As jy sukkel om elke dag jou Bybel te lees, dan vertrou ek dat hierdie artikel oor twaalf dinge wat die Bybel doen in die lewe van ‘n gelowige, jou gaan inspireer om elke dag tyd te maak om dit te lees.
DIE WAARDE VAN DIE WOORD.
Ek lees nou die dag dat baie gelowiges in lande waar hulle vir hulle geloof vervolg word, nie Bybels het nie. As een so ‘n gelowige iewers ‘n bladsy uit ‘n Bybel in die hande kry, memoriseer hy of sy dit so vinnig as moontlik. Dan word die bladsy vir die volgende gelowige gegee, wat weer dieselfde doen.
Hierdie mense besef die waarde van God se Woord. Hulle weet wat die Woord vir hulle doen. Hulle weet ook dat niemand die Woord wat in hulle harte is, van hulle af kan wegneem nie.
Vandag gaan ons gesels oor twaalf dinge wat die Bybel doen, sodat ons ook die waarde van God se Woord in ons lewens, kan besef.

LEER ONS MEER OOR GOD.
Die eerste ding wat die Bybel doen, is om ons meer oor God te leer.
Ons kan Hom nie sien nie, maar Hy gebruik die Woord om Homself aan ons te openbaar. Daar leer ons presies wie Hy is en wat Hy doen.
Wanneer ons dan ons eie ervaring met God het, is dit ‘n ondersteuning van dit wat ons reeds in die Bybel oor Hom geleer het.
‘n Mens kan God in ‘n mate sonder die Bybel leer ken. In Psalm 8 staan daar dat ons Sy handewerk oral in die natuur sien. Maar sonder die Bybel kan ons baie dinge oor God glo, wat nie die waarheid is nie. Dis waarom dit so belangrik is om elke dag tyd saam met Hom in die Woord te spandeer sodat Hy Homself daardeur aan jou kan bekend maak.
WYS ONS GOD SE VERLOSSINGSPLAN.
Die tweede ding wat die Bybel doen, is om ons God se verlossingsplan te wys.
Van Genesis tot Openbaring word die verlossingsplan vir ons verduidelik. Ons leer waarom ons ‘n Verlosser nodig het. Ons sien hoe God sommer al aan die begin die belofte maak om Hom te stuur.
In die geskiedenisboeke van die Bybel lees ons van tipes en skadubeelde wat alles heenwys na Jesus en wat Hy kom doen het.
Die profete profeteer weer op hulle beurt oor Hom en in die Evangelies lees ons van Sy koms en hoe hierdie profesieë waar geword het.
Dan leer ons in die briewe van die Nuwe Testament wat ons identiteit as kinders van God is. Ons leer ook wat ons erfenis in Christus alles behels. En ons leer hoe om ons nuwe identiteit uit te leef.
In Openbaring sien ons hoe alles bymekaar kom en hoe God se verlossingsplan ook ‘n plan van oorwinning is.
Die verlossingsplan loop soos ‘n goue draad deur die Bybel. Ons moet die Bybel lees sodat weet wat die plan behels en deel kan hê aan elke aspek daarvan.

SNOEI ONS SKOON.
Die derde dinge wat die Bybel doen is om ons skoon te snoei sodat ons kan vrug dra.
Ons lees daarvan in Johannes 15:2b-3: “…maar elkeen wat vrug dra, snoei Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra. Julle is egter reeds skoon deur die woorde wat Ek vir julle gesê het.”
God gebruik nie swaarkry, siekte, of slegte omstandighede om ons te snoei nie. Nee, Hy gebruik die Woord. As jy dus meer vrug wil dra, spandeer tyd in die Woord. Laat God toe om jou skoon te snoei. Laat Sy woorde in jou bly. En jy sal baie vrug dra en ‘n dissipel van Jesus wees (Johannes 15:7-8).
VERANDER NA DIE BEELD VAN JESUS.
Die woorde in die Bybel snoei ons nie net skoon nie; dit verander ons ook na die beeld van Jesus.
In 2 Korinthiërs 3:14-18 lees ons dat die Israeliete nie verstaan het wat gelees is wanneer hulle die Wet gehoor het nie. Hulle het nie vir Jesus daarin herken nie, want daar was ‘n sluier oor hulle gedagtes. Hiérdie sluier word egter weggeneem wanneer iemand aan Jesus behoort.
Wanneer ons as God se kinders die Bybel lees, help die Heilige Gees ons om Jesus in die Woord te sien. En wanneer ons Hom daar sien, verander die Gees ons na Sy beeld.
Wil jy meer soos Jesus wees? Spandeer dan tyd in die Woord. Vra die Heilige Gees om jou te help om Jesus al duideliker daarin te sien. En vertrou Hom dat Hy jou sal verander na Sy beeld.
GEESTELIKE VOEDSEL.
Die vyfde ding wat die Bybel doen, is om ons geestelik te voed.
In Mattheus 4 lees ons van Jesus se versoeking in die woestyn. Jesus het pas vir veertig dae en veertig nagte gevas toe die duiwel opdaag. Hy weet Jesus is honger en gebruik dit dus as die eerste versoeking. Hy sê: “As U die Seun van God is, sê dat hierdie klippe brode moet word.”
Maar Jesus het dadelik ‘n antwoord reg: “Van brood alleen sal die mens nie leef nie, maar van elke uitspraak wat uit die mond van God kom.”
Meeste van ons eet drie maaltye ‘n dag, met nog ‘n paar snoephappies tussenin. Maar hoeveel van ons gaan dae lank sonder om tyd in die Woord te spandeer?
Het jy lanklaas jou Bybel gelees? Dan is jy besig om jou gees te laat honger ly. Onthou, ‘n mens is ‘n gees, jy het ‘n siel en jy woon in ‘n liggaam. Jou gees is die ware jy. Dis dié gedeelte van jou wat weergebore is en waar God se Gees woon. Jou siel is jou persoonlikheid, gedagtes, wil en emosies. En dan is daar jou liggaam, jou gees en siel se huis.
As jy elke dag drie maaltye eet, maar jy lees maar min jou Bybel, dan is jy besig om vir die huis te sorg terwyl die eienaar van die huis honger ly.
WEK GELOOF IN JOU HART.
Die sesde ding wat die Bybel doen, is om geloof in ons harte te wek.
In Lukas 17:5 vra die dissipels vir Jesus: “Gee ons meer geloof!”
Is dit ook jou versoek? Dan moet jy tyd in die Bybel spandeer.
In Romeine 10 lees ons dat ‘n mens nie kan glo as hy in die eerste plek nie die boodskap oor Jesus gehoor het nie. Dan staan daar in vers 17: “Die geloof kom dus uit die aanhoor, en die aanhoor kom deur die verkondiging van Christus.”
Ek het in punt twee genoem dat die hele Bybel ‘n heenwysing is na Jesus. Dis dus nie net wanneer ons die Evangelies hoor en lees wat geloof in ons harte gewek kan word nie. Nee, die hele Bybel kan geloof wek omdat daar oral oor Jesus gepraat word.
VERNUWE JOU GEDAGTES.
Die sewende ding wat die Bybel doen, is om ons gedagtes te vernuwe.
In Romeine 12:2 word ons gewaarsku om nie aan die wêreld gelykvormig te wees nie. Dit beteken ons moenie optree soos mense wat nie vir God ken nie.
Jy het seker al hierdie Engelse uitdrukking gehoor: “You are what you think.”
Jou dade het hulle oorsprong in jou gedagtes. As jy verkeerd dink, gaan jy verkeerd doen. As jy reg dink, gaan jy reg doen.
Die enigste manier hoe ‘n mens kan leer om reg te dink, is om tyd in die Woord te spandeer. God gebruik Sy Woord om ons denke te vernuwe. As ons denke met Sy Woord vernuwe is, weet ons wat Sy goeie, aanneemlike en volmaakte wil is. En dan kan ons daarvolgens optree.
GEESTELIKE AMMUNISIE.
Baie mense besef dit nie, maar ons is daagliks in ‘n geveg met die bose betrokke. Soms is sy aanvalle fisies en kan ‘n mens sommer in jou lewe sien hy is besig om met jou te baklei. Maar meeste van die tyd is hy baie meer subtiel. Wanneer hy subtiel is, dan vind die aanvalle in jou gedagtes plaas.
Jy begin byvoorbeeld te twyfel aan ‘n belofte in God se Woord. Dis die duiwel se aanval in jou gedagtes.
Of jy begin jouself vergelyk met ander en voel minderwaardig en soos ‘n nikswerd. Dis ook ‘n aanval in jou gedagtes.
Iemand sê iets wat jou seermaak en vir dae broei jy daaroor en dink allerhande nare dinge oor die persoon. Sien jy die aanval in jou gedagtes?
Hierdie is maar net ‘n paar voorbeelde van hoe die duiwel jou in jou gedagtes kan aanval sonder dat jy dit eers agterkom.
Maar ook hier help die Bybel ons.
Die agtste ding wat die Bybel doen, is om vir jou geestelike ammunisie te voorsien vir die stryd.
Onthou jy ons het by punt 5 gepraat oor Jesus se versoeking? Toe die duiwel Hom versoek het, wat het Hy gedoen? Hy het die duiwel elke keer hardop geantwoord met ‘n aanhaling uit God se Woord. Hy het die geestelike ammunisie gebruik en die duiwel se aanvalle afgeweer.
Dis presies wat ek en jy ook moet doen. Ons moet tyd in die Woord spandeer sodat ons weet wat daar staan. Wanneer die duiwel ons aanval, moet ons God se woorde wat op die aanval van toepassing is, hardop uitspreek.
In Efesiërs 6:17 word die Woord die Swaard van die Gees genoem. Gebruik volgende keer jou swaard, jou geestelike ammunisie. Staan die duiwel teë en hy sal van jou wegvlug (Jakobus 4:7).

HEILIG ONS.
Die negende ding wat die Bybel doen, is om ons te heilig.
Wedergeboorte is die begin van jou verhouding met die Here. Dis ook die begin van die pad van heiligmaking.
In Johannes 17 lees ons Jesus se gebed voor Sy kruisiging. In vers 17 staan daar: “Heilig hulle deur die waarheid – U woorde is die waarheid.”
God gebruik Sy Woord om ons te heilig. Dit beteken ons is eenkant gesit vir God. Hy het ons gereinig van sonde en ons in Christus aanvaar as Syne.
As jy egter na jou lewe kyk, moet jy erken dat daar steeds dinge is wat jy doen, wat nie reg is nie. Maar God stap saam met jou ‘n pad van heiligmaking. Hy gebruik Sy Woord om stadig maar seker van al die sonde wat nog in jou lewe is, ontslae te raak.
ROTS WAAROP ONS BOU.
Die Bybel is ook die rots waarop ons ons lewens bou.
In Mattheus 7:24-27 lees ons van die man wat sy huis op sand gebou het. Toe die storms kom, het die huis inmekaar getuimel.
Maar daar is ook die man wat sy huis op die rots gebou het. Toe die storms kom, het die huis bly staan omdat dit stewig op die rots gebou was.
Die eerste man het nie sy lewe op God se Woord gebou nie. Hy het nie geweet wat in die Bybel staan en daarvolgens geleef nie. Hy het nie God se beloftes geken en geglo nie. En, toe die lewensstorms kom, het sy lewe inmekaar gestort.
Die twee man het anders opgetree. Hy het tyd in God se Woord gespandeer en geleer wat daar staan. Hy het alles wat hy geleer het geglo en in sy lewe toegepas. En toe die lewensstorms hóm tref, het sy lewe nie inmekaar gestort nie, want hy het sy lewe op God se Woord gebou.
GEE LEIDING.
Die elfde ding wat die Bybel doen, is om vir ons leiding te gee.
Wanneer ons ‘n besluit moet neem, kan ons kyk wat die Woord daaroor sê en daarvolgens besluit.
Die Heilige Gees gebruik ook die Woord in ons daaglikse lewens om ons te lei.
Kom ek gee jou ‘n voorbeeld. Jy lees die oggend in jou Bybel dat God vrygewig is en in jou behoeftes voorsien. Jy lees ook dat Hy van jou vra om ook vrygewig te wees en in ander se behoeftes te voorsien.
Later die middag hoor jy van ‘n gesin wie se huis afgebrand het. Jy bid dadelik vir hulle en vra die Here om hulle te help. Dan kom die gedagte by jou op dat jy ‘n klomp ongebruikte meubels in ‘n stoor het. Jy onthou ook die gedeelte wat jy gelees het oor vrygewigheid en in ander se behoeftes voorsien.
Dís die Heilige Gees wat die Woord gebruik om jou te lei. Hy herinner jou aan wat jy geleer het en Hy wys jou ook sommer hoe jy dit kan toepas deur die mense te help met jou ongebruikte meubels.
HELP JOU GOD SE STEM HERKEN.
Die laaste ding wat die Bybel doen is om vir ons ‘n manier te gee om God se stem te herken.
Baie mense sê God praat nie met hulle nie, maar dis net omdat hulle nog nie mooi geleer het hoe om Sy stem te herken nie.
God sal nooit iets vir jou sê wat teenstrydig is met Sy Woord nie. Daarom moet ons weet wat in Sy Woord staan.
Wanneer ‘n gedagte by ons opkom, kan ons dit meet aan die Woord. As dit teenstrydig is met die Woord, is dit nie van God nie.
Of dalk het jy hierdie gevoel dat jy iets moet doen. Dis ‘n sterk gevoel waarvan jy nie kan ontslae raak nie. Voor jy enige iets doen, meet dit eers aan God se Woord. As dit nie ooreenstem met die Woord nie, is dit ook nie van Hom nie.
Nie elke gedagte, gevoel of droom is van God nie. Maar wanneer jy dit kan meet aan Sy Woord, gaan jy soveel makliker herken wanneer dit wél Hy is wat met jou praat.
TYD IN DIE WOORD.
Ons het nou na twaalf dinge gekyk wat die Bybel doen. Sien jy waarom dit só belangrik is om elke dag tyd in die Woord te spandeer?
As jy sukkel om in die gewoonte te kom om elke dag jou Bybel te lees, sluit dan aan by Bybeltyd. Dis ‘n FB-groep waar ons saam die Bybel lees.
Jy kan ook inteken op Nader In Eenvoud se weeklikse nuusbrief en toegang kry tot die Bybel Biblioteek. Dis propvol allerhande hulpmiddele vir jou stiltetyd. Gebruik die hulpmiddele wat jou aandag trek en spandeer elke dag tyd in God se Woord.
Jy sal nie spyt wees nie en beslis ‘n verandering in jou lewe sien!