JOU GEESTELIKE DOELWITTE VIR DIE JAAR

Dis weer daardie tyd van die jaar waar mense dink oor hulle doelwitte (goals) vir die jaar. Party skryf ‘n lys doelwitte neer. Ander het sommer net ‘n paar Nuwejaarsvoorneme.

Dit maak nie saak wie ons is nie, mense het doelwitte – dié dinge wat hulle graag in hulle lewens wil bereik. Nie almal noem dit dalk ‘n doelwit nie. En nie almal s’n is neergeskryf nie. Maar ons het almal doelwitte.

Daar is diegene wat ‘n finansiële doelwit het. Dan is daar ander wat ‘n gesondheidsdoelwit het. Sommige het ‘n doelwit om iets nuuts te leer sodat hulle ‘n beter werk kan kry.

En dan is daar ook mense wat geestelike doelwitte het.

Geestelike doelwitte vir die jaar

WAT IS ‘N GEESTELIKE DOELWIT?

‘n Doelwit help jou om iets te bereik wat jy nog altyd wou bereik. Dit gee jou iets om na toe te werk. En, as jy jou doelwit en die aksiestappe wat jy moet neem om dit te bereik neerskryf, het jy sommer ‘n plan ook.

‘n Geestelike doelwit is een of ander stap wat jy neem sodat jy nader kan kom aan God. Dit help jou om geestelik te groei. ‘n Geestelike doelwit kan jou help om ‘n dieper verhouding met God en met mense te bou. Dit kan jou ook help om seker te maak dat jy elke dag die nodige geestelike voeding kry.

‘n Geestelike doelwit gee jou dus ook iets om heen te werk in jou verhouding met God.

GEESTELIKE DOELWITTE VIR DIE JAAR.

Ons is klaar in die tweede maand van die jaar. Maar gelukkig is die begin van ‘n nuwe jaar nie die enigste tyd wat ‘n mens ‘n doelwit vir jouself kan stel nie.

Dalk het jy ‘n paar doelwitte vir die jaar. Dalk het jy selfs ‘n geestelike doelwit of twee.

As jy egter nooit eers aan ‘n geestelike doelwit vir die jaar gedink het nie, dan is dit nou die geleentheid.

Sit ‘n tydjie opsy om te dink oor wat jy dié jaar in jou geestelike lewe wil bereik. Vra die Here om jou te help om die regte dinge te kies. Skryf dan jou geestelike doelwit of doelwitte vir die jaar neer. Moenie te veel dinge kies nie, want dan gaan jy moedeloos raak. En as mens moedeloos raak, gee jy maklik op.

As jy kan, dink ook aan ‘n paar aksiestappe wat jy kan neem om jou doelwit te bereik. Skryf dit ook neer sodat jy ‘n plan het om te volg. As jy net aan een aksiestap kan dink, skryf dit ook neer. Dan het jy ten minste iets wat jy kan doen om mee te begin.

IDEES VIR GEESTELIKE DOELWITTE.

Hier is ‘n paar idees van geestelike doelwitte wat jy oor kan dink vir hierdie jaar.

TYD IN DIE BYBEL ELKE DAG.

Op ons FB-groep vra ek vir nuwe lede waarmee hulle die meeste sukkel wanneer dit by die lees van hulle Bybel kom. Die antwoord wat ek die meeste kry, is dat mense nie tyd het nie.

As jy sukkel met tyd in die Bybel, omdat jy dink jy het nie tyd nie, dan is hierdie dalk net die doelwit vir jou.

Jy sien, ‘n mens het baie meer tyd as wat jy dink. Ja, ek weet ons het almal net 24 uur ‘n dag. Maar daar is baie dinge wat ‘n mens kan doen terwyl jy besig is om iets anders te doen.

Kom ek gee jou ‘n voorbeeld.

Meeste van ons het ‘n voltydse werk. By die werk kry jy ‘n halfuur of ‘n uur vir ete elke middag. Dis tyd wat jy kan gebruik om twee dinge gelyk te doen – eet en Bybellees.

Daar is mense wat van die huis af werk, maar meeste ry nog steeds elke dag werk toe. Dis weereens tyd wat jy vir meer as een ding kan gebruik – werk toe ry en na die oudio-Bybel luister.

En dan is daar die tye wat ons voor die TV sit. As die program nie vir jou interessant is nie, sit jou oorfone in jou ore en luister na ‘n oudio-Bybel.

Sien jy dat daar tog tyd is vir die Bybel?

LEES DEUR DIE BYBEL.

Baie mense sê dat hulle nog nooit die Bybel deurgelees het nie.

Dalk het jy dit ook nog nie gedoen nie. En dalk is dit iets wat jy graag sou wou doen.

Jy kan sommer in Genesis begin en elke dag ‘n hoofstuk lees. Dit gaan jou langer as ‘n jaar neem om die Bybel deur te lees, maar dit maak nie saak nie.

Jy kan ook ‘n leesplan gebruik. Hier by Nader In Eenvoud het ons drie verskillende leesplanne wat jy kan gebruik om die Bybel deur te lees. Daar is ‘n eenjaar-plan, ‘n driejaar-plan en ‘n kronologiese leesplan.

Vul net jou inligting hieronder in en jy kan die leesplanne aflaai.

BID ELKE DAG.

Martin Luther het gesê: “To be a Christian without prayer is no more possible than to be alive without breathing.”

Gebed is dié belangrikste ding wat jy met jou tyd kan doen.

As jy nie op ‘n daaglikse basis bid nie, dan is hiérdie die doelwit wat jy vir die jaar kan stel.

Sit elke dag tyd opsy om in gebed te spandeer. Maak vir jou ‘n lys van dinge waarvoor jy kan bid. Dis weereens jou plan sodat jy nie tydens jou gebedstyd sit en wonder waarvoor jy moet bid nie.

Onthou ook dat ‘n mens enige tyd en enige plek kan bid. Jy hoef nie jou oë toe te maak, te kniel of jou hande te vou om te bid nie.

As jy nie tyd opsy kan sit vir gebed nie, bid dan terwyl jy besig is om skottelgoed te was of wasgoed op te hang. Jou bestuurtyd werk toe kan gebruik word om te bid. Jy kan selfs bid terwyl jy besig is om dinge te doen waar jy nie regtig nodig het om te konsentreer nie.

En wat van wanneer jy in die bed klim? In plaas daarvan om rond te rol omdat jy nie kan slaap nie, bid! As jy in die nag wakker word, bid.

HOU ‘N GEESTELIKE JOERNAAL.

As jy lief is vir skryf, dan is hierdie doelwit ‘n goeie idee.

Kry vir jou ‘n joernaal, of sommer net ‘n gewone notaboek. Skryf elke dag jou tyd met God daarin neer. Ek hou so ‘n geestelike joernaal. Ek skryf gewoonlik ‘n vers of verse uit die Bybel neer en dan wat die Here my daaroor leer.

Soms skryf ek dinge neer waarvoor ek bid. Ek skryf ook neer wanneer, en hoe, die Here my gebede antwoord.

En as die Here my iets belangriks leer uit ‘n preek of ‘n artikel wat ek lees, skryf ek dit ook in my joernaal neer.

Op dié manier het ek ‘n geskrewe rekord van my tyd met God. Ek kan dit later weer deurlees en sien waaroor ons gesels het. Ek hoef ook nooit bang te wees dat ek gaan vergeet wat God vir my gesê het nie, want ek het dit neergeskryf.

GEE.

Ons dien ‘n God wat baie vrygewig is. Dit maak nie saak wat ‘n mens nodig het nie, Hy is altyd daar om dit in oorvloed te voorsien.

Omdat vrygewigheid een van Sy karaktertrekke is, en Hy altyd besig is om te gee, moet ons as Sy kinders dit ook doen.

Maak dus ‘om te gee’ jou doelwit vir die jaar.

Jy hoef nie noodwendig geld te gee nie.

Dink aan van die dinge wat Jesus gegee het. Hy het vir mense kos gegee toe hulle honger was (Markus 6). Vir siekes het Hy genesing gegee. Die lammes en dowes het Hy hulle bene en gehoor teruggegee, die blindes hulle sig. Hy het dooies opgewek en hulle vir hulle geliefdes teruggegee. Vir die mense wat Hy geleer het, het Hy Sy wysheid en kennis gegee. En toe het Hy Sy lewe gegee sodat ons gered kan word.

As jy nie geld het om te gee nie, gee van jou tyd. Sny die ou dame langsaan se gras. Gaan help by die plaaslike sopkombuis. Gaan doen inkopies vir die mamma wat siek is en nie self kan gaan nie. Lees die Bybel, of sommer ‘n storieboek, vir die blinde omie oorkant die straat.

Daar is soveel dinge wat ‘n mens vir ander kan doen wanneer jy bereid is om van jou tyd te gee.

LEES EN LUISTER.

Die Bybel is nie die enigste manier om God se Woord in jou hart te kry nie. Dalk lees jy klaar elke dag jou Bybel en is op soek na iets anders wat jy kan doen.

Dink dan daaroor om die volgende doelwitte te probeer:

Lees elke maand een of ander geestelike boek wat geskryf is deur ‘n goeie Christenskrywer.

Luister na preke wat ander gemeentes op hulle webblaaie plaas.

Kyk geestelike videos op YouTube. (Jy kan Nader In Eenvoud se YouTube-kanaal HIER kry.)

Of soek vir jou ‘n geestelike ‘podcast’ of drie waarna jy gereeld kan luister.

GAAN KERK TOE.

Tydens ‘lockdown’ het baie mense in die gewoonte gekom om nie meer kerkdienste by te woon nie.

As jy lanklaas in die kerk was, maak dit dan jou doelwit die jaar om weer te begin om kerkdienste by te woon.

Of jy kan dit jou doelwit maak om meer aktief deel te neem aan die dinge wat by jou kerk gebeur.

WAT IS JOU GEESTELIKE DOELWITTE VIR DIE JAAR?

Hierdie is maar ‘n paar idees wat jy kan gebruik om jou geestelike doelwitte vir die jaar op te stel.

Maar daar is soveel ander dinge wat jy ook nog kan doen.

Ek wil jou aanmoedig om tyd saam met God te spandeer en by Hom te hoor wat jou geestelike doelwitte vir die jaar moet wees.

Vertrou Hom dat Hy Sy begeertes in jou hart sal plaas en dat Hy jou sal help om presies die regte doelwitte te kies. Vertrou Hom dan ook dat Hy jou sal help om daardie doelwitte te bereik!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *