BELê IN JOUSELF – AGT MANIERE

Wat is die eerste ding waaraan jy dink wanneer jy die woord ‘belê’ hoor?

Ek is seker jy dink aan geld en die verskillende maniere hoe ‘n mens dit kan belê. Maar het jy geweet jy kan in jouself ook belê?

Om in jouself te belê is een van die winsgewendste beleggings wat jy kan maak. Dit gaan beslis vir jou voordele vir die toekoms inhou. Maar dit kan ook baie keer in die ‘hier en nou’ ‘n verskil in jou lewe maak.

Gebruik hierdie agt maniere om in jouself te belê en kyk hoe dit jou lewe, en baie keer ook jouself, verander.

Belê in jouself

JOU LEWE = JOU VERANTWOORDELIKHEID.

Dis nou maar eenmaal so dat ons graag ander blameer wanneer ons lewens nie uitwerk soos ons gehoop het nie. Maar baie keer is dit, as ons eerlik is daaroor, eintlik net ons eie skuld.

Ons het besluite geneem en dinge gedoen – of nie gedoen nie – en dis waarom ons is waar ons is en het wat ons het.

So, die eerste ding wat ‘n mens moet doen is om verantwoordelikheid te neem vir jou eie lewe.

Besef dat jy veranwoordelik is vir baie dinge in jou lewe waarvan jy dalk nie hou nie en wat jy graag sou wou verander.

Maar gelukkig hoef dinge nie te bly soos dit nou is nie!

Net soos jy besluite geneem het, wat jou gebring het waar jy nou is, kan jy ook besluite neem en dit verander.

Jý kan besluit hoe jou lewe van nou af gaan lyk wat jou geestelike lewe, jou gesondheid, jou finansies, waar jy bly, die werk wat jy doen, ensovoorts aan betref.

Jy moet net in jouself belê deur die regte besluite te neem en die regte dinge te doen.

DOELWITTE VIR JOU LEWE.

Sonder doelwitte – dinge wat jy in die lewe wil bereik – is die lewe eintlik maar ‘n gejaag na wind.

Maak dus ‘n punt daarvan om te dink oor wat jy in die lewe wil bereik. Skryf dan jou doelwitte neer en begin om daaraan te werk.

Baie mense stel voor jy gebruik die akroniem S.M.A.R.T. wanneer jy jou doelwitte bepaal. Dit staan vir, in Engels, ‘specific, measurable, attainable, realistic, and time-bound‘. In Afrikaans kan ons sê: spesifiek, meetbaar, bereikbaar, realisties en tydgebonde.

Kom ons kyk gou wat elkeen van hierdie dinge beteken wanneer ons oor doelwitte praat.

Spesifiek – moenie vaag wees oor jou doelwitte nie. Wat wil jy regtig in jou lewe bereik of hê?

Meetbaar – Hoe gaan jy weet wanneer jy jou doelwit bereik het?

Bereikbaar – Wees realisties oor wat jy op hierdie stadium van jou lewe kan bereik. Onthou om jou daaglikse verantwoordelikhede in ag te neem.

Realisties – Jou doelwit moet prakties moontlik wees.

Tydgebonde – Om ‘n sperdatum aan jou doelwit te koppel, gaan jou baie help. Besluit dus hoe lank jy aan jou doelwit gaan werk en ook teen watter datum jy dit wil bereik.

DIE DRIE BELANGRIKSTE GEBIEDE OM IN TE BELê.

In verlede week se video op Nader In Eenvoud se YouTube kanaal, het ons gesels oor vier gebiede in jou lewe waarin jy kan belê.

Hierdie gebiede is jou geestelike lewe, jou gesondheid, jou persoonlik ontwikkeling en jou omgewing. Hoewel die vierde gebied belangrik is, is die eerste drie die heel belangrikste.

LEER HOE FINANSIES WERK.

‘n Mens kan nie daarvan wegkom dat geld ‘n belangrike rol in die lewe speel nie. Belê dus in jouself, en in jou finansiële toekoms, deur te leer hoe finansies werk en hoe om met geld te werk.

Lees boeke oor finansies of soek en lees artikels op die Internet. Daar is ook ‘podcasts’ waarna jy kan luister.

Ek is tans besig om die oudio-boek, The Richest Man In Babylon deur George S. Clason, te luister. Dis in storie-vorm geskryf en leer jou baie dinge oor hoe om geld te maak, hoe om te spaar en hoe om jou inkomste te laat groei. Jy kan gerus daarna luister!

Moet ook nie vergeet dat die Here vir ons baie raad en wysheid oor finansies in die Bybel gee nie. Kry dus vir jou ‘n notaboekie en skryf neer wat jy uit die Bybel oor finansies leer.

Dit maak nie saak wat se werk jy doen nie, as jy weet hoe geld werk en hoe om daarmee te werk, kan jy jou inkomste laat groei en begin om ‘n beter lewe te leef.

SIEN OM NA JOU EMOSIONELE GESONDHEID.

Dis jammer dat baie mense steeds dink dis net ‘mal’ mense wat beraders of sielkundiges gaan sien.

Maar dis nie waar nie.

Almal van ons het al op een of ander manier deur trauma gegaan. En baie keer het ‘n mens na so ‘n ervaring nodig om net met iemand, wat opgelei is om te help, te praat.

Maak dus ‘n punt daarvan om in jouself te belê deur om te sien na jou emosionele gesondheid.

Gaan sien ‘n berader of ‘n sielkundige wat jou kan help.

Al kry jy geen ander voordeel daaruit nie, sal dit jou tog help om te fokus op die goeie dinge in die lewe, en die geleenthede wat jy het, in plaas van die seer van die verlede.

LEER OM ‘NEE’ TE Sê.

Het jy ook al ‘ja’ gesê vir iets en dit agterna berou? Ons almal het!

Maar weet jy, daar is niks mee fout om ‘nee’ te sê vir dinge wat jy weet jou tyd gaan mors en jou geen vreugde gaan verskaf nie.

So, leer om ‘nee’ te sê wanneer nodig en belê op dié manier in jouself.

LEER OM ‘JA’ TE Sê.

Net soos wat dit nodig is om te leer om partykeer ‘nee’ te sê, is dit ook nodig om te leer om ‘ja’ te kan sê.

Baie van ons is so bang om nuwe geleenthede aan te gryp, dat ons nie maklik ‘ja’ sê daarvoor nie. Ons is bang om nuwe verhoudings aan te knoop en nuwe dinge te ervaar. En soms is ons selfs bang om nuwe gewoontes aan te leer.

Daar kan baie redes wees waarom ons bang is, maar een daarvan is dat ons bang is ons misluk.

As jy egter aanhoudend ‘nee’ sê vir dinge wat jy eintlik graag wil doen en wat jou gaan bevoordeel net omdat jy bang is vir mislukking, gaan jy uitmis op baie wonderlike dinge in die lewe.

Leer dus om ‘ja’ te sê wanneer daar iets nuuts op die horison is, wat jou vreugde kan bring en wat jy graag wil doen.

WERK AAN JOU ‘BUCKET LIST’.

Ek weet nie of daar ‘n mooi Afrikaanse woord vir ‘bucket list’ is nie, maar ek is seker jy weet wat dit beteken.

Dis ‘n lys van dinge wat jy wil doen, bereik, sien en ervaar voor jy die dag jou kop vir oulaas neerlê.

Begin dus aan jou ‘bucket list’ werk. Moenie wag tot jy die dag afgetree is voor jy begin nie. Begin vandag nog.

En as jy nie ‘n ‘bucket list’ het nie, begin een! Skryf ‘n paar dinge neer wat jy wil doen, ervaar, sien, ensovoorts. Probeer dan om elke maand, of ten minste elke kwartaal, iets op daardie lys te doen.

Moet ook nie vergeet om nuwe dinge op die lys by te voeg nie.

Iemand het gesê aan die einde van jou lewe gaan jy dalk spyt wees oor sommige dinge wat jy gedoen het, maar jy gaan meer spyt wees oor die dinge wat jy nié gedoen het nie.

So, belê in jouself deur ‘n ‘bucket list’ te begin en werk gereeld daaraan om iets op daardie lys te bereik.

Ek vertrou dat hierdie agt maniere, waarop jy in jouself kan belê, vir jou van waarde gaan wees.

As jy aan nóg maniere kan dink waarop ‘n mens in jouself kan belê, deel dit met die res van ons in die kommentaar hieronder.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *