As jy ‘n gelowige is, dan is jy skoongewas deur Jesus. Jou sondes is weggewas en jy is beklee met Sy mantel van geregtigheid.
‘N STORIE OOR SKOON KLERE.
‘n Kennis vertel nou die dag vir my hierdie storie oor haar kinderjare.
Sy het op ‘n plaas grootgeword. Elke dag na skool het sy en haar broers en susters in die veld gaan speel. Daar was vir hulle niks lekkerder as om in die water en modder te speel nie. Die gevolg? Aan die einde van elke dag was hulle amper so vuil soos varkies!
Elke sondag na kerk het haar een oom, tante en niggies kom kuier. Haar tante het die gewoonte gehad om die niggies die mooiste rokke te laat aantrek – valletjies net waar jy kyk. En elke Sondag het die niggies saam met hulle gaan speel. Sy en haar boeties en sussies en natuurlik seker gemaak die niggies word ekstra vuil!
Jy kan jou voorstel dat die ma nie baie beïndruk was daarmee nie. Sy het al die moeite gedoen om haar dogters mooi aan te trek. Na hulle speeltyd was hulle egter so vuil dat sy hulle skaars herken het!
In plaas daarvan om klere saam te bring, wat hulle kon aantrek om buite mee te speel, het sy maar net aangehou om hulle mooi rokkies te laat aantrek. En elke Sondag het sy kwaad geword as die kinders vuil by die huis aankom.
Ek het die verhaal baie snaaks gevind. Kon my net voorstel hoe ontsteld die ma elke Sondag was. En om te dink, daar was so ‘n maklike oplossig vir die probleem! Maar sy het skynbaar nooit daaraan gedink nie.
GEESTELIKE SKOON GEWAS.
In Johannes 13:1-10 lees ons die verhaal van die dag toe Jesus die voete van Sy dissipels gewas het.
Toe Hy egter by Petrus kom, sê hy vir Hom, “Here, gaan Ú mý voete was?”
Jesus het geantwoord, “Wat Ek doen, begryp jy nie nóú nie, maar later sal jy dit verstaan.”
Petrus het egter geprotesteer. Hy wou nie vir Jesus toelaat om sy voete te was nie.
Toe sê Jesus vir hom, “As Ek jou nie was nie, het jy nie deel aan My nie.” Hierop het Petrus geantwoord, “Here, dan nie net my voete nie, maar ook my hande en my gesig.”
Jesus antwoord toe weer, “Hy wat klaar gebad het, is heeltemal skoon; hy hoef later niks meer as sy voete te was nie.”
Die ma in die verhaal hierbo het nooit daaraan gedink dat speelklere die oplossing vir haar probleem was nie. Sy het elke keer net kwaad geword omdat hulle vuil geword het.
As gevolg van sonde is die hele mensdom ‘vuil’. Maar ons hoef nie vuil te bly nie! Jesus het vir ons die perfekte oplossing vir ons ‘vuil-wees’ probleem gegee.
Sy bloed reinig ons van alle sonde en alle ongeregtigheid.
As gevolg van Hom is ons as gelowiges skoon, heeltemal skoon.
Die Vader sal nooit na ons kyk en ‘vuil’ mense sien nie. Hy sien nie meer ons sondes en ongeregtigheid nie, want Jesus het dit weggeneem asof dit nooit gebeur het nie.
LEES OOK: BYBELVERSE OOR VERGIFNIS
JOU MANTEL VAN GEREGTIGHEID.
Op ‘n manier het Hy vir ons ander, skoon klere gegee. Hy het ons klere wat vuil was met sonde uitgetrek en ons “beklee met die klere van heil”, ons toegewikkel in die mantel van geregtigheid (Jesaja 62:10, O.V.).
Het jy al hierdie wonderlike geskenk, wat die Here na jou toe uithou, geneem?
Het jy toegelaat dat Hy jou skoon was en jou toewikkel in Sy mantel van geregtigheid?
Moenie langer huiwer nie.
Kom na Hom toe en sodat Hy jou kan skoonmaak, sodat jy heeltemal skoon is.
Laat Hom toe om jou te beklee met die klere van heil en jou toe te wikkel in Sy perfekte mantel van geregtigheid.
Moenie verder uitstel nie.
Doen dit sommer vandag nog!
Kom nou en word skoongewas deur Jesus se bloed.