WAT Sê DIE BYBEL OOR GEBED?

Ons besef dit nie altyd nie, maar gebed is een van die kragtigste hulpmiddele wat ons as gelowiges het. Dis die manier wat ons gebruik om met die Here te praat. Dis ook ‘n manier om nader aan Hom te groei en Sy wil te soek. En dis ‘n manier om Sy vrede, wat alle verstand te bowe gaan, te ervaar.

Oral in die Bybel sien ons dat mense gebid het. Mense het gebid wanneer hulle hartseer was, maar ook wanneer hulle vol vreugde was. Sommige het gebid wanneer hulle leiding, beskerming of hulp nodig gehad het. En almal het gebid in afhanklikheid van God en geloof in Hom.

Vandag gaan ons ‘n bietjie kyk na wat die Bybel oor gebed sê en wat ons daaruit kan leer.

Wat sê die Bybel oor gebed

Mattheus 6:6: “Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.”

In die Bergrede waarsku Jesus dat daar skynheiliges is wat in die sinagoges en op die straathoeke bid sodat ander hulle kan sien. Hulle bid nie omdat hulle met die Here wil praat nie, maar sodat ander kan sien hoe heilig hulle is. Hulle wil mense met hulle gebede beïndruk sodat ander hulle gebedslewe kan bewonder.

Maar dis nie waaroor gebed gaan nie.

Gebed is veronderstel om ‘n spesiale tyd tussen ons en God te wees. Dis ‘n gesprek tussen ons en ons Hemelse Vader. Wat ons vir die Here sê hoef nie ander se goedkeuring weg te dra nie. Ons hoef hulle ook nie daarmee te beïndruk nie. Daarom sê Jesus dat ons dit op ‘n tyd en plek moet doen wanneer daar nie ander mense naby is nie en ons net onsself by ons Vader kan wees.

1 Thessalonisense 5:16-18: “Wees altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.”

Daar is al baie geskryf oor wat die opdrag om gedurig te bid, nou eintlik beteken.

Een van die belangrikste dinge wat ‘n mens daaroor kan sê, is dat gebed nie iets is wat ons net een keer doen nie.

Net soos ‘n mens nie net een keer met jou man of vrou praat en dan nooit weer nie, moet ons ook gedurig in gesprek met God wees. Dit beteken dat ons sommer so, deur die dag, met Hom moet gesels.

Ons kan Sy hulp vra wanneer ons ‘n moeilike taak by die werk moet verrig.

Ons kan vir Hom vir wysheid vra wanneer ons met ‘n kind moet praat oor iets wat hy of sy verkeerd gedoen het.

Dan kan ons ook bid vir elke persoon wat ons deur die dag raakloop.

Wanneer ons nuus luister of koerant lees, kan ons bid oor alles wat berig word.

En ons kan, voor ons gaan slaap, eers weer met Hom praat en vir Hom dankie sê vir die dag.

Op dié manier bly ons heeltyd met God in gesprek en betrek ons Hom by alles wat in ons lewens gebeur.

Filippense 4:6-7: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”

In hierdie verse nooi die Here ons uit om met alles – let wel, alles! – na Hom toe te kom in gebed.

Wanneer ons ons lewens na Hom toe bring in gebed, erken ons dat ons Sy hulp nodig het. Ons erken dat ons nie in staat is om ons probleme self op te los nie, maar dat ons Hom vertrou om dit vir ons te doen.

As ons boonop met danksegging bid, dan sê ons sommer dankie vir dit wat Hy gaan doen nog voor ons dit sien gebeur.

En dít verander ‘n mens se hart. Dit vul jou met God se vrede, met vertroue en met rus, selfs al is die omstandighede waarin jy is, nie so rooskleurig nie.

Jakobus 5:14-16: “As daar iemand van julle is wat siek is, moet hy die ouderlinge van die gemeente laat kom, en hulle moet vir hom bid en hom met olie salf onder aanroeping van die Naam van die Here. En as hulle gelowig bid, sal dit vir die sieke genesing bring: die Here sal hom gesond maak. As hy gesondig het, sal dit hom vergewe word. Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking.”

Alhoewel gebed ‘n gesprek tussen ons en God is, beteken dit nie dat ons net oor onsself met Hom praat nie. Nee, ons bid ook vir andere.

In die vers hierbo sien ons byvoorbeeld dat ons vir siekes moet bid.

Dan lees ons in 1 Timotheus 2:1-2 dat ons vir die regering, vir almal wat gesag uitoefen, en eintlik sommer vir alle mense, moet bid.

Die Here sê dit vir ons omdat daar krag is in die gebed van ‘n gelowige en omdat Hy deur die gebede van Sy kinders, werk.

Daarom is dit belangrik dat ons elke dag vir ander mense ook bid. ‘n Mens weet nooit of jy die enigste een is wat vir iemand bid en hoe die Here jou gebed gaan gebruik nie.

Romeine 8:26: “Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie.”

Dit is nou maar eenmaal so dat ‘n mens nie altyd woorde het om te bid nie. Soms weet jy regtig nie wat jy vir God omtrent ‘n situasie moet sê nie. Ander kere is jou hart byvoorbeeld so seer dat daar nie woorde is om dit wat jy voel, uit te druk nie.

Wanneer dít gebeur, is hierdie vers vir ons ‘n groot bemoediging, want ons weet die Heilige Gees is daar om ons te help. Hy kan vir ons die woorde gee wat ons moet bid, as dit is wat Hy wil doen.

Maar selfs al doen Hy dit nie, en ons het steeds nie woorde nie, kan ons verseker weet dat Hy vir ons intree en by God vir ons pleit.

Dan moet ons ook onthou dat, wanneer ons wel woorde het om te bid, Hy steeds vir ons intree. Op dié manier word die perfekte gebede voor God gebid.

Markus 11:24: “Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees.”

Gebed is net een kant van die muntstuk. Geloof is die ander kant.

Sonder geloof is ons gebede eintlik maar so ‘n bietjie nutteloos.

Hebreërs 11:6 sê wanneer ons tot God nader, moet ons glo Hy bestaan en dat Hy dié beloon wat Hom soek.

Ons moet dus glo daar is regtig Iemand soos God.

Ons moet glo Hy hoor ons wanneer ons bid.

En ons moet glo dat Hy ons gebede op die regte tyd en op die regte manier, sal verhoor.

Gebed is nie net ‘n lys versoek nie; dit is ‘n innige, lewende verhouding met God.

Dis ‘n manier om in Sy teenwoordigheid te verskyn en tyd met Hom te spandeer.

Dis die manier wat ons gebruik om Sy wil in elke situasie te soek.

En dis een van die maniere wat ons gebruik om Sy vrede te ontvang en te vervaar.

My gebed is dat hierdie verse jou inspireer om gebed ‘n gereelde en vreugdevolle deel van jou lewe te maak.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *