Gebed is ‘n belangrike aspek van ‘n gelowige se verhouding met God. As jy jou gebedslewe wil verbeter, hier is ‘n paar idees om jou te help.
Het jy al ooit gewonder of jou gebede ‘n verskil maak?
Dalk wonder jy of God jou gebede hoor en of Hy dit gaan verhoor.
Miskien dink jy dat jy nie ‘n diep en bevredigende gebedslewe het nie, maar jy sal dit graag wil verander.
Of dalk twyfel jy selfs dat jy enigsins weet hóé om te bid.
Gebed is iets wat vir elke kind van God belangrik is.
Jesus het vir ons gewys hoe nodig ons gebed het. Meer as een keer lees ons dat Hy na ‘n stil plek gegaan het, om daar te gaan bid (Markus 1:35; Mattheus 14:23).
En meeste gelowiges wil graag ‘n beter gebedslewe hê as wat hulle tans het.
HERE, LEER MY BID.
Een van die beste dinge wat jy kan doen om ‘n beter gebedslewe te hê, is om vir Jesus te vra om jou te leer om te bid.
Die dissipels het gevra, en Hy het nie nee gesê nie. Hy het nie gesê hulle behoort tog te weet hoe nie. Nee, Hy het hulle geleer (Lukas 11:1-13).
Vra die Here om jóú te leer bid.
Daar is sekere gebedsbeginsels wat vir almal dieselfde is, maar elkeen van ons het ons eie, unieke manier van hoe ons met God kommunikeer.
Ons is nie almal op dieselfde plek in ons verhouding met die Here nie. Party is al geestelik meer volwasse as ander. Daarom is dit belangrik dat ons die gebedsbeginsels na die Here toe vat en Hom vra, “Here, leer my hoe ek hierdie beginsel in my eie lewe moet toepas.”
MY GEBEDSLEWE VERSKIL VAN JOUNE.
Wanneer ons oor gebed praat, moet ons weet dat almal se gebedslewens gaan verskil.
‘n Ma van vier klein kindertjies kan nie dieselfde gebedslewe en gebedsroetine volg as ‘n ma wie se kinders al in die hoërskool is nie.
Een persoon se lewe is van so ‘n aard dat sy die eerste uur van haar dag in gebed kan spandeer terwyl die volgende persoon tyd met God in gebed in die aand spandeer wanneer almal gaan slaap het.
Moet dus nie jou gebedslewe met iemand anders s’n vergelyk nie.
Dit gaan jou net moedeloos maak en laat sleg voel oor jouself.
Elke mens is uniek en God het ‘n unieke plan vir jou – ook wat jou gebedslewe aan betref.
Onthou net altyd dat jy wel elke dag moet bid! Net omdat jy nie ure aan gebed kan spandeer nie, beteken nie jy hoef nou glad nie te bid nie. Vyftien minute is verseker beter as niks!
In Efesiërs 3:12 lees ons: “In ons verbondenheid met Hom en deur ons geloof in Hom kan ons met vrymoedigheid en vertroue na God gaan.”
Is dit nie wonderlik nie? Ons kan enige tyd met vrymoedigheid na God toe gaan.
Geloof in Jesus Christus maak die deur oop sodat ons met vrymoedigheid na die genadetroon toe kan gaan om barmhartigheid te verkry en genade te vind om op die regte tyd gehelp te word (Hebreërs 4:16).
LEES OOK: OM GOD SE BELOFTES TE BID
JOU GEBEDSLEWE: PERSOONLIK EN UNIEK.
Soos ek reeds gesê het, het elkeen van ons ‘n unieke persoonlikheid met unieke gawes en talente.
En, net soos God vir elkeen van ons ‘n unieke lewensplan het, het Hy ook vir elke mens ‘n unieke gebedsplan.
Elke mens het ‘n passie vir iets anders, en God wil daardie passie ook in ons gebedslewens gebruik.
Een persoon mag ‘n passie vir bejaardes hê, terwyl ‘n ander ‘n passie vir mense se geestelike groei of die minderbevoorregtes het.
Iemand anders se passie hoef nie joune te word nie.
Dit is wel ‘n goeie idee om te luister as ander praat oor die dinge waarvoor hulle bid. Dalk kan jy dit op jou lys ook sit. Maar bid met meer intensiteit vir die dinge wat die Here op jou hart lê.
As elke mens bid vir dié dinge wat die Here op haar hart lê, gaan alles waarvoor ons ooit kan bid, in gebed gedek word.
Leer meer oor ons gebedsbediening en skryf sommer in vir die gebedsbrief sodat jy ook saam kan bid!
DIE BELANGRIKSTE SLEUTEL TOT GEBED.
Ek het hierbo genoem dat jy vir Jesus moet vra om jou te leer bid.
Dit gaan jou gebedslewe baie verander.
Maar daar is ‘n sleutel tot gebed wat nog belangriker is.
Kom na God toe soos jy na ‘n Vriend toe sou kom.
‘n Mens kom met vrymoedigheid na jou vriende toe. Jy is nie bang of skaam vir hulle nie.
Wanneer jy na God toe kom soos jy na ‘n vriend toe sou kom, sal dit jou help om regtig met vrymoedigheid te kom.
Anders gaan jy nie die vrymoedigheid hê om Hom te vra vir die dinge wat jy nodig het nie. Dit kan selfs veroorsaak dat jou gebede wetties raak.
JOU VERHOUDING MET GOD.
Ek hoef dit seker nie vir jou te sê nie, want ek dink jy weet dit, maar ek sê dit in elk geval. ‘n Verhouding kos werk. ‘n Mens moet tyd saam met mekaar spandeer en dinge met mekaar deel. Vriende geniet mekaar en geniet ook die tyd wat hulle saam deurbring.
Dieselfde geld vir jou verhouding met God. Dit gaan ook tyd neem.
‘n Mens kan so naby aan God wees as wat jy wil. Dit hang van jou af hoeveel tyd jy in die verhouding wil insit.
Jy leer God beter ken deur tyd met Hom te spandeer in die Woord en in gebed. Jou vriendskap met God sal verdiep as jy gereeld tyd met Hom spandeer en Sy liefde en trou in jou lewe ervaar. Hy het belowe om jou nooit te verlaat nie. Hy is getrou, betroubaar, liefdevol en Hy vergewe altyd weer.
Laat die Here toe om deel te wees van jou lewe. Gesels deur die dag met Hom oor alles. Moenie net na Hom toe hardloop wanneer jy ‘n groot probleem het en desperaat is nie! Praat met Hom terwyl jy motor bestuur, jou hare doen, kos maak of die klere was en stryk.
Sien Hom as jou beste Vriend, met wie jy net mooi enige iets kan deel.
ABRAHAM, ‘N VRIEND VAN GOD.
In die Ou Testament lees ons hoe God vir Abraham vertel het wat Hy beplan het vir Sodom en Gomorra (Genesis 18).
Dit is wat ‘n mens doen wanneer jy vriende is met iemand. Julle gesels oor die dinge wat julle doen.
Julle beplan ook om dinge saam te doen.
In Genesis 18:23 staan Abraham het ‘nader gekom’ na die Here toe en Hom vrae begin vra oor Sy planne.
Hy kon dit doen omdat hy en God vriende was. Abraham het ingetree vir die mense van Sodom en Gomorra.
Hy het by God bly pleit tot hy naderhand gevra het of die Here van Sy planne sou afsien as daar net tien regverdiges in die twee stede gevind kon word. Die Here het ingestem.
Abraham kon hierdie hele gesprek met God hê omdat hulle ‘n intieme vriendskap gehad het.
LEES OOK: HOE OM GOD SE WOORD TE BID
JY IS OOK ‘N VRIEND VAN GOD.
God wil ook dinge met jou deel. Hy wil Sy wysheid met jou deel en jou lei om die regte keuses te maak.
Hy wil jou help om dinge te verstaan en jou help in jou daaglikse lewe.
God wil jou ook voorberei vir jou toekoms.
Dit alles gebeur wanneer jy tyd met Hom in gebed spandeer en so jou vriendskap met Hom opbou.
Nog iets wat nodig is om jou verhouding met God op te bou, is ‘n hart wat bereid is om gehoorsaam te wees aan Hom.
Dit beteken nie jy doen alles perfek en maak nooit ‘n fout nie.
Dit beteken eenvoudig dat jy nie opsetlik sonde doen en kyk waarmee jy kan wegkom nie.
Jy plaas die Here en Sy wil, soos dit vir ons in die Bybel uitgespel word, eerste in jou lewe.
Hy is jou Vriend en wil altyd net die beste vir jou hê. En, omdat jy Hom vertrou, is jy gehoorsaam aan Sy opdragte.
Leer meer oor ons gebedsbediening en skryf sommer in vir die gebedsbrief sodat jy ook saam kan bid!
FOKUS OP WIE GOD IS.
Jou vriendskap met God is gebasseer op wie Hy is, nie op wat Hy vir jou kan doen nie.
As jy net fokus op wat God vir jou kan doen, in plaas daarvan om te fokus op wie Hy is, gaan jou vriendskap met Hom skade ly.
Meeste van ons kan uit ondervinding praat van ‘n tyd toe ons agtergekom het dat iemand, wat ons beskou het as ‘n vriend, nie regtig een was nie.
Ons het almal al te doen gekry met mense wat jou vriend wil wees vir wat jy vir hulle kan gee en beteken, nie oor hulle regtig van jou hou nie.
Wanneer ‘n mens besef God is jou Vriend, gaan jy met meer geloof bid. Jy gaan ook gebede bid wat krag dra en berge kan versit. Jy gaan aanhou bid omdat jy weet jou Vriend het wat jy nodig het, en Hy sal dit vir jou gee.
As jy ‘n vriend van God is, baat ander ook daarby.
Soos Abraham vir die mense van Sodom en Gomorra ingetree het, kan jy vir ander by jou Vriend intree en ook vir hulle behoeftes bid.
BOU JOU VERHOUDING, BOU JOU GEBEDSLEWE.
Ek wil jou vandag uitdaag om elke dag tyd te maak om aan jou verhouding met die Here te werk.
Spandeer tyd met Hom in die Woord en in gebed.
Dink deur die dag gedurig aan Hom en praat ook met Hom.
Vra Hom om jou te leer bid.
En, soos jy bou aan jou verhouding met die Here, sal jy agterkom dat jy ook besig is om te bou aan jou gebedslewe!