9 WENKE VIR ‘N BETER GEBEDSLEWE

Oral in die Bybel lees ons van mense wat gebid het, en hoe God hulle gebede beantwoord het. Soms lyk dit of gebed vir hierdie mense so maklik was, en dan raak ons bekommerd wanneer gebed nie vir óns so maklik is nie. Maar gebed hoef nie moeilik te wees nie. Om die waarheid te sê, gebed is iets wat jy kan geniet en wat eintlik sommer baie maklik kan wees. As jy graag ‘n beter gebedslewe wil hê, probeer dan hier nege wenke.

9 Wenke vir 'n beter gebedslewe

WENK 1: BID.

Jy kan nie ‘n beter gebedslewe hê as jy in die eerste plek nie bid nie.

Onthou jy Nike se slagspreuk (slogan)? Dit sê, “Just do it!”

Nou ja, as jy ‘n beter gebedslewe wil hê, dan moet hierdie slagspreuk jou inspirasie word. “Just do it!” Bid net!

Iemand wat ‘n musiekintrument leer speel moet gereeld oefen. Die oefening help byvoorbeeld om vingers meer los en soepel te maak. Dit leer jou tegnieke, ensovoorts.

Dit werk eintlik maar dieselfde met gebed. As jy begin bid en jy doen dit op ‘n gereelde basis, gaan jy meer geoefen raak. Dit gaan ook al makliker word en jy gaan dit beslis meer geniet.

WENK 2: WEES JOUSELF.

Party mense het die idee dat ‘n mens ‘n ander stemtoon moet gebruik wanneer jy bid as wat jy normaalweg gebruik wanneer jy praat. Ander dink weer hoë woorde is nodig wanneer jy bid. En daar is ook diegene wat dink gebed is net gebed as jy dit op jou knieë met jou hande gevou doen.

Maar dis nie waar nie. Gebed is eenvoudig om met God te praat soos ‘n mens met jou vader of jou vriend sal praat. En onthou, God is jou Vader en jou Vriend.

Wees dus jouself. Praat soos jy normaalweg praat. As jy, soos ek, gewoonlik jou taal bietjie meng en baie Engelse woorde tussenin gebruik, bid dan so. Moenie probeer bid soos jy iemand anders hoor bid het nie.

As jy net jouself is, gaan dit ook makliker wees om te bid en gaan jy vinniger ‘n beter gebedslewe hê.

WENK 3: SIT TYD OPSY.

Het jy al agtergekom dat, as jy jou stiltetyd of gebedstyd iewers in jou dag probleer inpas, kry jy gewoonlik nie tyd om dit te doen nie? Dinge gebeur en die vyand sal seker maak jou dag is só vol, dat gebed en Bybellees die laaste dinge is waarvoor jy tyd het.

Moet dus nie jou tyd met God iewers probeer inpas nie. Sit spesifieke tyd opsy om met Hom tyd in gebed en in Sy Woord te spandeer.

Ja, soms duik situasies op waar ons net tyd het om gou te vra vir God se hulp of wysheid, maar dit moenie die enigste kere wees wat ons bid nie.

Besluit op ‘n tyd wat jy opsy gaan sit om te bid en jou Bybel te lees. Dit kan in die oggend, in die aand of iewers deur die dag wees. Dit maak nie regtig saak wanneer jy dit doen nie, die belangrike is dát jy dit doen.

As jy bietjie sukkel hiermee, dan gaan hierdie video met wenke vir jou stiltetyd jou beslis help.

WENK 4: FOKUS OP GOD EN SY LIEFDE.

Ek weet nie van jou nie, maar soms klink my gebede soos ‘n inkopielys. Dit is die een ‘Here, gee my asseblief dit’ op die ander ‘Here, doen asseblief dat’. Ek dink ons almal trap partykeer in die slaggat waar ons net heeltyd bid vir dit wat ons nodig het of wat ons wil hê God moet vir ons doen.

Maar as ons fokus op God Self en op Sy liefde vir ons, gaan ons gebede uit meer as ‘n vra-lysie bestaan. Ons gaan Hom begin loof en prys vir wie Hy is. Ons gaan Hom begin dank vir dit wat Hy reeds gedoen het.

As jy dus ‘n beter gebedslewe wil hê, maak ‘n punt daarvan om jou gebed te begin deur op God te fokus. Herinner jouself aan wie Hy is en loof en prys Hom dan daarvoor. Onthou al die dinge wat Hy al vir jou gedoen het en sê sommer weer vir Hom dankie.

WENK 5: RUS IN JESUS SE WERK AAN DIE KRUIS.

Gebed herinner ons daaraan dat alles vervul is deur Jesus se dood en opstanding. Toe Hy gesterf het, het Hy gesê: “Dit is volbring!” (Johannes 19:30). Juis daarom kan ons rus in die werk wat Hy aan die kruis gedoen het. Ons hoef nie op een of ander manier God se guns te verdien nie. Dis klaar ons s’n omdat ons kinders van God is.

Wanneer ons dít in gedagte hou, sal ons met vrymoedigheid na God se troon van genade gaan (Hebreërs 4:16).

WENK 6: MAAK TYD OM TE LUISTER.

Ek het jare gelede drama studeer. In een van ons klasse moes ons gereeld monoloë doen. Dit was nou nie juis een van my gunsteling dinge nie, want ‘n monoloog kan maar moeilik wees. Jy is alleen op die verhoog. Daar is geen interaksie nie. Niemand antwoord terug as jy praat nie. En, sou jy jou woorde vergeet, is daar niemand wat met hulle deel van die stuk kan aangaan, en so die stilte verbreek en jou help onthou wat jy volgende moet sê nie.

Dalk is dít waarom gebed vir party mense moeilik is. Hulle dink dis ‘n monoloog, of alleenspraak. Hulle praat met God en as hulle klaar gepraat het, is die gesprek verby. Maar gebed is juis ‘n gesprek met God. Dis ‘n dialoog, nie ‘n monoloog nie. Ongelukkig mis ons baie keer die feit dat God met ons ook wil praat.

As jy ‘n beter gebedslewe wil hê, leer dan om te luister. God praat deur Sy Woord en deur Sy Gees. Maar as ons nooit stilbly en luister nie, gaan ons nie hoor wat Hy sê nie.

Aan die begin gaan jy dalk nie veel hoor nie. Maar moenie moed opgee nie. Moenie toelaat dat die duiwel jou oortuig jy kan nie God se stem hoor of dat Hy nie met jou praat nie. Jy is God se kind, een van Sy skape, en Sy skape hoor Sy stem en luister na Hom (Johannes 10:27). Hou maar net aan om elke dag in jou gebed te luister ook, en jy sal gou agterkom dat jy God se stem begin herken. Dit sal ook makliker word hoe meer jy na Hom luister.

WENK 7: VRA VIR DIT WAT JY NODIG HET.

In wenk 4 het ek gesê dat ons gebede uit meer as net ‘n inkopielysie of vra-lysie moet bestaan. Nou dink jy dalk dat jy nie veronderstel is om dinge vir God te vra nie, maar dis nie waar nie!

God wil hê dat ons vir Hóm vra vir die dinge wat ons nodig het. Hy weet reeds wat dit is, maar ons moet in elk geval vra. Hoekom? Want dit wys ons weet Hy is die een wat in ons behoeftes voorsien en dat ons Hom vertrou om dit te doen.

Maak dus ‘n punt daarvan om God te vra vir die dinge wat jy nodig het. Onthou net om met die regte motiewe te vra (Jakobus 4:3). As ons met verkeerde motiewe vra, gaan ons nie kry waarvoor ons gevra het nie.

Onthou ook om in geloof te vra (Jakobus 1:5-8). Geloof is soos ‘n hand wat jy uitsteek en vat wat God gee. Sonder geloof in God, dat Hy kan en sal voorsien wat jy nodig het, gaan jy ook nie kry wat jy vra nie.

WENK 8: WEES SPESIFIEK WANNEER JY VRA.

Moenie bang wees om spesifiek te wees wanneer jy vra nie. As jy byvoorbeeld bid vir ‘n geliefde wat God nie ken nie, moenie net vra dat hy gered word nie. Vra dat hy ‘n honger sal hê na God. Vra dat hy Jesus in jou sal sien en vrae sal hê en na jou toe kom met daardie vrae. En vra dat die Here jou sal help om dit te antwoord en dat, as Hy jou wil gebruik om dit te doen, dat jy hom na Jesus toe sal kan lei.

Om spesifiek te kan bid, moet ons weet wat God se wil is, sodat ons daarvolgens kan bid. God se wil word duidelik vir ons in die Woord uitgespel, daarom is dit belangrik dat ons weet wat in die Bybel staan.

Spandeer dus gereeld tyd met God in die Woord, sodat jy kan leer hoe om spesifiek, en volgens Sy wil, te bid. As jy nog nie presies weet hoe om dit te doen nie, moenie dat dit jou terughou nie. Bid steeds. Lees jou Bybel. En vertrou die Here dat Hy jou sal leer wat jy moet weet sodat jy spesifiek en volgens Sy wil kan bid.

WENK 9: Sê DANKIE.

Het jy al ooit iets vir iemand gedoen of gegee, maar nie ‘n dankie daarvoor gekry nie? Hoewel ‘n mens nie veronderstel is om dinge vir mense te gee en te doen net vir ‘n dankie nie, is dit tog lekker as iemand net daardeur erken dat hy of sy waardeer wat jy gedoen het.

God wil ook hê dat ons vir Hom dankie sê vir wat Hy vir ons doen en vir ons gee. Dis ‘n manier waarop ons sê ons weet dit kom van Hom af.

As jy ‘n beter gebedslewe wil hê, onthou dan om vir God dankie te sê. Maak ‘n lysie van die dinge en mense waarvoor jy bid. Sê sommer vir God dankie vir wat Hy gaan voorsien of doen nog voor Hy dit gedoen of voorsien het. En onthou dan om dankie te sê wanneer jy kry waarvoor jy gevra het.

MEER OOR GEBED.

As jy nog meer oor gebed wil leer, dan gaan hierdie vyf artikels jou beslis help:

Gebedsgids: Wat Elke Gelowige Moet Weet.

Gebedsmodel: Die Onse Vader Gebed.

Gebede Om Elke Dag Te Bid.

Gebed: Om Tot God Te Nader.

Hoe Om God Se Woord Te Bid.

Ek vertrou dat die 9 wenke hierbo, en ook die ander artikels oor gebed, jou gaan help om sommer gou ‘n beter gebedslewe te hê!

3 thoughts on “9 WENKE VIR ‘N BETER GEBEDSLEWE

  1. Jan Jeremia

    dis baie leer saam nogmaals dankie.

    • Risa Cronje

      Groot plesier! Bly dit het iets vir jou beteken.

  2. Santie Moodie

    Baie Dankie vir die baie spesiale en kosbare Boodskap .Gebed is so belangrike deel van ons Geloofsreis en Verhouding met Jesus Christus ons Vader.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *