Is een van jou geestelike doelwitte vir die jaar om meer tyd met God te spandeer?
‘n Mens kan die beste intensies hê, maar as jy nie ‘n idee het hoe om meer tyd met Hom te spandeer nie, gaan dit nie gebeur nie.
Om jou met hierdie doelwit te help, het ek ‘n paar idees bymekaar gesit, wat jy kan gebruik.
Kies vir jou een en doen dit vir ‘n paar maande. Kies dan nog een, en voeg dit by. Hou so aan tot jy ‘n hele paar maniere het, wat jy gebruik om meer tyd met God te spandeer.
MAAK GOD JOU EERSTE PRIORITEIT.
As jy iets regtig graag wil doen, gaan jy tyd maak daarvoor. Dink maar aan jou eie doen-lysie vir elke dag. Jy sê dalk jy is te besig vir hierdie ding of daardie een, maar as dit iets is waaroor jy passievol is, iets wat regtig vir jou belangrik is, dan kry jy tyd in jou besige skedule om dit te doen.
Dieselfde moet gebeur met die tyd wat jy met God spandeer.
Moet julle tyd saam nie iewers op jou doen-lysie probeer invoeg nie. Maak tyd met Hom jou eerste prioriteit vir die dag en vul dan die res van jou tyd met die ander dinge wat jy moet doen.
MAAK GOED GEBRUIK VAN JOU TYD.
Ons het nie almal dieselfde skedule nie. Sommige mense het kinders en moet hulle tyd verdeel tussen huis, werk, skool, ensovoorts. Ander het nie kinders nie, maar doen weer ander dinge met hulle tyd.
Dit maak egter nie saak wat jou skedule is nie, die waarheid is dat almal hier en daar in die dag tyd het waar daar nie veel gebeur nie. Dink aan die kere wat jy byvoorbeeld in ‘n tou staan wanneer jy bank toe gaan. Gewoonlik gebruik ons daardie tyd om te kyk wat op sosiale media aangaan.
Maar dis die ideale tyd om tyd met God te spandeer. Lees die Bybel op jou foon of bid vir iemand. Jy kan ook daardie tyd gebruik om vir God dankie te sê vir dinge of te dink oor die verse wat jy daardie dag in die Bybel gelees het. Jy kan selfs jou oorfone insit en na geestelike musiek luister.
In plaas daarvan om die ekstra tyd wat ons het te gebruik om te kyk wat se e-posse ons gekry het of wat op sosiale media aangaan, kan ons hierdie tyd gebruik om stil te wees by God.
LUISTER NA DIE BYBEL.
Daar is baie verskillende maniere wat jy kan gebruik om na die Bybel te luister.
Daar is Bybel ‘apps’ wat jy op jou foon kan aflaai, waar die Bybel vir jou voorgelees word. Die YouVersion-app is een voorbeeld.
Daar is ook Bybel-webblaaie, waar die Bybel ook voorgelees word.
Jy het dalk nie altyd tyd om Bybel te lees nie, maar jy kan daarna luister terwyl jy iets anders doen.
Luister na die Bybel terwyl jy regmaak vir werk of terwyl jy werk toe ry. Of luister terwyl jy aandete voorberei of skottelgoed was.
Dis verbasend hoeveel tyd daar is waar mens besig is met ‘n taak wat nie jou aandag verg nie, wat jy kan gebruik om na die Bybel te luister. En natuurlik spandeer jy tyd met God wanneer jy na Sy Woord luister.
SING LOFLIEDERE IN DIE STORT.
Ek is nie iemand wat graag in die stort sing nie, maar ek weet daar is baie mense wat daarvan hou om dit te doen.
In plaas daarvan om die nuutste populêre liedjie in die stort te sing, sing ‘n loflied tot God.
Jy kan selfs ‘n ‘playlist’ met geestelike musiek maak en dit speel wanneer jy stort of bad. Dan het hoef jy nie a cappella te sing nie!
DOEN BYBEL-KUNS.
As jy kunstig is en mooi kan teken of verf, is dit ‘n goeie idee om ‘n vers of woord uit die Bybel te teken of te skilder.
En as jy nie so kunstig is nie, kan jy vir jou ‘n inkleurboek met Bybelverse koop en elke nou en dan ‘n bladsy inkleur. Daar is baie sulke inkleurboeke vir volwassenes wat jy kan gebruik.
Praat met God oor die vers of woord terwyl jy besig is om te teken, skilder of in te kleur. Dit lyk dalk ‘n onkonvensionele manier om tyd met God te spandeer, maar dit werk.
SLUIT AAN BY ‘N BYBELSTUDIE-GROEP.
As jy nog nie regtig voorheen Bybelstudie gedoen het nie, is dit ‘n goeie idee om by ‘n Bybelstudie-groep aan te sluit. Dis lekker om so iets in ‘n groep te doen. Dit sal jou nie net meer oor God en die Bybel leer nie, maar sal jou ook leer hoe jy self Bybelstudie kan doen.
En as daar nie ‘n Bybelstudie-groep in jou omgewing is nie, kan jy altyd ‘n vriend of vriendin vra om die Bybel saam met jou te studeer. Lees saam ‘n gedeelte uit die Bybel en gesels dan oor die dinge wat julle daaruit leer. Jy sal verbaas wees oor wat jy oor God kan leer wanneer jy luister na wat iemand anders geleer het!
As jy op soek is na ‘n Bybelstudie om hierdie jaar te doen, gaan loer gerus na die Bybelstudie oor Jesus se gelykenisse. Dit gaan jou nie net meer oor Sy gelykenisse leer nie, maar ook hoe om self Bybelstudie te doen.
GAAN OP ‘N GEESTELIKE WEGBREEK.
Om bietjie weg te kom van die daaglikse geskarrel is nie net goed vir vir jou liggaam nie, maar ook vir jou gees en siel. Wanneer ons ons vir ‘n rukkie afsluit van die wêreld daar buite, kan ons ‘n dieper ervaring met God hê.
Gaan dus van tyd tot tyd op ‘n geestelike wegbreek.
Dit hoef jou nie geld te kos nie. Jy kan iets so eenvoudig doen soos om ‘n middag in die park te spandeer. Maar jy kan ook, as jou finansies dit toelaat, vir ‘n naweek alleen weggaan.
Sorg net dat jy jou selfoon, en enige iets anders wat jou aandag kan aftrek, by die huis los. Of skakel ten minste jou selfoon af, as jy dit nie by die huis wil los nie.
Onthou, die idee is dat jy daardie tyd gebruik om tyd met God te spandeer. So vat jou Bybel en joernaal saam. Dis ook ‘n goeie idee om ‘n plan uit te werk van wat jy op jou wegbreek gaan doen. Jy kan byvoorbeeld jou Bybel lees, bid, in jou joernaal skryf, na geestelike musiek luister of na ‘n preek luister. Tussenin kan jy gaan stap of ‘n rukkie slaap of aan Bybel-kuns werk.
LEES GEESTELIKE BOEKE OF ARTIKELS OP DIE INTERNET.
Daar is baie oulike geestelike boeke en artikels op die internet, wat jy kan lees.
Soek skrywers, wat jy weet die waarheid oor God en die Woord skryf, en lees hulle boeke of artikels.
En as jy nie van lees nou nie, is daar altyd geestelike video’s op YouTube en geestelike programme op televisie. Maak weereens net seker die mense na wie jy kyk verkondig die waarheid uit die Woord.
GAAN KERK TOE.
In Hebreërs 10:24-25 lees ons: “Laat ons ons ook daarop toelê om mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade, sonder om ons eie samekoms te verwaarloos, soos sommige se gewoonte is; laat ons eerder mekaar aanmoedig, soveel te meer nog namate julle dié dag sien nader kom!”
Jy sien, om gereeld kerk toe te gaan is belangrik vir ‘n mens se geestelike groei. Dit gee ons die geleentheid om saam met ander te aanbid. Dit gee ons ook die geleentheid om verhoudings te bou, mekaar aan te moedig en te bemoedig. By ‘n kerkdiens het ons ook die geleentheid om meer oor God te leer. En natuurlik gee dit ons die geleentheid om verantwoordbaar teenoor mekaar te wees vir ons verhouding met God en ons geestelike groei.
Na 2020 is daar baie gelowiges wat nie teruggegaan het kerk toe nie. As jy op dié stadium nie gereeld kerk toe gaan nie, oorweeg dit om dit weer te begin doen. Dis die ideale plek om saam met ander gelowiges tyd met God te spandeer.
HOU ‘N DANKBAARHEIDSJOERNAAL.
Om ‘n dankbaarheidsjoernaal te hou, is ook ‘n goeie manier om tyd met God te spandeer.
Kry vir jou ‘n notaboek of joernaal en skryf elke dag ‘n paar dinge neer waarvoor jy dankbaar is.
Dit sal jou help om al die seëninge wat jy uit God se hand ontvang, raak te sien.
Onthou ook om, na jy dinge waarvoor jy dankbaar is in jou joernaal neergeskryf het, stil te word en God vir daardie dinge te dank.
SKRYF DIE WOORD.
Nog ‘n manier waarop jy meer tyd met God kan spandeer, is om die Woord te skryf.
Kry vir jou ‘n Bybelleesplan oor ‘n onderwerp of karakter in die Bybel waaroor jy meer wil leer. Maak dan ‘n punt daarvan om elke dag, of soveel kere ‘n week soos jy wil, een van die gedeeltes in die leesplan neer te skryf. Dis ‘n goeie manier om die Woord in jou hart te bêre.
Hier op Nader In Eenvoud is daar sommer ‘n hele klomp verskillende Bybelleesplanne beskikbaar. As jy so ‘n plan wil aflaai, vul jou gegewens hieronder in en jy sal toegang kry tot die Bybel Biblioteek, waar daar nie net leesplanne is nie, maar ook allerhande ander hulpmiddele vir jou tyd met God.
TYD MET GOD EN GEESTELIKE GROEI.
‘n Mens besef dit nie altyd nie, maar die enigste manier waarop jy geestelik gaan groei, is om daagliks tyd met God te spandeer. Dis ook die enigste manier waarop jy Hom beter gaan leer ken. En watter gelowige wil nie vir God beter ken nie?
So maak hierdie jaar ‘n punt daarvan om meer tyd in jou dag met God te spandeer.
Geen tyd met Hom is ooit vermorste tyd nie. Dis altyd geseënde en vrugbare tyd!