HOE OM JOU VREUGDE TERUG TE KRY

As ek jou vra wat die maklikste ding is wat ‘n mens kan verloor, wat sou jy antwoord? Jou bril? Jou karsleutel of selfoon? Of dalk jou beursie? Ons het al almal een van hierdie dinge verloor, of dalk liewer misplaas, want ‘n mens kry dit gewoonlik redelik gou weer as jy bietjie soek. Nee, die ding wat ‘n mens die heel maklikste verloor, is jou vreugde.

‘n Telefoonoproep, e-pos of nuusberig kan jou jou vreugde laat verloor. Maar daar is letterlik duisende ander maniere waarop jy dit ook kan verloor.

God wil egter nie hê Sy kinders moet vreugdeloos deur die lewe gaan nie. Vreugde is immers ‘n vrug van die Gees, so dis belangrik dat hierdie vrug in ons lewens sigbaar is.

Maar wat nou gemaak as jy klaar jou vreugde verloor het? Hoe kry jy dit terug?

Dis eintlik baie makliker as wat jy dink.

Hoe om jou vreugde terug te kry

Dink so ‘n bietjie oor jou verlede. Was daar ‘n tyd toe jy nader aan God was as nou? Het jy iewers in jou lewe meer vreugde in die Here gehad as nou?

As jy ‘ja’ antwoord op hierdie vrae, dan het jy al klaar ‘n ent gevorder, want die eerste stap is om te erken jy het jou vreugde verloor.

Die volgende stap is om uit te vind waarom jy jou vreugde verloor het.

Dink weer oor jou lewe en vra jouself hoekom jy jou vreugde verloor het. Is daar iets wat jou vreugde steel?

Daar is baie dinge wat ‘n mens se vreugde kan steel. Dit wat my vreugde steel gaan anders wees as dit wat joune steel. So word stil by die Here en vra Hom om jou te help om raak te sien wát jou vreugde steel.

En wanneer Hy jou wys, is dit tyd vir die volgende stap.

Die derde stap is om iets te doen aan dit wat jou vreugde steel.

Dalk wys God jou dat die nuus of sosiale media jou vreugde steel. Sny dit dan uit jou lewe of maak die tyd wat jy daaraan spandeer, baie minder.

Of dalk is daar iets wat God gesê het jy moet doen, wat jy nog nie gedoen het nie. Ongehoorsaamheid kan ook ‘n mens se vreugde steel! As dít is wat jou vreugde steel, gaan dan en doen wat God gesê het jy moet doen.

Net jy sal weet wat jou vreugde steel en wat jy daaraan moet doen om dit te verander. Doen dit!

‘n Mens kan so maklik gefokus raak op dit wat jy nié, of nog nie, in jou lewe het nie. En dis verseker ‘n manier om jou vreugde te verloor!

Die vierde stap is dus om te fokus op dankbaarheid.

Sien raak wat God jou klaar gegee het en klaar in jou lewe gedoen het. Maak sommer ‘n lysie van hierdie dinge. Soos jy aan nog dinge dink, voeg dit op jou lysie by.

Hou dan die lysie byderhand wanneer jy stiltetyd hou en sê vir God dankie vir van die dinge op die lys. Dit sal help om jou fokus te skuif van dit wat jy nóg nie het nie na dit wat jy klaar het. Dit sal ook jou dankbaarheidsspiere oefen!

Die vyfde stap wat jy moet neem om jou vreugde terug te kry, is om daagliks tyd met God te spandeer.

Die vyand weet tyd met God is dié belangrikste ding wat jy met jou tyd kan doen, en daarom sal hy enigiets in sy vermoë doen om te sorg dat jy te besig is daarvoor.

Jy besef dit dalk nie, maar God wil regtig graag tyd met jou spandeer.

Dis in die stil tye saam met Hom wat jy leer hoe Sy stem klink en om na Hom te luister. Dis dan wanneer jy hoor wat Sy spesifieke wil vir jou lewe is. In hierdie tye versterk en bemoedig Hy jou. Dis ook in die tye saam met Hom waar jy jou hart voor Hom oopmaak en alles in jou lewe in Sy hande plaas.

Onthou, hoe meer tyd jy saam met God spandeer, hoe dieper gaan jou verhouding met Hom wees. Jou vreugde gaan ook die hoogte inskiet, want in Sy Teenwoordigheid is daar oorvloedige vreugde (Psalm 16:11).

Dis nou maar eenmaal so dat ‘n mens geneig is om baie meer op jouself te fokus wanneer dinge in die lewe moeilik raak. En hoe meer jy op jouself fokus, hoe meer vreugde verloor jy.

Die sesde stap wat jy moet neem om jou vreugde terug te kry, is om maniere te soek om op ander te fokus deur te gee.

Wanneer daar gepraat word van ‘gee’, dink ons gewoonlik aan geld. Maar daar is soveel ander maniere waarop ‘n mens kan gee.

Jy kan van jou tyd, jou aandag en jou talente gee. Jy kan help waar iemand hulp nodig het, bemoedig waar bemoediging nodig is, troos waar vertroosting nodig is. Daar is soveel dinge wat jy kan gee – en geld is maar net een van hulle.

Maak dus ‘n punt daarvan om op die uitkyk te wees vir maniere hoe jy vir ander kan gee en hulle kan help. Dit sal jou help om op ander te fokus en jy sal beslis sien hoe jy meer vreugde in jou lewe ervaar.

Die laaste stap wat jy moet neem om jou vreugde terug te kry, is om vir iemand anders van Jesus te vertel.

Onthou jy Jesus het gesê daar is groot blydskap (vreugde) in die hemel wanneer ‘n sondaar hom bekeer? Daar was groot vreugde toe jý vir Jesus as Verlosser leer ken het. En daar sal groot vreugde in jou hart wees as jy iemand anders van Jesus vertel en dit maak sy oë oop vir wie God is en wat Hy doen.

Ons is partykeer te bang om vir mense van Jesus te vertel, omdat ons dink ons moet hulle oortuig Hy is hulle enigste hoop op redding. Maar dis nie jou werk om iemand te oortuig om Jesus as Verlosser aan te neem nie – dis die Heilige Gees se werk. Al wat jy moet doen, is om te vertel.

Vertel vir mense wat Jesus vir jou gedoen het. Getuig oor Sy liefde, Sy goedheid, Sy genade en vergifnis, Sy sorg, ensovoorts. Deel met ander wat Hy jou in jou stiltetyd geleer het. Dis alles maniere om vir ander van Jesus te vertel. En dis ‘n seker manier om jou vreugde terug te kry!

Al die stappe wat ek hierbo genoem het, gaan net suksesvol wees as jy dit met die hulp van die Here doen.

Onthou dus om Hom te vra om jou te help met elke stap. Vertrou Hom om jou te wys wat jy moet doen en hoe jy dit moet doen. Gaan dan en doen wat Hy sê en kyk hoe jy, stap vir stap, weer ‘n lewe van vreugde begin leef!

One thought on “HOE OM JOU VREUGDE TERUG TE KRY

  1. Odia

    Baie dankie vir die artikel. Ek volg u nou ook op Youtube en Facebook.
    Ek sal die stappe probeer.
    Odia 😁😁

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *