Die duiwel het verskeie wapens, maar daar is een wat sy gunsteling is.
Weet jy wat dit is?
Ons lees van daardie wapen in die derde hoofstuk van Genesis.
In Genesis 3:1-4 staan: “Hy [dis nou die slang] het vir die vrou gevra: “Is dit werklik so dat God gesê het julle mag nie van enige boom in die tuin eet nie?” Die vrou het die slang geantwoord: “Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet, maar oor die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê, ‘Julle mag daarvan nie eet nie en dit nie aanraak nie, anders sterf julle.'” Die slang sê toe vir die vrou: “Julle sal beslis nie sterf nie.”

DIE DUIWEL SE WAPEN.
Sien jy hoe die duiwel sy wapen gebruik?
Eers vra hy vir Eva ‘n vraag wat lyk of dit baie onskuldig is. Maar in werklikheid sinspeel hy daarop dat God haar en Adam darem so ‘n bietjie onregverdig behandel. Dan gaan hy ‘n stap verder en weerspreek wat God gesê het sommer heeltemal.
Jy sien, die duiwel se gunsteling wapen om te gebruik, is leuens.
Jesus sê dan ook die volgende van hom in Johannes 8:44: ” Hy was van die begin af ‘n mensemoordenaar, en hy staan nie by die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy ‘n leuen vertel, vertel hy dit uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar en die vader daarvan is.”
Die duiwel gebruik leuens vandag nog in ons lewens.
Hy sal vir jou vertel dat jy nooit daardie sonde waarmee jy so sukkel, sal oorwin nie.
Of hy sal vir jou sê dat jy, of dit wat jy gedoen het, nie goed genoeg is nie.
Hy sal jou aan jou verlede herinner en vir jou sê dat ander jou nie gaan aanvaar as hulle daarvan moet uitvind nie.
En as jy ‘n baie groot probleem of ernstige behoefte het, sal hy vir jou vertel dat jy nie op God kan vertrou om jou te help nie. Hy sal vir jou sê dat God van jou vergeet het en dat jy maar op jou eie sal moet regkom.
Nie een van hierdie dinge is die waarheid nie, en dis juis waarom die duiwel dit teen jou gebruik.
Dink so ‘n bietjie aan jou eie lewe. Watter leuens het hy onlangs vir jou vertel? Onthou, sy leuens kan so subtiel wees, dat jy nie eers agterkom dis leuens nie.
DIE GELOWIGE SE WAPEN.
God het geweet dat die duiwel ‘n gunsteling wapen het en daarom het Hy vir ons ‘n wapen gegee wat ons teen hom kan gebruik.
In Mattheus 4 lees ons hoe Jesus daardie wapen gebruik het om die aanvalle van die duiwel af te weer.
Elke keer wat die duiwel Hom probeer versoek het, het Jesus sy aanval met die waarheid van die Woord afgeweer.
“Maar Hy antwoord: “Daar staan geskryf…” (vs.4).
“Jesus sê vir hom: “Daar staan ook geskryf…” (vs.7).
“Toe sê Jesus vir hom: “Gaan weg, Satan! Want daar staan geskryf…” (vs.10).
In Efesiërs 6 lees ons van die wapenrusting van God wat ons as gelowiges moet opneem. Die eerste ding wat ons moet doen, is om onsself te omgord met die waarheid. Hierdie waarheid kry ons in die Woord van God. Wanneer ons met die waarheid omgord is, sal dit ons help om staande te bly wanneer die duiwel met sy leuens kom. Ons sal nie val vir sy leuens en halwe waarhede nie.
Verder lees ons ook dat ons die swaard van die Gees, die Woord van God, moet gebruik wanneer die duiwel aanval.
Ons hoef dus nie bang te wees vir die duiwel en sy leuens nie, want God het vir ons die nodige toerusting gegee om hom te weerstaan en ook te oorwin.
As jy meer wil weet oor die gelykenisse van Jesus, dan is die Gelykenisse van Jesus Bybelstudie net waarna jy op soek is. Dis ‘n selfstudie, waar jy nie net meer gaan leer oor Jesus se gelykenisse nie, maar ook oor die lesse wat Jesus deur die gelykenisse vir ons wil leer. Die stappe wat jy volg gaan jou ook help om te leer hoe om self Bybelstudie te doen.

HOE OM JOU WAPENS PRAKTIES TE GEBRUIK.
Ons weet nou God het vir ons die regte wapens gegee om teen die duiwel se leuens te veg. Maar hoe doen ons dit?
VRA GOD SE HULP.
Nie al die leuens wat die duiwel ons vertel is ooglopend leuens nie. Sommige is baie subtiele leuens of sulke halwe waarhede, dat ons nie eers agterkom dis leuens of halwe waarhede nie.
Vra dus die Here om jou te help om raak te sien wanneer jy besig is om te val vir ‘n leuen.
IDENTIFISEER LEUENS WAT JY GLO.
Almal van ons het leuens wat ons klaar glo.
Maak ‘n lys van leuens wat jy glo omtrent God, jouself, jou omstandighede, ensovoorts.
Vra die Here om jou te help om die lys so volledig as moontlik te maak.
Jy kan die lys in jou joernaal neerskryf, of sommer op ‘n gewone stuk papier, as jy nie ‘n joernaal het nie.
VERVANG DIE LEUENS MET GOD SE WAARHEID.
Noudat jy weet watter leuens jy glo, is dit tyd om teen daardie leuens te veg.
Jy doen dit deur in jou Bybel te soek na verse wat te doen het met die leuens wat jy glo. Wat sê God daaroor? Wat is die waarheid?
Trek nou ‘n streep deur die leuen wat jy glo en skryf die waarheid uit God se Woord langsaan neer. Lees elke dag daardie waarhede en sê dit sommer hardop vir jouself. Jy sal naderhand agterkom dat jy nie meer die leuen glo nie, maar wel die waarheid van God se Woord.
DIE WAARHEID MAAK VRY.
In Johannes 14:6a staan: “Jesus sê vir hom: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe…”
En in Johannes 8:31-32 lees ons: “As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels, en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak.”
As ons die waarheid ken en ons staan in daardie waarheid, sal dit ons vry maak van enige leuens wat die duiwel, of enige iemand anders, vir ons vertel.
Onthou, die duiwel het van Jesus af weggegaan toe Hy hom met die waarheid uit God se Woord gekonfronteer het.
Net so moet ek en jy hom ook met God se waarheid konfronteer. Ons moet die kragtige wapens wat God ons gegee het, gebruik. En hy sal ook van ons af wegvlug, want hy kan nie voor die waarheid staande bly nie!