God het ons nie almal dieselfde gemaak nie. Ons is almal uniek met ‘n unieke persoonlikheid en unieke talente en gawes. Dis dan ook geen wonder dat ons nie almal op dieselfde manier tyd saam met God kan spandeer nie.
Meeste van ons het al die tradisionele manier van tyd saam met God spandeer probeer. Dis nou om jou Bybel te lees, te dink oor wat jy gelees het en wat God jou daaruit leer, en te bid.
Maar hierdie manier werk nie vir alle mense nie. Baie wat dit probeer voel dat daar geen konneksie tussen hulle en God is nie.
In hierdie artikel gaan ons kyk na ‘n klompie minder tradisionele maniere wat jy kan gebruik om tyd met God te spandeer en met Hom te kommunikeer. As die tradisionele manier van tyd saam met God nie vir jou werk nie, kies een van die ander maniere hieronder en probeer dit. Hou aan om verskillende maniere te probeer totdat jy dié een kry wat net reg is vir jou.
ONTMOET GOD IN DIE NATUUR.
Baie mense voel die beste manier waarop hulle met God kan kommunikeer, is wanneer hulle in die natuur is. God praat ook baie keer met sulke mense deur dinge in die natuur.
Hier is vyf dinge wat jy kan probeer as jy ‘n natuurmens is:
- Gaan vir ‘n stappie deur jou buurt. Bid vir jou bure en vir almal in die omgewing terwyl jy stap.
- Hou jou stiltetyd in die tuin.
- Kyk hoe die son opkom. Loof en prys die Here vir wie Hy is en vir al die wonderlike dinge wat Hy gemaak het.
- Lê op die gras en kyk na die wolke. Dink oor wat God die afgelope tyd in jou lewe gedoen het en vra Hom om jou te help met die pad vorentoe.
- Gaan stap in die berge of langs die see. Oordink God se grootheid en majesteit terwyl jy stap.
GEBRUIK JOU SINTUIE.
Ons sintuie speel ‘n belangrike rol in ons lewens. Kies een van hierdie maniere waarop jy een van jou sintuie kan gebruik om tyd met God te spandeer en met Hom te kommunikeer:
- Gebruik jou oë – Gaan na verskillende kerkgeboue, wat in die week oop is sodat mense daar kan bid. Sit eers vir ‘n rukkie stil en kyk na alles rondom jou, voor jy God begin aanbid.
- Gebruik jou ore – Luister deur die dag na geestelike musiek.
- Gebruik jou neus – Steek ‘n kers wat lekker ruik aan en brand dit terwyl jy stiltetyd hou. Jy kan ook, as jy van die reuk hou, wierook gebruik.
- Gebruik jou smaaksintuig – Gebruik nagmaal en fokus op die smaak van die brood en druiwesap wanneer jy dit gebruik. Dank Jesus vir Sy offer aan die kruis. Dank Hom ook dat Hy nagmaal vir ons as gelowiges gegee het, sodat ons onsself kan herinner aan Sy dood en opstanding.
- Gebruik jou gevoelsintuig – As jy kunstig is, gebruik jou gunsteling kunsvorm en maak iets wat ‘n Bybelse betekenis het. Wees heeltyd bewus van hoe dit wat jy gebruik om mee te skep, in jou hande voel. Praat met die Here terwyl jy aan jou kunsstuk werk.
- Gebruik jou verbeelding – Lees ‘n verhaal uit die Bybel en verbeel jou dat jy een van die karakters in die verhaal is. Sien in jou verbeelding hoe alles om jou lyk. Hoor in jou verbeelding die stemme van die mense om jou. Gebruik jou verbeelding om die hele storie te beleef asof jy self daar is.
GEBRUIK RITUELE EN SIMBOLE.
Vir sommige mense is rituele en simbole belangrik in hulle ervaring met God. As dit vir jou belangrik is, dan gaan een van hierdie metodes dalk vir jou van waarde wees:
- Lees die Bybel hardop.
- Lees ‘n paar hoofstukke uit die Bybel – nie meer as drie nie. Praat dan met God oor wat jy gelees het en
oor wat jy oor Hom in die gedeelte geleer het. - Vier die belangrike seisoene en dae op die Kerkkalender. Dit sluit dinge soos Lydenstyd, Advent, Pinkster, ensovoorts in. Daar is allerhande boeke in boekwinkels beskikbaar, wat jou kan help om hierdie tye sinvol te vier.
- Stel die alarm op jou selfoon om elke uur gedurende die dag af te gaan. Wanneer die alarm afgaan, word vir ‘n paar minute stil voor God en praat met Hom oor jou dag.
- Lees die Bybel kronologies sodat jy beter verstaan hoe die gebeurtenisse in die Bybel inmekaar pas. Jy kan ‘n kronologiese leesplan gratis aflaai deur net jou inligting hieronder in te vul.
OM ALLEEN TE WEES EN DINGE EENVOUDIG TE HOU.
As jy soos ek is, dan verkies jy om alleen te wees wanneer jy tyd met God spandeer. Gebruik een van hierdie metodes om jou te help:
- Staan vroeg op en spandeer tyd saam met God voor die res van die gesin wakker word.
- Sit gereelde tyd opsy waar jy alleen is, sonder mense, selfone, jou doen-lysie, ensovoorts. Wees net stil by God en geniet Sy Teenwoordigheid.
- Maak al die dinge in jou huis, wat jy nie nodig het nie, bymekaar. Skenk dit aan organisasies wat minderbevoorregtes help.
- Sit spesifieke tye in jou dag opsy om op Jesus te fokus. Dit kan dinge insluit soos om te bid voor jy uit die bed klim, ‘n Bybelvers te memoriseer terwyl jy in die stort is, jou Bybel te lees tydens die uur wat jy middagete by die werk het.
- Bly wakker nadat die res van die gesin gaan slaap het. Fokus op gebed, danksegging en om net na God te luister.
DIEN ANDER.
Om ander te dien is iets wat elke Christen in sy of haar lewe moet doen. Maar vir sommige mense is dit ‘n manier waarop hulle met God kommunikeer en tyd met Hom spandeer. As dit waar is van jou, dan kan een van hierdie maniere jou help:
- Word deel van ‘n gebedsgroep, of begin self een, en bid saam met ander gelowiges vir die behoeftes van die gemeenskap.
- Doen hospitaalbesoek en bid vir siekes.
- Kies ‘n bejaarde persoon, wie se kinders hom of haar nie gereeld kan besoek nie, en gaan kuier een keer ‘n week vir hom of haar.
- Maak ‘n maaltyd vir iemand wat siek is of vir die gesin van ‘n ma wat pas ‘n baba gehad het.
- Bied aan om iemand in jou gemeente se kinders op te pas, sodat hulle ‘n bietjie alleentyd kan hê om dinge te doen waarby hulle nie gewoonlik uitkom nie.
JOU UNIEKE LEERSTYL.
Elkeen van ons het ‘n ander manier waarop ons leer. Party leer wanneer hulle dinge sien (visueel), ander wanneer hulle dinge hoor (oudio) en nog ander wanneer hulle fisies iets doen (kinesteties). Hier is vyf maniere wat jy kan gebruik om jou unieke leerstyl in te bring in jou verhouding met God.
- Skryf jou gebede in ‘n joernaal neer. Dit sal jou help om jou gedagtes gefokus te hou op wat jy besig is om te doen. (visueel)
- Luister na die Bybel op ‘n CD of op ‘n app op jou foon. (oudio)
- Maak ‘n skets van jou gunsteling Bybelvers en wat dit vir jou in jou lewe beteken. (kinesteties)
- Lees die Bybel hardop vir jouself. (oudio)
- Skryf die Bybelverse wat jy wil onthou op mooi papier of indekskaartjies en plak dit oral in jou huis op. (visueel)
NOG ‘N PAAR UNIEKE MANIERE.
Vir nog ‘n paar unieke manier van hoe jy tyd met God kan spandeer en met Hom kommunikeer, kliek op die video hieronder.