JOU LIEFDESTAAL – GOD PRAAT DIT ELKE DAG

Hierdie artikel het voorheen in 2019 op Nader In Eenvoud verskyn as God Praat Jou Taal Van Liefde en God Praat Ook Jou Liefdestaal.

Jy het seker al die boek, Vyf Tale Van Die Liefde, deur Gary Chapman gelees. Daarin skryf hy dat mense liefde op verskillende maniere ervaar en bewys. Elkeen van ons het ‘n primêre liefdestaal. As iemand liefde aan jou op jou primêre manier bewys, dan weet jy sommer dat die persoon jou liefhet. Maar as die persoon een van die ander tale ‘praat’, dan voel jy nie dat hy/sy jou liefhet nie.

As jy nog nie die boek gelees het nie, dan wonder jy seker wat die vyf liefdestale nou eintlik is. Dit is opbouende woorde, kwaliteit-tyd, geskenke, diensbaarheid en fisiese aanraking.

Gary het ook ‘n boek met die naam, God Speaks Your Love Language, geskryf. In hierdie boek skryf hy dat God elkeen van die liefdestale volmaak ‘praat’. Vandag gaan ons ‘n bietjie hierna kyk.

God praat elke dag jou liefdestaal

GOD PRAAT DIE GESKENKE-LIEFDESTAAL.

Kom ons begin by die geskenke-liefdestaal.

Johannes 3:16 vertel ons van die grootste geskenk wat God gegee het. Daar staan: “God het die wêreld so liefgehad dat Hy Sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”

God het ons, vir jóú, só lief dat Hy Sy Seun gegee het om aan die kruis vir jou sondes te sterf, sodat jy weer in ‘n verhouding met Hom kan staan.

En Hy het nie daar opgehou nie. Romeine 8:32 sê: “Hy het Sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie?”

Jakobus sê ook: “Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo. Dit kom van die Vader wat die hemelligte geskep het, maar wat self nie soos hulle verander of verduister nie” (Jakobus 1:17).

Daar is niemand wat meer vrygewig is as God nie. Hy gee omdat Hy liefhet. As geskenke jou liefdestaal is, kyk net ‘n bietjie om jou rond. Jy sal oral sien hoe God jou daagliks oorlaai met geskenke van liefde.

DIE TAAL VAN OPBOUENDE WOORDE.

God ‘praat’ ook die taal van opbouende woorde sommer baie goed. Die Bybel is vol woorde wat ons opbou. God se woorde is vriendelik en geduldig en laat jou besef hoe baie Hy vir jou omgee.

Woorde soos:

“Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne” (Jesaja 43:1b).

“Omdat jy vir My kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet, gee Ek mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe” (Jesaja 43:4).

“Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in My liefde bly” (Johannes 15:9).

“Die heerlikheid wat U My gegee het, het Ek ook aan hulle gegee, sodat hulle een kan wees net soos Ons een is: Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees, sodat die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefhet net soos U My liefhet” (Johannes 17:22-23).

As opbouende woorde jou liefdestaal is, sal jy agterkom dat God byvoorbeeld vir jou ‘n bemoedigende vers in jou stiltetyd gee. Of Hy sal iemand na jou toe stuur wat vir jou presies sê wat jy nodig gehad het om te hoor.

Dit maak nie saak hoe God die opbouende woorde by jou kry nie, jy sal dit hoor as jou liefdestaal opbouende woorde is.

KWALITEIT-TYD AS LIEFDESTAAL.

Dalk is kwaliteit-tyd jou primêre liefdestaal. God ‘praat’ ook hierdie taal volmaak. Vir Hom is tyd saam met jou, tyd waar dit net jy en Hy is en waar julle net op mekaar kan fokus, baie belangrik.

God is, deur die Heilige Gees, altyd by ons. In Johannes 14:16-17 staan daar: “Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ‘n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees”.

En God het belowe om ons nooit te verlaat nie: “God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie” (Hebreërs 13:5).

Maar Hy het ook belowe dat, as jy kwaliteit-tyd met Hom nodig het, Hy daar is om tyd met jou spandeer. Lees wat sê Jakobus 4:8a:”Nader tot God en Hy sal tot julle nader”. (Die Engels sê dit net soveel mooier: “Come close to God, and God will come close to you.”)

DIE LIEFDESTAAL VAN DIENSBAARHEID OF DADE.

As diensbaarheid of dade jou primêre liefdestaal is, kan jy verseker weet God ‘praat’ dit ook baie goed.

Die Vader het Sy groot liefde aan ons bewys deur Sy eniggebore Seun te stuur. Jesus het weer Sy liefde bewys deur iets te doen wat net Hy kon doen. Hy gee Sy lewe aan die kruis. Hy, wat geen sonde geken het nie, word sonde in ons plek sodat ons met God versoen kan word en Sy kinders kan wees.

Nog nooit het iemand ander mense op so ‘n manier gedien nie, en niemand sal dit ooit in die toekoms doen nie.

Na God die Israeliete uit Egipte gelei het, bewys Hy Sy liefde aan hulle deur dade (diensbaarheid) in antwoord op hulle gebede. Vyande word verslaan, siektes word genees, en droogtes word beïndig. Dit alles gebeur in antwoord op gebed.

God is steeds besig om Sy liefde aan ons te bewys deur Sy dade.

Die Here voorsien in ons daaglikse behoeftes. Hy hoor en gee reën as ons daarvoor vra. Hy maak siekes gesond en beskerm ons elke dag. Kyk maar net om jou rond, en jy sal elke dag jou vinger kan lê op talle dinge wat God doen in jou lewe.

FISIESE AANRAKING AS LIEFDESTAAL.

Laastens is daar fisiese aanraking. En miskien is hierdie een jóú liefdestaal, want jy voel eers regtig iemand se liefde wanneer hulle aan jou raak. Jy mag dink dat dit vir God ‘n bietjie moeilik gaan wees om hierdie taal te ‘praat’ aangesien jy Hom nie kan sien nie. Maar dis nie waar nie, want ook in hierdie taal is Hy vloeiend.

Mense wat fisiese aanraking as liefdestaal het, is gewoonlik diegene wat makliker God se teenwoordigheid by hulle voel. Ek het al gehoor mense beskryf dit as ‘n warmte wat oor hulle kom of iets soos wind wat by hulle verbygaan. Dit is ook wanneer jou emosies op so ‘n manier geraak word en jy God ervaar in die vreugde en vrede wat in jou opborrel. Of wanneer iemand vir jou bid terwyl hulle net jou hand vashou, en jy bewus raak van God by jou.

Jesus het gereeld mense aangeraak. Onthou jy die melaatse wat na Jesus toe gekom het en vir Hom gesê het, “Here, as U wil, kan U my gesond maak”? Jesus het hom aangeraak en vir hom gesê: “Ek wil. Word gesond!” En sy melaatsheid was onmiddellik weg.

Of wat van die keer toe Jesus Sy dissipels se voete gewas het? Slawe het gewoonlik hierdie werk gedoen. Maar hier is die Seun van God besig om Sy liefde aan die dissipels te wys. Hy vat nie net aan hulle nie, maar bewys ook ‘n daad van diensbaarheid.

GOD PRAAT JOU LIEFDESTAAL.

Jy sien, dit maak nie saak wat jou liefdestaal is nie, God kan dit beter ‘praat’ as enige iemand anders. En die beste van alles, Hy ‘praat ook al die ander liefdestale teenoor jou om jou elke dag oor en oor te verseker dat Hy jou liefhet!

God is liefde, en liefde is die motief vir alles wat Hy doen. Dit maak nie saak wat jou primêre liefdestaal is nie, God ‘praat’ dit volmaak. En Hy verstaan presies wat jy sê wanneer jy daardie taal teenoor Hom ‘praat’.

Ek wil jou uitdaag om elke dag ‘n punt daarvan te maak om bewus te raak van die verskillende maniere waarop God Sy liefde aan jou bewys. Selfs al is die liefdestaal wat Hy op die oomblik ‘praat’, nie jou primêre een nie, sien dit ook raak.

God het jou lief, en Hy wys dit elke dag op verskillende maniere vir jou. Jy moet net jou oë oopmaak!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *