Daar is baie dinge waaroor jy beheer het in die lewe. Neem beheer oor dié dinge en jy neem beheer oor jouself en oor jou lewe.
Daar is sommer baie dinge in die lewe waaroor ons nie beheer het nie. Ons het dit die afgelope paar jaar baie duidelik gesien toe ons nie veel beheer gehad het oor wat in die wêreld gebeur het en hoe ons daardeur geraak is nie. Maar dis ook waar dat daar dinge is waaroor ons, as individue, wel beheer het. Vandag gaan ons oor ‘n paar van hierdie dinge gesels.
JOU GEDAGTES.
Jy mag dalk dink dat jy nie beheer het oor dit wat in jou kop aangaan nie, maar dis nie waar nie. Ons het almal beheer oor ons gedagtes.
Jy kan, as jy agterkom dat jy besig is om aan iets negatiefs te dink, kies om daardie gedagte te stop en aan iets positiefs te dink.
Hoe doen ‘n mens dit?
‘n Maklike manier is om hardop oor iets wat positief is, te begin praat.
Jy kan byvoorbeeld hardop ‘n Bybelvers, wat jy gememoriseer het, opsê. Dit sal die negatiewe gedagte stop omdat dit jou fokus verander.
In Filippense 4:8 skryf Paulus: “Verder, broers, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat lof verdien, ja, watter deug of watter prysenswaardige saak daar ook mag wees: rig julle gedagtes daarop.”
Dit beteken ons is in beheer van ons gedagtes en waaroor ons dink. Ons moet net kies om beheer te neem.
JOU VERMOë OM IN DIE OOMBLIK TE LEEF.
Baie mense leef in die verlede. Hulle is die hele tyd besig om te dink aan alles wat in die verlede skeefgeloop het, wat mense aan hulle gedoen het, of wat hulle self gedoen of nie gedoen het nie.
Ander leef weer in die toekoms. Hulle bekommer hulle die hele tyd oor môre.
Hierdie dinge veroorsaak dat baie mense nie in die oomblik, in die hier en nou, leef nie.
Hulle fokus nie op dit wat hulle in die oomblik doen nie. Hulle geniet nie wat hulle in die oomblik doen nie.
As jy agterkom dat jy nie in die oomblik leef nie, onthou dan dat jy beheer het daaroor.
Jy kan kies om jou verlede, met God se hulp, te verwerk sodat dit jou nie meer pla nie.
Jy kan ook kies om die toekoms in God se hande te los en Hom te vertrou dat Hy in beheer is.
En dan kan jy elke dag vir daardie dag leef en daardie dag doen wat God jou geroep het om te doen.
HOE GOED JY LUISTER.
Dit lyk soms vir my of daar maar min mense is wat regtig luister wanneer ‘n mens praat.
Sommige is so besig om te dink aan wat hulle volgende vir jou wil sê, dat hulle nie hoor wat jy sê nie.
Of hulle is besig met hulle fone en hoor dan ook nie wat jy sê nie.
As jy na hierdie voorbeelde kyk, en daar is nog baie ander wat ek kan noem, sal jy moet erken dat ons beheer het oor hoe goed ons na ander luister.
Sit die foon neer en fokus op die persoon wat met jou praat. Luister na wat hy sê. Moenie dink aan wat jy gaan antwoord nie, want dan luister jy nie regtig nie.
In Spreuke 18:13 waarsku God ons: “Wie antwoord voordat hy luister – sotheid is sy deel, en ook vernedering.”
Onthou dus dat jy beheer het oor of jy na ander luister of nie, en kies om te luister.
JOU WOORDE.
Net soos ‘n mens beheer het oor wat in jou kop aangaan, het jy ook beheer oor wat by jou mond uitkom.
In Spreuke 10:19 staan: “Met baie praat bly die sonde nie uit nie; wie sy woorde tel, is verstandig.”
En in Efesiërs 4:29 lees ons: “Nie ‘n enkele afbrekende woord moet uit julle mond kom nie, maar eerder ‘n woord wat goed is vir noodsaaklike opbou, sodat dit voordeel mag bring vir diegene wat dit hoor.”
Jy kan dus kies of jy mense gaan opbou met jou woorde of hulle daarmee gaan afbreek.
Jy kan kies om stil te bly wanneer dit beter is en woorde net ‘n situasie gaan vererger.
En jy kan ook kies of dit wat by jou mond uitkom God verheerlik of jou getuienis vir Jesus skade doen.
WAT JY DOEN.
Ek en jy het ook beheer oor ons aksies, oor dit wat ons doen of nie doen nie.
Jy het beheer oor watter tyd van die oggend jy opstaan en wanneer jy gaan slaap.
Jy het beheer oor wat jy eet, of jy oefen en genoeg water drink.
Dan het jy ook beheer oor of jy hard werk of lyf wegsteek.
Verder het jy beheer oor wat jy op TV kyk, wat se boeke jy lees, na wat se musiek jy luister, wie jy op sosiale media volg.
En jy het beheer oor of jy jou Bybel lees en bid, of jy kerk toe gaan, ensovoorts.
Hierdie is maar net ‘n paar voorbeelde, maar ek hoop dit wys jou dat jy beheer het oor wat jy doen.
JOU BESLUITE.
Dan het ons ook beheer oor ons besluite, ons keuses.
Jy besluit, in ‘n groot mate, wat jy met jou tyd en geld doen.
Jy besluit wie jou vriende is, hoe jy ander mense behandel, of jy iemand gaan vergewe of nie.
En jy besluit hoe om jou kinders groot te maak, waar jy wil bly, met wie jy wil trou, ensovoorts.
Dis maklik om ander mense te blameer wanneer ons verkeerde besluite neem, maar as ons eerlik is, moet ons erken dat ons alleen verantwoordelik is vir die besluite wat ons neem.
NEEM BEHEER OOR JOU LEWE.
Hierdie is maar ‘n paar dinge waaroor ek en jy beheer het in die lewe.
Daar is nog ‘n hele klompie ander soos jou daaglikse roetine, jou prioriteite, jou waardes, jou werksetiek, of jy steeds elke dag iets nuuts leer, of jy in Jesus glo, ensovoorts.
Dink mooi daaroor en jy sal sien dat jy beheer het oor jouself en dinge wat met jou te doen het.
Die Bybel noem dit selfbeheersing.
Vandag wil ek jou aanmoedig om, met die hulp van die Heilige Gees, beheer te neem oor jou lewe deur beheer te neem oor jouself. Jy sal verbaas wees hoe jou lewe kan verander as jy begin om selfbeheersing toe te pas!