JY KAN NOG VAN 2022 ‘N GOEIE JAAR MAAK

Het jy aan die begin van besluit 2022 gaan ‘n goeie jaar wees en vir jouself ‘n lys doelwitte neergeskryf wat jy deur die jaar wou bereik?

Wat het van daardie doelwitte geword? Hoeveel van hulle het jy al bereik?

Gaan jy aan die einde van 2022 kan terugkyk na die jaar en sê, “Hierdie was ‘n goeie jaar. Ek het alles gedoen wat ek wou doen en bereik wat ek wou bereik”?

Meeste van ons gaan dit nie kan sê nie. Ons het óf nie doelwitte en ‘n plan vir die jaar gehad nie, óf ons het lankal vergeet wat dit was.

As dit waar is van jou, onthou dan dat die jaar nog nie verby is nie. Daar is nog ‘n hele drie maande waarin jy kan werk aan dié dinge wat jy die jaar wou doen.

Om jou daarmee te help, hier is sewe stappe wat jy kan volg om nog van 2022 ‘n goeie jaar te maak.

2022 'n goeie jaar

WAAROP GAAN JY FOKUS?

Die Russe het ‘n gesegde wat so lui: As jy twee hase jaag gaan jy nie een vang nie.

Dit leer ons dat ‘n mens nie moet probeer om op meer as een ding op ‘n slag te fokus nie.

Die eerste stap om van 2022 nog ‘n goeie jaar te maak is om ‘n lys te maak van die belangrikste dinge wat jy voor die einde van die jaar wil afhandel of bereik. Moenie vergeet om hieroor te bid nie!

Na jy jou lys gemaak het, besluit watter een die heel belangrikste is en skryf dit eerste op ‘n nuwe lys. Wat is tweede belangrikste? Skryf dit tweede op die nuwe lys. En derde belangrikste? Skryf dit derde op die lys. Hou so aan tot jy al die dinge wat jy nog wil doen op jou lys neergeskryf het.

Volgende gaan jy besluit watter twee of drie van daardie dinge vir jou regtig die belangrikste is om te bereik. Vra die Here om jou te help kies.

Dís die twee of drie dinge waarop jy vir die res van die jaar gaan fokus. Die res kan oorstaan tot volgende jaar.

BEREIKBARE DOELWITTE.

In die artikel oor dinge wat jy kan doen om in jouself te belê, het ons gesels daaroor dat doelwitte spesifiek, meetbaar, bereikbaar, realisties en tydgebonde moet wees.

In hierdie geval is dit nóg belangriker dat jou doelwitte iets moet wees wat jy in die laaste drie maande van die jaar wel sal kan bereik.

Dis byvoorbeeld nie ‘n goeie idee om op dié stadium ‘verloor 40kg’ as ‘n doelwit te hê nie. Dis ongesond om in ‘n kort tyd baie gewig te verloor en die kans dat jy 40kg in drie maande gaan verloor, is maar skraal.

Maak dus seker die doelwitte wat jy op jou lysie geskryf het is dinge wat jy wel binne drie maande sal kan bereik.

‘N PLAN VAN AKSIE.

‘n Mens bereik baie keer nie jou doelwitte nie omdat jy nie regtig ‘n plan het van wat om te doen om dit te bereik nie.

Die volgende stap is dan om ‘n plan op te stel van al die dinge wat jy moet doen om jou doelwit te bereik.

Kom ons veronderstel jy wil begin om gesonder te leef. Dis nie ‘n doelwit wat tydgebonde is nie, want jy gaan dit nie net vir die volgende drie maande doen nie. Maar dis wel ‘n doelwit wat bereikbaar is in hierdie tydperk. Alles wat jy die volgende drie maande doen om jou lewensstyl te verander sodat jy gesonder leef, vat jou vorentoe.

Dink aan al die dinge wat jy moet doen om gesonder te leef.

Maak ‘n lys van alles waaraan jy kan dink.
Dit kan dinge insluit soos:

Eet ‘n slaai saam met middag- en aandete.
Drink 8 glase water ‘n dag.
Gaan stap drie keer ‘n week.
Koop ‘n multivitamien en drink dit elke dag.
Werk ‘n maaltydplan vir elke week uit.
Eet suiker net tydens sosiale geleenthede
.

Van die stappe in jou aksieplan gaan daaglikse stappe wees. Dit gaan deel word van jou daaglikse roetine. Ander gaan jy weekliks of dalk maandeliks doen. En sommige gaan jy net een keer doen en nie weer nie.

Daar gaan ook stappe wees wat jy in ‘n spesifieke volgorde moet doen. As jy byvoorbeeld by ‘n gym wil gaan oefen, gaan jy eers moet aansluit voor jy kan begin oefen. Kyk dus of daar dinge is wat jy in ‘n spesifieke volgorde moet doen en skryf die volgorde neer.

Moet weer nie vergeet om die Here in hierdie proses te ken nie. Hy weet presies wat die regte stappe is, so vra Hom om jou te help.

SKRYF DIT IN JOU DAGBOEK.

Nog ‘n rede waarom ons baie keer nie ons doelwitte bereik nie, is omdat ons nie ‘n spesifieke tyd het wanneer ons aan ons doelwitte gaan werk nie.

Daarom is dit belangrik om die aksiestappe wat jy neergeskryf het, in jou dagboek ook neer te skryf.

As jy byvoorbeeld besluit om drie keer ‘n week te oefen, skryf jou oefentye in jou dagboek. Hanteer dit soos enige ander afspraak. Moenie toelaat dat iets anders daardie tyd steel nie.

Dit gaan ook makliker wees om te onthou watter van jou aksiestappe jy dalk weekliks of maandeliks moet doen as jy dit reeds in jou dagboek neergeskryf het. Wanneer jy dan by daardie dag kom, is dit klaar in jou dagboek en jy gaan nie vergeet om dit af te handel nie.

WENK: Maak jou doelwit-aksiestappe die prioriteittake op jou doen-lysie vir elke dag.

IDENTIFISEER MOONTLIKE STUIKELBLOKKE.

Dis ongelukkig so dat daar struikelblokke kan wees wat jou kan verhoed om jou doelwit te bereik.

Daarom is dit ‘n goeie idee om moontlike stuikelblokke te identifiseer en ‘n plan te hê van hoe jy dit gaan hanteer as so iets opduik.

Kom ons kyk weer na die gesonder leef-doelwit. As een van jou aksiestappe is om elke dag te oefen, kan ‘n besering ‘n struikelblok wees. Wat gaan jy doen as jy jouself seermaak en jy kan vir ‘n tyd lank nie gym toe gaan nie?

HOU JOU VORDERING DOP.

Maak seker dat jy jou vordering dophou. Onthou, daar is net drie maande oor voor die einde van die jaar. Jy gaan dus ‘n manier moet kry om te bepaal of jy besig is om vordering te maak.

Een manier is om die lysie met aksiestappe te gebruik as ‘n kontrolelys (checklist). Merk af op jou lys wanneer jy een van jou aksiestappe voltooi het.

As jou doelwit ‘n gewoonte is wat jy wil aanleer – byvoorbeeld om 8 glase water ‘n dag te drink – kan jy ‘n ‘habit tracker’ gebruik om jou vordering dop te hou. Elke dag wat jy jou gewoonte suksesvol uitvoer, maak jy ‘n kruisie by die dag. Op dié manier sal jy vinnig sien of jy besig is om vordering te maak of nie. Daar is heelwat gratis ‘habit trackers’ op die internet beskikbaar. Soek een waarvan jy hou, druk dit uit en begin dit vandag nog gebruik.(Hier is een wat jy sommer dadelik kan aflaai, sonder om te soek!)

HOU JOU DOELWITTE VOOR Oë.

Hier is nog twee redes waarom ons baie keer nie ons doelwitte bereik nie.

  1. Ons skryf nie die doelwitte neer nie. Ons dink ons gaan dit onthou.
  2. As ons dit wel neerskryf, sit ons die lysie iewers in ‘n laai en kyk nooit weer daarna nie.

As jy jou twee of drie doelwitte nog voor die einde van die jaar wil bereik, dan moes jy dit neergeskryf het. Maak ook ‘n punt daarvan om elke dag, of ten minste een keer ‘n week, jou doelwitte te lees. Dit sal jou herinner aan dié dinge waarmee jy besig is en jou ook motiveer om vas te byt tot jy jou doelwitte bereik het.

Jim Rohn het gesê dis maklik om jou lewe te verander. Sy definisie van ‘maklik’ was ‘iets wat jy kan doen’. Hy het ook gesê net so maklik as wat dit is om jou lewe te verander, so maklik is dit om dit nie te doen nie.

As jy bereid is om aan jou doelwitte te werk, gaan jy jou lewe verander. Maar as jy tevrede is om te bly doen wat jy sover elke dag die jaar gedoen het, gaan jy tien teen een nie veel meer in 2022 bereik nie. Jy gaan nie jou doelwitte bereik nie en jy gaan beslis nie jou lewe verander nie.

Wat kies jy om met die laaste drie maande van 2022 te doen?

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *