BYBELLEESPLANNE VIR JOU STILTETYD

Bybelleesplanne is die ideale hulpmiddel om jou te help in jou stiltetyd. Nou hoef jy nie meer te wonder waar in die Bybel jy moet lees nie!

Bybelleesplanne vir jou stiltetyd

As jy al vir ‘n ruk artikels op hierdie blad lees, sal jy weet dat ek baie gereeld skryf oor die belangrikheid van die Bybel.

Om daagliks tyd in die Bybel te spandeer, is een van die beste dinge wat jy met jou tyd kan doen.

Die Bybel leer ons meer oor God – wie Hy is en wat Hy doen. Dit leer ons Sy karaktertrekke. Dit help ons om Sy stem te leer ken, sodat ons kan onderskei wanneer die Heilige Gees met ons praat.

Ons leer ook uit die Bybel wie ons is in Christus en wat ons alles het omdat ons erfgename van God is. Verder leer dit ons wat ons alles kan en moet doen as kinders van God.

Die Bybel is ook die voedsel wat ons gees nodig het. Daarsonder verswak ons gees.

Dan bou en versterk die Bybel ook ons geloof en leer ons wat se beloftes God alles aan ons gemaak het.

Dit leer ons die waarheid en wys ons wanneer ons ‘n leuen glo of op ‘n dwaalspoor is. Dit rus ons ook toe vir die goeie werke wat God vir elkeen van ons beplan het.

Die Bybel bemoedig, gee hoop en help ons om ons oë en gedagtes op die Here te fokus.

Sien jy waarom dit so belangrik is om elke dag tyd in Bybel te spandeer?

LEES OOK: VYF REDES WAAROM TYD IN DIE WOORD BELANGRIK IS

BYBELLEESPLANNE.

Het jy al agtergekom dat ‘n mens baie meer in ‘n dag gedoen kry wanneer jy ‘n plan het waarvolgens jy werk?

Dieselfde is waar van tyd in die Bybel.

As jy weet waar jy gaan lees wanneer jy jou stiltetyd hou, mors jy nie ‘n klomp tyd nie. Jy hoef nie rond te blaai in jou Bybel op soek na iets om te lees nie.

Nee, jy gaan eenvoudig jou Bybel oopmaak waar jy moet lees. Die kans is goed dat jy dan jou tyd beter gaan benut en baie meer daaruit gaan kry.

‘n Bybelleesplan is ideaal om jou hiermee te help.

VERSKEIE PLANNE.

Daar is sommer baie Bybelleesplanne op die Internet beskikbaar.

Sommige is so opgestel dat jy die Bybel in ‘n jaar deurlees. Ander help jou om dit in twee, drie of vyf jaar deur te lees.

Daar is planne wat handel oor ‘n spesifieke onderwerp, of ‘n spesifieke Bybelkarakter, of ‘n spesifieke gebeurtenis.

Jy kry planne wat elke dag van die maand vir jou ‘n gedeelte gee om te lees. Dan is daar ander wat byvoorbeeld net 21 dae lank is. Die korter planne gee jou die geleentheid om in te haal as jy dalk agter geraak het. En as jy as jy soms self wil kies wat om te lees, dan is só ‘n 21-dag plan net die ding.

MAANDELIKSE LEESPLAN.

Hier by Nader In Eenvoud kan jy elke maand ‘n nuwe Bybelleesplan aflaai.

Die planne is 21-dae planne, met ander woorde, jy het tyd om in te haal as jy agter geraak het. Of, as jy meer as een dag aan ‘n spesifieke gedeelte wil spandeer, dan kan jy dit ook doen.

Elke leesplan gaan oor ‘n spesifieke onderwerp. As jy dus meer oor ‘n onderwerp wil weet, dan kan jy een van die planne gebruik om jou te help.

Onderaan elke leesplan is ‘n paar vrae wat jy kan gebruik om jou te help om die teks te oordink.

Jy kan hier meer oor die Bybelleesplanne lees.

DIE HART BYBELLEESPLAN.

Meimaand se leesplan gaan oor die hart.

Jesus het onder andere vir ons in die gelykenis van die saaier geleer dat ons harte die grond is waarop die Woord gesaai word.

In Spreuke leer ons weer dat ‘n mens versigtig moet wees met wat in jou hart omgaan, omdat dit jou hele lewe bepaal.

En in Filippense leer ons dat ons alles na God toe moet bring in gebed en met danksegging, en dat Sy vrede sal wag hou oor ons harte en gedagtes.

Hierdie is maar ‘n paar van die dinge wat jy gaan lees en oor nadink in Meimaand se Bybelleesplan oor die hart.

As jy Meimaandse leesplan, of enige van ons ander planne wil aflaai, kliek hier.

BYBELLEESPLAN JOERNAAL.

Daar is ook ‘n ‘n Bybelleesplan Joernaal beskikbaar, wat jy saam met die Bybelleesplanne kan gebruik.

Elke dag het plek om die datum en Skrifgedeelte wat jy lees, neer te skryf.

Dan is daar plek om verskeie dinge soos wat God vir jou in die gedeelte sê en ‘n gebed neer te skryf.

Die Joernaal is opgestel vir ‘n 21-dae leesplan, maar jy kan dit saam met langer Bybelleesplanne ook gebruik. Druk net meer van die invul-bladsye, en siedaar – ‘n langer Joernaal!

TYD IN DIE BYBEL.

In Mattheus 4 sê Jesus die mens leef nie net van brood nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom.

Ons het dus geestelike kos nodig, wat ons kry uit die Woord.

Maak vandag nog ‘n plan om tyd in die Woord te spandeer.

Kry vir jou ‘n Bybelleesplan, ‘n joernaal of sommer gewone notaboek en pen, en begin om jou gees te voed met die Woord van God.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *