HOE OM STILTETYD TE HOU

Onthou jy nog jou eerste liefde? Julle kon nie wag om tyd saam te spandeer nie en het vir ure aaneen gesels. Op dié manier het julle mekaar beter leer ken. Jy het gou agtergekom waarvan hy hou of nie hou nie. Jy het geleer wat vir haar belangrik is en hoe haar kop werk. En jy het begin verstaan hoekom hy dinge doen soos hy dit doen.

Jy sien, ‘n verhouding word gebou op tyd saam spandeer en op kommunikasie. As ‘n mens nie tyd saam met iemand spandeer en met hom praat nie, gaan jy hom nie leer ken nie.

Dieselfde is waar van jou verhouding met God. Jy moet ook tyd met Hom spandeer en met Hom gesels – en na Hom luister! – sodat jy Hom beter kan leer ken. Die tyd wat jy met God spandeer, noem ons gewoonlik stiltetyd.

As jy nog nooit voorheen spesifieke tyd met God spandeer het nie, dan wonder jy dalk wat jy veronderstel is om in daardie tyd te doen? Ek is bly jy vra! Kom ons kyk na ses maklike dinge om te doen wanneer jy stiltetyd hou.

Hoe om stiltetyd te hou

Die eerste ding wat jy moet doen wanneer jy stiltetyd hou, is om eenvoudig te gaan sit en stil te word.

Haal ‘n paar keer diep asem en herinner jouself daaraan dat jy nou tyd met God gaan spandeer.

Wanneer jy seker is jy is stil en rustig, is dit tyd vir die volgende stap.

Ons het God nodig om ons te help om die Bybel, en die boodskap daarvan, te verstaan.

Daarom is die volgende ding wat jy gaan doen, om te bid.

Vra die Here om met jou te praat deur Sy Woord.

Vra Hom om jou te help om te verstaan wat jy lees en wat Hy daardeur vir jou wil sê.

Onthou ook om Hom te vra om jou te wys hoe jy dit wat jy lees en leer in jou lewe moet toepas.

Die derde stap is om ‘n gedeelte uit die Bybel te lees.

Kies ‘n gedeelte wat nie te lank is nie en lees dit stadig deur.

Hoe stadiger jy die gedeelte lees, hoe meer tyd het jy om te dink oor wat jy lees.

Jy kan selfs die hele gedeelte woord vir woord in jou notaboek of joernaal neerskryf. Op dié manier lees jy nog stadiger en gaan jy dalk beter ‘hoor’ wat God vir jou daardeur wil sê.

Dis waar dat ‘n mens dink oor wat jy lees terwyl jy lees. Maar moenie daar ophou nie!

Jou volgende stap is om na te dink oor wat jy gelees het en wat God vir jou sê.

Rol dit om en om in jou gedagtes. Bekyk dit van verskillende kante.

As daar iets is wat vir jou uitstaan, fokus daarop. Vra jouself hoekom dit uitstaan? Hoe hou dit verband met iets wat in jou lewe aangaan? Wat wil God daarmee vir jou sê?

Iemand skryf dat God in Sy groot liefde deur Sy Woord met ons praat. En dit wat Hy sê moet vir ons só belangrik wees, dat ons dit neerskryf.

Jou volgende stap is dan ook om neer te skryf wat God vir jou sê en uit Sy Woord leer.

Dit wat ‘n mens neerskryf, onthou jy beter as dit wat jy nié neerskryf nie. Hierdie stap gaan jou dus help onthou.

Dit gee jou ook ‘n rekord van wat jy al voorheen geleer het, wat jy weer later kan lees.

Ek het aan die begin gesê ‘n verhouding word gebou op tyd saam spandeer en op kommunikasie.

God het nou met jou deur Sy Woord gepraat. Nou is dit jou beurt om weer met Hom te praat.

Sê vir Hom dankie vir dit wat Hy jou geleer het. Gesels met Hom daaroor. Vertel Hom hoe jy dit verstaan en wat jy daaroor dink. En as jy iets nie verstaan nie, vra Hom uit daaroor.

Praat ook met Hom oor ander dinge wat vir jou belangrik is.

Vra Hom ook om jou te help om dit wat Hy jou geleer het, in jou lewe toe te pas.

Daar is meer as een manier waarop ‘n mens stiltetyd kan hou. Hierdie is ‘n eenvoudige plan, wat jou gaan help as jy nog nooit voorheen regtig tyd met God spandeer het nie.

Ek stel voor jy gebruik die plan hierbo vir ‘n ruk lank. Jy kan later ander dinge, soos om na geestelike musiek of ‘n preek te luister, byvoeg.

Maar begin vir eers met hierdie stappe. Kom in die gewoonte om tyd met God te spandeer deur na Hom te luister en met Hom te gesels.

Op dié manier gaan jy Hom beter leer ken en gaan jy, saam met Hom, aan julle verhouding werk!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *