
Jesus het op ‘n stadium vir die Fariseërs en skrifgeleerdes gesê dat hulle Hom eer met hulle monde, maar nie met hulle harte nie. Ondersoek jou hart en maak seker dat Hy nie dieselfde van jou kan sê nie.
Eer God met jou hele hart deur lofprysing en aanbidding.
EER GOD – JOU EERSTE EN JOU BESTE.
In Spreuke 3:9-10 lees ons hierdie wysheid: “Vereer die Here met offerandes uit al wat jy besit en met die beste uit jou oes, dan sal jou skure oorvol wees en jou parskuipe oorloop van die wyn.”
God word vereer wanneer jy Hom jou eerste en jou beste gee.
In Genesis 4 word die storie van Kain en Abel vertel. Abel het vir God ‘n offer gebring uit die eerstelinge van sy kudde. Kain het na verloop van tyd ‘n offer van die opbrengs van die land gebring. Sien jy die verskil? Abel bring die eerste en die beste. Kain bring sommer net ‘n offer en vereer daardeur nie vir God met sy eerste en beste nie.
Ons het netnou gesels oor eer vir God se Woord. Hoe jy met God se Woord omgaan, is ‘n weerspieëling van hoe jy in jou hart teenoor God voel. Dit werk net so hier ook. Wat jy vir God van jouself gee, is ‘n weerspieëling van hoe jy in jou hart teenoor Hom voel.
Jou eerste en beste is nie net beperk tot geld nie. Dis ook jou tyd, jou gawes en talente, hoe jy jou prioriteite rangskik, ensovoorts.
God seën ook diegene wat Hom eer. Kyk maar weer na die vers hierbo. Ook in Maleagi 3:10 beloof God om ons te seën as ons Hom eer met ons eerste en beste.
Begin vandag om God te eer met jóú eerste en beste, want dan sal “jou skure oorvol wees en jou parskuipe oorloop van die wyn.”
EER GOD – EER JESUS.
Johannes skryf die volgende in Johannes 5:23-24: “Daarom moet almal die Seun eer net soos hulle die Vader eer. Wie nie die Seun eer nie, eer ook nie die Vader wat Hom gestuur het nie. Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan.”
Ons eer God deur Jesus te eer.
Jesus is een met die Vader, self God.
Hy is die weg en die waarheid en die lewe en niemand kom na die Vader toe behalwe deur Hom nie.
Elkeen van ons, ook jý, het Hom nodig as Heer en Verlosser in jou lewe.
Om maar net te glo dat Hy ‘n profeet was of dat Hy ‘n goeie voorbeeld is om na te volg, bring nie redding nie.
Nee, jy moet Sy Godheid erken.
Jy moet erken dat Hy vir jou sondes gesterf het en dat die Vader Hom op die derde dag uit die dood opgewek het.
Jy moet erken dat jy Hom nodig het.
En jy moet Sy verlossing aanvaar, Hom Here van jou lewe maak en aan Hom gehoorsaam wees.
Het jy dit al gedoen?
ANDER MANIERE OM GOD TE EER.
Daar is natuurlik nog baie ander maniere om God te eer.
Ons eer, byvoorbeeld, vir God wanneer ons Hom ken in elke besluit wat ons moet neem. Onthou, Hy weet die beste en sal, as jy Hom vra, jou help om elke keer die regte besluit te neem.
Ons eer God wanneer ons Hom gehoorsaam en die leiding van die Heilige Gees volg.
En moenie vergeet van die vers wat ek aan die begin van dié artikel aangehaal het nie! In Romeine 12:1 staan ons moet ons liggame beskikbaar stel as ‘n offer wat lewend en heilig en aanneemlik vir God is.
‘n Mens eer God dus ook met jou liggaam – wat jy daarmee doen en hoe jy dit behandel. Eer jy God deur jou liggaam soos Sy tempel te hanteer?
Nie een van ons gaan ooit vir God heeltemal 100% eer nie. Ons is mense en ons gaan soms die pad byster raak. Maar wanneer ons agterkom ons het God op een of ander manier nie geëer nie, moet ons dit dadelik voor Hom erken. Hy sal ons vergewe en ons help om in die toekoms Hom beter te eer met alles in ons lewens.