ONDERSKEI GOD SE LEIDING IN JOU LEWE

Ons lees oral in die Bybel dat God ons wil lei. Kyk maar net na Psalm 48:15. Daar staan: “Ja, hierdie God is ons God vir altyd en ewig; Hý sal ons lei vir ewig.”

God wil ons lei sodat ons Sy wil vir ons lewens uitleef. Hy wil ons lei sodat ons die regte besluite neem. Dit maak nie saak of dit iets groots of iets kleins in die lewe is nie, God wil ons lei.

Daarom is dit dan ook ‘n goeie ding om Hom te vra om jou te lei, want dit beteken jy maak nie op jou eie insig staat nie. Nee, jy kom na God toe en vra Hom vir Sy hulp, insig en wysheid.

Hy sien in elk geval die groter prentjie en daarom is dit altyd tot jou voordeel om Hom te vra wat jy moet doen.

En as jy dít doen, het jy in hierdie vers die belofte dat Hy jou tot aan die einde van jou lewe sal lei.

God se leiding in jou lewe

Hoewel God belowe om ons te lei, beteken dit nie ons kan nou maar stilsit en niks doen nie.

Ons dink partykeer dat God se beloftes sommer net in ons skote gaan val. Ons dink dat Hy dinge gaan laat gebeur sonder dat ons enigsins betrokke is, maar dis nie hoe dit werk nie. God verwag van ons om ons kant te bring.

Dis ook waar wanneer dit kom by Sy leiding in jou lewe.

Daar is sekere stappe wat jy moet neem om jou te help om Sy leiding in jou lewe, te onderskei.

Ons kry dié stappe in Jeremia 6:16. Daar staan: “So sê die Here: Staan by die kruispaaie en kyk, en vra na die ou paaie. Vra watter pad die beste is en loop dit, dan sal julle rus vind.”

Kom ons kyk ‘n bietjie meer in diepte na elkeen van dié stappe.

In die eerste gedeelte van die vers, lees ons: “Staan by die kruispaaie…”

Die eerste stap wat ons moet neem, is om te staan.

In Efesiërs 6:13 lees ons: “Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle die stryd tot die einde toe gevoer het, nog op julle pos kan bly staan.”

Dis by die kruispaaie in die lewe waar ‘n mens veral God se leiding nodig het. En dis ook by die kruispaaie waar die duiwel gaan probeer om jou deurmekaar te maak en jou te laat twyfel.

Moenie toegee aan sy slinkse praatjies nie. Moenie moed opgee nie en moenie dit wat jy reeds uit God se hand ontvang het, vir die vyand gee nie. Bly staan op die beloftes van God deur dit te glo. Maak seker dat jy elke dag jou Bybel lees, sodat jy jou geloof kan versterk.

Bly dan staan in geloof tot jy die beloftes van God in jou lewe ‘n werklikheid sien word.

Kom ons lees weer die eerste stukkie van Jeremia 6:16. Daar staan: “Staan by die kruispaaie en kyk…”

Die tweede stap wat ons moet neem, is om te kyk.

Wanneer ‘n mens by ‘n kruispad kom, is daar verskillende paaie wat jy kan vat. Daarom is dit belangrik om met geestelike oë te kyk na die verskillende opsies wat jy het.

Is daar ‘n opsie wat in lyn is met ‘n belofte van God oor daardie spesifieke situasie in jou lewe?

Dit is tien teen een dan die pad waarop God jou wil lei.

Die derde stap wat ons moet neem om ons te help om God se leiding in ons lewens te onderskei, kry ons in die tweede gedeelte van Jeremia 6:16. Daar staan: “Vra watter pad die beste is…”

Die derde stap is dus om te vra.

Vra die Heilige Gees om jou wysheid te gee en jou te wys wat jy moet doen.

Onthou, soms is daar twee of meer paaie wat lyk of dit die regte een kan wees. Maar net een van daardie paaie is op die ou end die een wat God vir jou voorberei het.

So, vra die Here watter pad die beste een vir jou is, want die pad wat reg is vir my, is nie noodwendig die een wat reg is vir jou nie. Daarom kan jy nie kyk na wat ander doen en dan dieselfde doen nie.

Hou aan om God te vra watter pad jy moet stap tot jy vrede het oor watter pad die beste een is.

Die volgende stukkie van vers 16 sê: “…en loop dit.”

Stap vier is om op die pad wat die Here jou wys, te begin loop.

Soms gaan jy die pad begin stap en jy gaan agterkom dis presies die pad wat die beste is vir jou. Dan kan jy God vertrou om jou te bly lei sodat jy enduit op die regte pad bly.

Maar soms gaan jy ‘n fout maak en dink jy is op die pad wat God jou gewys het, maar dan is jy nie. As dít gebeur, belowe God ook om jou te lei.

In Jesaja 30:21 staan: “Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou ‘n stem hoor sê: ‘Hier is die pad, loop hierlangs.'”

Jy kan dus altyd vir God vertrou om jou te lei om op die regte pad te stap, op die regte pad te bly, of op die regte pad te kom.

Ek weet nie waar jy vandag God se leiding nodig het nie, maar ek weet dat Hy jou graag wil lei. Daarom wil ek jou aanmoedig om die vier stappe waaroor ons vandag gesels het, te gebruik om jou te help om Sy leiding in jou lewe te onderskei.

Wanneer jy by ‘n kruispad kom, staan op God se beloftes.

Kyk met geestelike oë na die verskillende opsies of paaie wat jy kan vat.

Vra die Here watter opsie, of pad, die beste een is.

Wanneer jy vrede het oor ‘n opsie of pad, begin dit stap.

En vertrou die Here om jou te bly lei tot jy die einde van die pad bereik!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *