Ontdek die krag van gebed in Filippense 4:6-7. Leer hoe om jou bekommernisse vir God te gee en Sy vrede, wat alle begrip oortref, te ervaar.
In Filippense 4:6-7 lees ons: “Moet oor niks bekommerd wees nie, maar maak in alles julle versoeke deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend. En die vrede van God, wat alle begrip oortref, sal in Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak.”
As jy hoor jy moenie bekommerd wees nie, maar alles na God toe bring, aan wat se tipe versoeke dink jy?
Ek moet erken, ek dink meeste van die tyd aan fisiese behoeftes. Jy weet, die tipe dinge waarvan Jesus in Mattheus 6 praat wanneer Hy sê ons moenie bekommerd wees oor wat ons gaan eet of drink of aantrek nie.
Maar toe lees ek op ‘n dag ‘n artikel deur Susan Gregory, waar sy hierdie vers vanuit ‘n heel ander hoek bekyk. Sy skryf dat sy ‘n goor dag gehad het – een van daardie dae waar jy net wil terugklim in die bed en die hele dag ignoreer, in die hoop dat jy dit nie verder hoef te hanteer nie.
Hierdie verse het haar egter geinspireer om te kalmeer, stil te word by die Vader en haar hart teenoor Hom uit te praat. Sy het Hom vertrou om haar te help en vir haar die wysheid te gee wat sy nodig gehad het om alles wat daardie dag gebeur het, te hanteer.
Kom ons kyk weer na hierdie twee verse.

MOET OOR NIKS BEKOMMERD WEES NIE
Volgens die woordeboek beteken die woordjie ‘niks’ ‘nie iets nie, geen enkele ding nie’.
Daardie woordjie ‘niks’ dek dus nie net ons fisiese behoeftes soos kos en klere nie, maar ook al die ander dinge in ons lewens – ons huwelik, verhoudings, werk, gesondheid, kinders, ensovoorts.
God sê dus vir ons dat ons oor geen enkele ding in ons lewens bekommerd moet wees nie.
MAAK IN ALLES JULLE VERSOEKE…. AAN GOD BEKEND.
Kom ons kyk gou weer in die woordeboek wat die woord ‘alles’ beteken. Dit beteken ‘al die dinge saam, die gesamentlike hoeveelheid’.
Hoor jy dat daar weer niks uitgelaat word nie?
Hierdie vers sê ons kan na God toe gaan met al ons behoeftes – alles wat ons sommer net graag wil hê, al ons probleme, al ons sondes, al ons begeertes, al ons verslawings, ensovoorts.
Niks is buite perke nie. Ons hoef nie skaam of bang te wees om enige iets na God toe te bring nie, want Hy weet in elke geval daarvan.
DEUR GEBED EN SMEKING MET DANKSEGGING.
Wanneer ons enige iets na God toe bring in gebed, moet ons onthou om dit met danksegging te doen.
Wat beteken dit?
Dit beteken ons sê vir die Here dankie vir wat Hy gaan doen nog voor Hy dit gedoen het.
Ons moet ook vir Hom dankie sê vir al die dinge wat Hy reeds vir ons gedoen het.
Deur dit te doen, verskuif ons ons fokus van onsself en ons probleme na God.
DIE VREDE VAN GOD, WAT ALLE BEGRIP OORTREF.
Wanneer ons doen wat ons in vers 6 lees – wanneer ons ophou om ons te bekommer en alles vir God in gebed gee en Hom dank vir wat Hy gaan doen – dan het ons ‘n belofte in vers 7.
God belowe dat Sy vrede, wat alle begrip oortref, in Christus Jesus oor ons harte en gedagtes sal waak.
Jy sien, wanneer ons op God in plaas van onsself fokus, hou ons op om planne te beraam om self ons probleme op te los. Wanneer ons alles vir God gee en Hom dank vir wat Hy gaan doen, rus ons in Hom en Sy getrouheid en ons weet dat Hy sal doen wat nodig is om ons probleem op te los.
So, wat ookal vandag jou behoeftes is, bring dit na God toe in gebed. Sê vir Hom dankie vir wat Hy gaan doen om jou daarmee te help. En rus dan in Hom met die vertroue dat Hy getrou is om Sy beloftes na te kom en dat Hy op die regte tyd jou gebed sal beantwoord.